ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Drink die koffie soos die kan dit skink

First published in Rapport, December 2019

 Dit kom nie by moerkoffie

Die Turke leef hiervolgens - Bly kalm en drink (net) koffie

Die Turke leef hiervolgens – Bly kalm en drink (net) koffie

‘n Ethiopiese legende lui dat ‘n bokwagter genaamd Kaldi eeue gelede koffie ontdek het. Of om meer spesifiek te wees – Kaldi se bokke het die koffiebone ontdek. Kaldi het opgelet dat sy bokke ekstra woema gehad het na hulle helderrooi bessies van ‘n sekere boom geëet het.

Kaldi het vir die ab van die plaaslike klooster (abdy) hiervan vertel. Die ab het dieselfde bessies gebruik om ‘n drankie voor te berei en toe agtergekom dat hy vir langer kon bid ná hy dit gedrink het. Van hier het die woord versprei tot waar koffie vandag een van die gewildste drankies ter wêreld is.

Hoe koffie deur die wêreld begin versprei het

Volgens Wikipedia het koffie vanaf Ethiopië na Egipte en Jemen versprei, vandaar na Persië, Turkye en die res van Noord-Afrika. Hierna het eers die Venesiërs en toe die res van Italië en Europa koffie leer ken.

‘n Ou Ethiopiese idioom lui: Abole, Berke, Sostga – een, twee, drie koppies, en dan is ons vir altyd vriende. Onder baie Ethiopiërs is dit juis tradisie om drie koppies koffie na mekaar te drink.

‘n Afrikaanse idioom lui weer: Hulle is lief vir koffie drink. Dit beteken egter eerder dat ‘hulle’ graag skinder!

Koffiedrink in Turkye

Die woord ‘koffie’ kom van die Turkse woord vir koffie, ‘kahve’, wat op sy beurt van die Arabiese woord ‘qahwa’ of ‘kava’ afstam; dit beteken ‘stimulerende drankie’.

In Turkye drink ‘n mens klein vingerhoedkoppies vol robuuste koffie; onderin lê die moer dik en jy moet versigtig sluk om nie met ‘n mondvol hiervan opgeskeep te sit nie. Turkse koffie is so sterk dat dit proe of jy dit met ‘n mes kan sny!

Daar is selfs Turke wat die koffiemoer gebruik om die koffiedrinker se fortuin te vertel!

Turkse koffie word in ‘n spesiale koperpotjie met ‘n houthandvatsel, wat ‘n ‘ibrik’ of ‘cezve’ genoem word, gemaak. Die ibrik het ‘n smal nek en ‘n wye onderkant; ‘n wye bodem sorg vir egalige verhitting en die nou nek is waar die skuim opbou. Turkse koffie word drie keer tot kookpunt gebring voor dit bedien word.

Daar word vertel dat Turkse bruidegomme destyds op hul huweliksdag ‘n belofte aan hul bruide moes aflê dat daar ten alle tye genoeg koffie in die huis sou wees. Sou hulle nie aan hierdie voorwaarde voldoen nie, sou dit grondige rede vir ‘n egskeiding wees.

Die Turke neem hul koffie ernstig op. ‘n Turkse idioom lui: Koffie moet so swart soos die hel, so sterk soos die dood en so soet soos die liefde wees. Die Turke is inderdaad lief vir koffie met baie suiker.

Kasaterwater in Saoedi-Arabië

In Saoedi-Arabië is die tradisionele Arabiese koffie afgewater; dis maar moeë (flou) koffie wat amper soos skottelgoedwater lyk. Kardemom, naeltjies, gemmer en saffraan word soms by die kommetjies koffie gevoeg.

In dié Midde-Oosterse land hoort ‘n vrou én ‘n koffiekan in die huis, word daar geglo.

Nie net Starbucks in Seattle

Die eerste Starbucks het in Seattle, Amerika die lewenslig aanskou. Die oorspronklike winkel, hoewel hulle op ‘n stadium van adres verwissel het, kan nog nog steeds by Pike Place Market in Seattle besoek word en nie veel het aan die binnekant verander nie.

Die Oorspronklike Starbucks, soos dit bekend staan, is ‘n toeriste-attraksie en is die meeste dae van die week tjok en blok vol. Die winkel is minder as 100 vierkante meter groot. Om ‘n foto te neem, is ‘n saak van onmoontlikheid weens die rye en rye mense wat binne én buite staan.

Dié Starbucks het reeds in 1971 sy deure geopen. Vir die eerste tien jaar het hulle slegs grootmaat koffie, -tee en –speserye verkoop asook koffiebone gerooster; eers later is ‘n koffiewinkel oopgemaak. Tot vandag toe is die Starbucks-winkel by Pike Place Market die enigste Starbucks wat nie eetgoed ook verkoop nie. Dit was een van die oorspronklike kondisies waaronder hulle by die Pike-mark kon handel dryf; die tradisie is nooit verander nie.

Binne die eerste Starbucks-winkel is daar ‘n paar dekorelemente wat uitstaan: die leer op die espressokroegtoonbank is oorskietleer wat vanaf skoen- en motorfabrieke verkry is; die naamborde is van herwinde leiklip wat van ‘n plaaslike skool verkry is en die muurtapisserie is van ou koffiesakke.

Die eerste koffiewinkel van die Seattle Coffee Company is in 1993 deur ‘n getroude egpaar van Seattle in Londen geopen. In 1998 het Starbucks hulle uitgekoop.

Seattle is een van die Amerikaanse stede wat die meeste Starbucks-koffiewinkels het (New York is met 241 takke die wenner; Seattle het 133 takke). Nie net sien jy ook sommer maklik elke paar honderd meter ‘n tak van Seattle Coffee Company in Seattle nie; jy sien ook nog elke paar blokke ‘n koffiewinkel in privaatbesit wat saam met al die ander koffiewinkels ewe druk besoek word. Seattle is inderdaad die koffiehoofstad van Amerika.

Die tydskrif Experience Wa, ‘n toeristegids vir besoekers aan die deelstaat Washington, berig dat daar meer as 1600 koffiewinkels slegs in Seattle is.

Koffiestatistieke wat ek raakgelees het, gee weer dat 64% van Amerikaners elke dag koffie drink. Die gemiddelde Amerikaner drink meer as drie koppies koffie per dag. In totaal word daar 400 miljoen koppies koffie per dag in Amerika gedrink. Jaarliks drink Amerikaners 146 miljard koppies koffie.

By Biscuit Bitch is niemand vol nonsies nie

By Biscuit Bitch is niemand vol nonsies nie

Die slagspreuk van die Biscuit Bitch-koffiewinkels in Seattle is ‘Van die treilerpark na die tafel’. Dis waar die stadsjapies van Seattle saam met die toeriste wat die stad besoek, uithang. Hier hoef jy nie skaam te wees om aanwysings te vra nie; die musiek pomp terwyl jy koffie drink en die personeel voer soms danspassies uit terwyl hulle vir jou “Kickass Espresso” aangee.

Daar is 12 takke van Cherry Street Coffee House in Seattle. Elke tak het sy eie dekor. Cherry Street Coffee House fokus daarop dat al hul barista’s kwaliteitopleiding ondergaan.

‘n Maand in Amerika het my nie oortuig dat hul koffie naby ‘n goeie koppie boeretroos kom nie. Nee wat, hulle koffie is vol vlieë, oftewel, hulle misgis hulle. ‘n Goeie koppie moerkoffie bly maar die beste!

* * *

Meer oor koffie:

* * *

 ‘n “Cup of Joe’ is ‘n koppie koffie in Amerika

Waar hierdie speelse term vandaan kom, is niemand meer seker nie. Volgens een teorie het vlootmatrose meer koffie begin drink na Vlootsekretaris Josephus Daniels, wat kortweg Joe genoem is, alkohol aan boord van die vlootskepe verbied het. Volgens ‘n ander teorie is dit bloot ‘n samevoeging van ‘mocha-java’ wat eers in die spreektaal na ‘mo-jo’ verkort is en oplaas na bloot ‘joe’.

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 28, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .