ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

3 Doendinge vir smulpape in Venesië

First published in Die Burger, November 2016

Vier die lewe in Venesië

Ons kan nie glo wat ons vroegoggend sien nie – kyk mooi deur die mis!

Venesiese kookkuns verskil baie van die cuisines van die res van Noord-Italië. Dit beteken nie dat dit nie ook terselfdertyd baie in gemeen het nie.

Venesiese kookkuns – of eintlik die kookkuns van die hele Veneto-distrik/provinsie – word geografies gekategoriseer: die kusgebied, vlaktes en berge.

Om egte Venesiese geregte te beleef, moet jy wegbly van enige eetplek wat foto’s of internasionale vlaggies op die spyskaart het. Of waar ‘n sjarmante Italianer jou met uitroepe van “Ciao! Amico!” probeer naderwink. Begeef jouself na die agterstraatjies waar die Venesiërs self eet.

Die Venesiërs hou van polenta wat eens deel van die stapeldieet van die armer inwoners was. Natuurlik is seekos ook baie gewild.

Terwyl drie van ons in systraatjies ronddrentel om die siel van Venesië vas te vang en waar selfs wasgoedlyne romanties lyk, loer ons by die venster van Osteria da Alberto in.

Ons sien kantlampskerms, hoogstens 15 donkerhouttafeltjies en verbleikte poskaarte op die vensterbank. Ons tik teen die ruit om te vra of ons sommer vir dieselfde aand plek kan bespreek. Si, si, verstaan ons, maar die res word so vinnig gebesig dat my basiese Italiaans van nul en gener waarde is. Dit kos tyd, dag en ‘3 ragazze’ neerskryf.

Met ons aankoms vir aandete ‘n paar uur later is daar nie enigiemand wat ‘n Engelse sprook kan sprak nie. Nie dat ‘n mens ‘n uitgebreide woordeskat nodig het om ‘n tweeliterkraffie huis-rooiwyn met die intrapslag te bestel nie.

Drie vurke migreer van ‘n bord met fluweelsagte gnocchi  ai quattro formaggi -waarvan die gorgonzola sekerlik in die hemel op wolke bedien word, hoop ek – na ‘n bord met parmigiana di melanzane. Mamma mia, die kammossels proe na see en smelt in jou mond.

Asof ons gebore Italianers is, raak ons summier oorentoesiasties en wink die kelnerin nader. Selfs ‘n sardyn-afvallige met ‘n rosyn-aversie smul saam aan sardine in saor. Vir hierdie gereg word sardientjies in asyn gemarineer. Plomp rosyntjies, dennepitte en speserye word later bygevoeg.

Ons sluit die aand af by ‘n miniskule kroegie waarbinne seker net ses mense kan staan; dus is die kuierplek noodgedwonge buite. Tot ons totale verbasing  skroef die kroegman die houtvensterbank teen toemaaktyd af en dra dit binnetoe. Perche, vra ons. Want misdaad vier hoogty in Venezia, mompel hy oor sy skouer.

Early morning at Rialto Market

Douvoordag op Rialto-mark

Die oggendstond – hoewel dit nog pikdonker is – het goud – oftewel ‘n besoek aan Rialto-mark – in die mond.

Die stad begin roer

Die stad begin net-net roer

Gewoonlik is die Rialto-brug so volgepak met hordes toeriste dat jy nie die argitektoniese lyne van die brug of binnekant van die winkeltjies kan sien nie. Hierdie tyd van die dag is die brug verlate, die winkeltjies toe, die groen deure met hortjies in gelid en die mis warrel om ons. Een man in ‘n donker jas stap trap af, soos in ‘n kunsfliektoneel.

By Rialto-mark aangekom, het slegs enkele stalletjies al begin uitpak. Bote kom aangevaar – met stapels kartondose, kratte koeldrank, en op een boot die mens – of die skipper – se beste vriend met sy snoet in die wind.

Die vinkelknolle is mooi genoeg om te skilder; daar’s vuisgrootte radyse, murgpampoentjiebloeisels en pere met rooi doppies, wat soos poskantoorwaks lyk, op hul steeltjies.

By die seekosstalletjies staar restauranteienaars ‘n uur later in ‘n ry om seebaars, rooimul, krappe met kloue wat roer, tongvis, palings en gróót seekatte op te raap. Hoewel ons ooglopend nie klante is nie, loop almal oor van vriendelikheid.

Agter die vrugte- en groenteverkopers is enkele klein deli’s met geblikte seepampoentjies, gedroogde puttanesca-kruie, pasta en gegeurde olyfolie in ‘n bottel wat soos die stewelkaart van Italië lyk.

Op hierdie presiese plek is vir die eerste keer aan die einde van die elfde eeu handel gedryf.  Oorspronklike name soos Erberia (vrugte en groente), Naranzeria (lemoene), Speziali (speserye) en Pescaria (vis), wat toentertyd na die onderskeie stegies verwys het, is steeds in gebruik.

Die lewe bestaan uit keuses. Begewe ons onsself nou na ‘n nabygeleë trattoria vir ontbyt met oesters en prosecco of gaan verken ons San Marco-plein vóór enigiemand anders daar aankom?

‘n Dag in Venesië begín by Rialto-mark, eers later ontwaak die res van die waterstad. Toe ons twee Suid-Afrikaners – te opgewonde om leepoog te wees – San Marco-plein binnestap, is daar minder as ‘n handvol mense saam met ons daar. Die tafeltjies blink van die dou, die stoeltjies is patroonmatig gekantel en die duiwe bad dat die water spat.

Non è possible! Die kelners by Caffè Florian werk hard. Dis skaars douvoordag, maar hul is reeds besig om vloere te mop en spieëls te poets. Rooi emmers skuur skouers met vergulde rame en boergonje fluweelbankies.

Caffè Florian dateer uit 1720. Toentertyd was dit die enigste koffiehuis wat vroue toegelaat het. G’n wonder Casanova het hier uitgehang nie.

This slideshow requires JavaScript.

Attenzione! Hier verrys – stadig uit die mis – ‘n enorme passasierskip. Die skip is so groot dat dit lyk of die gaping tussen die Ducal-paleis en die Nasionale Biblioteek met die verbyvaart gevul word terwyl die passasiers op die dekke staan en hulself aan Venesië verwonder. Dit voel wel of die skip – met sy 5000 mense – nie hier hóórt nie.

Sbrigati! Gou! Dis tyd vir un caffè. Nie te ver van Marco Polo – gewild vir pizza onder toeriste en redelik aanbevole as jy naby die plein wil aansit – is ‘n tipiese staan-by-toonbank ontbythoekie. Driehoekies witbrood, korsies afgesny, met krapvulsel, en drie espresso’s vul die holte.

'n Dubbel-espresso asseblief

‘n Dubbel-espresso asseblief

Jy kan nie Venesië toe gaan en níé ‘n perske-Bellini (een deel witperskepuree, drie dele prosecco) by Harry’s Bar gaan drink nie.

Harry’s Bar is in 1931 deur ‘n kroegman, Giuseppe Cipriani, geopen. As jong man het Cipriani by die Hotel Europa gewerk. Twee jaar na Cipriani 500 dollar aan ‘n Amerikaanse laventelhaan, Harry Pickering, geleen het, het laasgenoemde die lening terugbetaal tesame met genoeg geld om sy eie kroeg te open.

Stap maak jou honger. Of sommer net lus vir Venesiese kos. Per toeval kom ons op Osteria Barababao af. So obskuur weggesteek dat die twee van ons ons derde reismaat moet gaan haal toe sy ook die honger/luspyne begin voel knaag.

Ons lê weg aan risotto met lemoen en spesery-kwartel en inkvis in sy eie inksous saam met polenta. La vita è buona in Venezia!

REIS- EN KOSWENKE

* Osteria da Alberto, Calle Larga Giacinto Gallina, Cannaregio. Toe op Sondae.

www.osteriadaalberto.it

* Lees meer van Rialto-mark: www.italyheaven.co.uk/veneto/venice/rialto-markets.html

* Verwonder jouself aan Caffé Florian: http://www.caffeflorian.com/en/venice

* Leer meer van Harry’s Bar: www.harrysbarvenezia.com

* Kyk na Osteria Barababao se spyskaart: www.osteriabarababao.com/en/

2 comments on “3 Doendinge vir smulpape in Venesië

  1. Tannie Frannie
    February 12, 2019

    Hoe lekker het ek nou saamgestap! Het juis vanoggend op een van my lukraak-ekskursies in fb op ‘n artikel afgekom wat vertel hoe toerisme besig is om hand-uit te ruk en hulle noem spesifiek die reuseskepe.

  2. ilsez
    March 26, 2019

    Ek lees ook al hoe meer hulle wil die aantal besoekers per dag aan Venezia beperk. Dalk toegangsfooi. Ek kan verstaan hoekom. Met al die romanse het dit ook ‘n temapark op ‘n manier geraak. Ai tog.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 11, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .