ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Tussen stasies (en kerke)

First published in Rapport, October 2016

Ons wonder wanneer laas hierdie kerkklok gelui het

Ons wonder wanneer laas hierdie kerkklok gelui het

Die dag toe (baie van) die treine ophou loop het, het dit ook vir baie van die gehuggies en ou stasies die sinjaal laat val.

Met elmboog wat by die venster uitsteek en die pad wat onder ons sing, ry ons Klipplaat binne. Klipplaat is ‘n nedersetting – eintlik deesdae meer van ‘n gehuggie – in die westelike Oos-Kaap en was altyd bekend as ‘n spoorwegaansluiting. Die naaste dorp is Jansenville.

Die eerste trein het op 3 Februarie 1879 ingestoom. Dit was goeie nuus vir die boere van die distrik, want nou kon hul wol, mohair en ander produkte per spoor na Port Elizabeth vervoer word. Die lyn van die noorde het hier by die Kaapstad-na-Port-Elizabeth-lyn aangesluit. Dit het ook beteken dat boerderybedrywighede uitgebrei kon word.

Vyftig dorpserwe is ‘n paar jaar daarna uitgelê en verkoop en nog later is ‘n polisiestasie, poskantoor en kerke opgerig.

As jy nou Klipplaat binnery, kry jy ‘n indruk van verwaarlosing en leeggelooptheid. Hoewel ook ietwat verwaarloos, vang jou oog tog die NG Kerk, die Anglikaanse Kerk en die Metodiste Kerk wat steeds hier kleim afsteek.

By die polisiestasie, wat soos ‘n pophuisie lyk, glimlag die konstabel trots toe ons vertel hoe mooi die stasie met sy houtsneebalkon en blou polisielantern met voëlnessie binne-in is.

Aan die ander kant van die pad staan ‘n eensame, verroeste lokomotief wat as SAR Klas 15AR Nommer 1840 bekend staan. Klaarblyklik word hierdie lokomotief namens die Transnet Erfenis Bewaringsvereniging hier tussen die onkruid ‘gestoor’.

Selfs Koningin Elisabeth het al by Klipplaat aangedoen. Dit was in 1947, sy was toe nog ‘n prinses en die storie lui dat sy vir die plaaslike winkeleienaar gevra het watter soort tandepasta hul aanhou.

Klipplaat is ‘n gewilde stilhouplek vir motorfietsryers wat graag hul ysterperde voor hierdie logge lokomotief kom afneem.

Van Klipplaat, op die R338, is dit nie te ver na Mount Stewart, ‘n gewese sylynstasie, nie. Net soos by Klipplaat is daar bykans niks van die stasie of platform oor nie.

Behalwe vir twee kerkies is dit al wat van Mount Stewart oorgebly het

Behalwe vir twee kerkies is dit al wat van Mount Stewart oorgebly het

Hier is net ‘n handvol geboue waaronder twee kerkies reg oorkant mekaar. Een kerkie is omhein; ‘n klok staan wag by die hekkie. Rooi dakverf skilfer af, maar die vensters is nog heel. Op die gedenksteen staan: “To the glory of God. This stone was laid by J.H. Cawood June 1904.”

Die ander kerkie is vervalle en uile het binne nes gemaak. Die vloer is oortrek van voëlmis. Van die kerkbankies en stoele staan nog daar rond. Teen die muur agter die preekstoel, is twee blou duiwe en die naam van die Bybelboek “Johannes” geverf. Ook dit is besmeer met mis.

Die Mount Stewart Algemene Handelaar het al beter dae geken

Die Mount Stewart Algemene Handelaar het al beter dae geken

As jy by die vensters van Mount Stewart Algemene Handelaar inloer, lyk dit of die eienaar een dag sommer net moed opgegee het. Op die gewel staan “1937 Cawood’s”. Binne lê ensiklopedieë en ‘n halfpennie-bestelboek; in een hoek staan ‘n kinderbedjie en op die vloer sien jy kartondose dokumente.

As jy Mount Stewart google, kom maar min na vore. Die naaste plekke (plase en nog ou stasies) aan Mount Stewart het soetklinkende name soos Baroekraal, Bloukop, Brandberg, Dassieskrans, Ferreiraslaagte, Jackhalslaagte, Karroo-vlakte, Waaipoort en Wolwefonteinberg.

Ek lees wel dat die Cawood-familie van die 1820-Britse Setlaars was. In die begraafplaas is baie Cawood-grafte – ook die vrou van J.H. Cawood, Alletha Cawood, 1836 – 1900.

Ook dat die huwelik van Dora Cawood en Vivian Burton in een van die kerkies voltrek is. Daar was “wit en pienk angeliere, rose met baie skakerings, alles afgeëts teen lower en palms wat die Wesley-Kerkie verfraai het.”

Verlate op die vlakte

Verlate op die vlakte

Dis ‘n era wat verby is – die era toe groot diesels nog gebrul het en hul magtige lywe nog gesidder het, soos wat Etienne van Heerden dit so roerend beskryf het.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 3, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .