ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SIMONSIG – FAMILIEPLAAS MET VONKEL

First published in Winederous, a few years ago

Daar's seker nie 'n vonkelwyndrinker in die land wat nie die naam Simonsig ken nie

Almal weet dat Frans Malan die pionier van Simonsig was. Almal weet daar’s nou drie broers aan die stuur van sake. Francois, besturende direkteur en wingerdboukundige; Pieter, verantwoordelik vir nuwe markte; en Johan, die jongste, en die (vonkel)wynmaker. Lyk na twee introverte en een ekstrovert, as jy my vra.

Kyk net - 'n swart kandelaar in die kelder!

Francois – met sy skaam glimlag – neem my deur die kelder wat vir die veertigjarige herdenking van Kaapse Vonkel bietjie opgedollie is. Kompleet met swart kandelare en familiefoto’s. Selfs muurpapier op die oorkantste keldermuur.

Francois Malan, die besturende direkteur en wingerdboukundige van Simonsig

In die Kaapse Vonkel-produksiekelder wens ek hulle wil my toesluit, maar ek sê niks hardop nie. Ek sien ook nie ‘n skuiwergat waar iemand – soos ek – laataand kan in- en uitklouter nie. Sjoe, hier word baie vonkelwyn gemaak.

Van toeka tot nou

Simonsig maak vier Cap Classique’s. In die John Platter kry Encore Vin Sec drie en ‘n half sterre. Kaapse Vonkel – wat al van 1971 gemaak word en die eerste Méthode Cap Classique is wat in Suid-Afrika gemaak is – het in 2009 in die Cap Classique Challenge die eerste en tweede plek verwerf. Eintlik het Pa Frans al in 1971 met Kaapse Vonkel van Chenin Blanc – wat destyds teen ‘n allemintige R3 per bottel verkoop is en op daardie stadium was dit die duurste wyn in Suid-Afrika  – begin; vir ‘n lang tydperk was hy die enigste wat droë tradisioneel bottel-gegiste vonkelwyn in die Kaap gemaak het. Na hy in 1990 Champagne besoek het, het hy met sy groot droom – om ‘n cuvée te maak – teruggekeer. G’n wonder die restaurant heet nou Cuvée nie.

Kyk net al Cuvee Royale se toekennings

 

Kaapse Vonkel Brut Rosé spog met nuwe getekstuurde etikette

Kaapse Vonkel Brut Rosé is nog ‘n eerste in Suid-Afrika – dis gemaak van 80% van ons inheemse Pinotage, 17% Pinot Noir en die oorblywende 3% is Pinot Meunier. Dis droog, dis salmpienk en dis sag op die tong. Hierdie vonkelwyn is vanjaar by die Cap Classique Challenge as die beste vonkelwyn in Suid-Afrika gekroon! Op hul webtuiste word beelde van The Endless Summer – die ikoniese branderplank-fliek wat uit 1966 dateer –  opgeroep as aan die 2009-seisoen teruggedink word. In 2009 was die weer klaarblyklik – soos in 1966 – so mooi as wat dit kan wees.

Kaapse Vonkel is die eerste Methode Cap Classique wat in Suid-Afrika gemaak is

Dit proe na meer

Die kersie op die koek is Cuvée Royale (Blanc de Blancs) wat met ‘n Veritas Dubbelgoud spog. Totaal verdiend, reken ek toe ons die laatoggend daarmee eindig. Dalk is dit omdat dit 96% Chardonnay is, bespiegel ek stilweg. Chardonnay gee die nodige finesse wat almal wat dit drink, summier verower.

'n Kaap-Hollandse stillewe begroet jou in die voorportaal

Dit proe na derduisende fyne borreltjies. Oe la la. Dis die ene elegansie. G’n wonder Johan Malan het al opgemerk dat vonkelwyn die enigste wyn is wat met ontbyt geniet kan word nie. Bring die oesters, sommer ‘n skinkbord vol, is ek lus om te skree.

Simonsig se vonkelwyn is al sinoniem met oesters en dis amper sonde om Cuvée Royale daarsonder te geniet. Tog kan dit maklik, o so maklik, gedoen word. Andersins is dit ‘n goeie pasmaat vir vis of kreef. Of kaviaar as jy jou rande so ver kan laat strek. Dan’s Cuvee Royale nog ‘n goeie pasmaat by sekere nageregte ook.

‘n Glasie vonkelwyn by die see

Francois huiwer net ‘n oomblik toe ek vra wat die mees ideale scenario is om aan ‘n glas vonkelwyn te teug. Êrens by die see, ja, definitief by die see. Dalk by Hermanus. Ken ek die paadjie langs die see af? Daar staan sulke bankies waar ‘n mens ‘n wyle kan vertoef. Ja, ek ken dit. Daar, net daar, terwyl die branders breek en die son sak. Of… of op ‘n Sondag saam met sy kinders, sy familie… almal is daar, almal is jolig en tevrede, daar word so ‘n bietjie nabetragting gehou. Francois leef hom in die oomblik in en neem nog ‘n slukkie van hul eie vonkelwyn.

Dít was my pa

Die patriarg van die familie kom gereeld in die gesprek op. Hy was immers ‘n legende in die bedryf. ‘n Beginselvaste man, som Francois hom op, wat nie gehuiwer het om ‘n besluit, enige besluit, te maak nie. Soms dalk ‘n verkeerde besluit, maar ten minste is kon dinge gebéúr. Wat laat hom aan sy pa dink, as hy bedags so op die plaas rondstap? Met ‘n stout glimlaggie en heimwee in sy stem sê Francois dat hy alles wat krom is, moes regmaak toe hy aktief op die plaas betrokke geraak het. Op so ‘n manier het hy orde gebring, sluit hy af.

Met die aankoms op die plaas word jy onder geen twyfel gelaat van wat hier vermag word nie

Net om dit op te volg met ‘n staaltjie van hoe sy pa en ‘n paar ander ‘n straler vanaf Transvaal af Kaap toe laat vlieg het. Volgelaai met Transvalers – dit was nog in daardie dae – wat vir die dag by verskillende plase kom wynproe het en elkeen daardie aand met hul boksie wyn terug is.

En my ma was ‘n opperste dame

Die Van Niekerk Kamer is die ideale plek vir soirees, of sommer net lekker kuier

Bokant Cuvée is die Van Niekerk Kamer aan Ma Liza  opgedra. Sy van onthaal-faam in die tyd toe daar skaapboud en hoenderpastei en die lekkerste tong voorgesit is. Dis ‘n gesotisfikeerde kuierkamer met aksente van National Geographic se donkergeel, donker skarlakenrooi, en sjiek swart en wit. Net die plek waar skinkborde canapés met die trappe uit Cuvée se kombuis opgedra moet word terwyl gaste op die banke sitlê.

Kom eet sommer by ons

In Cuvée self is daar  oordadige, speelse kandelare, ‘n wit en rooi Kersboom,  en sierlike wit orgideë op elke tafel. Dis ‘n tikkie Kaap-Hollands wat in ‘n moderne blink rokkie – ligte en spieëls is mildelik gebruik – geklee is. Neil Stemmett moet die krediet hiervoor kry, soos ook vir die proekamer en die Van Niekerk Kamer.

Cuvée se spyskaart eggo die interior. Daar’s (soms) ‘n slaai met Pella-dadels, boere-wortels en Franse Gruyere; daar’s lam met korrelkonfyt; daar’s rabarber gekombineer met Turkish Delight. Daar’s vier spyskaarte per jaar om met die vier seisoene ooreen te stem. Daar’s nie meer ‘n teken van die geposjeerde oesters in wit sjokolade wat Michael Olivier – eens die eienaar van die bekende Parks Restaurant – stilweg eenkant gesit het by ‘n vonkelwynproe ‘n tydjie terug nie.

Simonsig se proekamer is altyd besig, of so lyk dit. Almal praat tegelyk – dalk maak die vonkelwyn hul tonge los. Dis terselfdertyd ‘n outydse proekamer, maar met onverwagse moderne detail soos Tord Boontje-styl uitgeknipte kantgordyne voor opskuifvensters.

Simonsig se vonkelwynverkope verdubbel elke vyf jaar te midde van al hoe meer kelders en individue wat MCC begin maak. Hulle voer na 45 lande uit – hul vonkelwyn is veral gewild in Rusland – en die populariteit van hul vonkelwyn het al ‘n eie natuurlike momentum bereik.

Met die wegry roep ek weer die nostalgiese herinneringe van  ‘n oud-omroepster van die SAUK op. Met die bekendstelling van die eerste Kaapse Vonkel in 1971 by die Stellenboschse Fynproewersgilde het die kelners met skinkborde vonkelwyn op ‘n dramatiese en feestelike wyse die trappe afgekom. Simonsig se MCC is steeds die vonkelwyn wat landwyd gekies word om iets te vier of jy nou kies om dit met ‘n stukkie drama, aldan nie, te doen.

 

 

2 comments on “SIMONSIG – FAMILIEPLAAS MET VONKEL

  1. marinewildlife
    June 21, 2018

    Reblogged this on Marine Wildlife Magazine and commented:
    Pragtige skryfstyl. Het jou storie heerlik geniet

    • ilsez
      June 30, 2018

      Dankie vir die positiewe kommentaar en vir herblog.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 31, 2017 by in Afrikaans foodies and tagged .