ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Hokaai, hier’s ‘n hoekwinkel

First published in Die Burger, May 2015

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Hokaai!

Hokaai!

Daar’s iets, iets ondefinieerbaars, aan ‘n hoekwinkel. Nie meer soos lank terug ‘n kêffie met goewermentsbrood en verlepterige appels en komkommers nie, maar as’t ware ‘n nuutskepping op ‘n hoek waar jy kan koffie drink of kuns koop.

Dit laat jou oor jou skouer loer, en dan summier rem aanslaan.

Aardjie na sy vaartjie

'n Hoekwinkel in die Paarl

‘n Hoekwinkel in die Paarl

Jan Willem en Seuns se Hoekwinkel in Stasiestraat, Paarl is gereïnkarneer en spog met ‘n fleurige nuwe persverfbaadjie en hangborde wat lees: botter en brood, deli en dinge, oud ouer oudste, Jan Willem se Wynwinkel, Oulap se mooi en Koffie! Koffie! Koffie!

Mynhardt Joubert, wenner (saam met Tiaan Langenegger) van Kyknet se realiteitsprogram Kokkedoor, wou hulde aan sy twee oupas, Jan en Willem, se hoekwinkel bring. Een van sy eerste kindertydherinneringe is van dié magiese winkel gevul met geure, beloftes en nostalgie.

20181227_125733

‘n Wafel met ‘n koppie tee in Jan Willem en Seuns se Hoekwinkel

Oorkant die stasie in ‘n Aspoestertjie-hoekie van die Paarl is hierdie droom nou bewaarheid. Die binnekant herinner aan ‘n teekamer van ouds wat verfrissend nuut geïnterpreteer is. ‘n Naaldwerkmannekyn spog met ‘n sneespapierpatroon-uitskopromp en dien sommer om jou te help onthou om langsaan by Merci – décoration d’intériur Francais vir ingevoerde linne en kant in te loer.

Eet stasieslaai, ‘n Italiaanse burger of crépes met salm.

‘n Engelse hoekwinkel op die platteland

Bredasdorp mag dalk oorwegend Afrikaans wees, maar hul hoekwinkel is Engels. Binne-in praat die meubels, skilderye en ornamente egter met ‘n Overbergse bry, want in ons almal se oumas se huise was van hierdie kleinode wat nou weer mode geraak het.

20181227_125728

Kuns, emmers en stoele by The Corner Shop in Bredasdorp

Op ‘n tafel staan ‘n swetterjoel keramiekpannetjies vir slakke-in-knoffelbotter; langsaan ‘n reuse Moulinex so groot soos ‘n kleinhuisie; ‘n hofnarpop met blou oogskadu sit op ‘n stoel; erdekruike en teepotte maak ‘n rak vol; ‘n seeskildery rus op ‘n esel; ‘n weermagkampbed is op- en oopgeslaan.

Eers het die Bredasdorpers maar langtand gebyt aan dié winkel, maar deesdae plaas hul selfs ‘bestellings’. ‘n Paar jaar gelede is alles wat oud is, uitgegooi; nou word daar weer gehunker na outydse styl.

  • The Corner Shop, h/v Independent- en Selbystraat, Bredasdorp.

Kuns in ‘n spoorweghuis

Op ‘n klein straathoekie in Greyton loer ‘n uil vanaf ‘n naambord na die kunstige besoekers wat verbydrentel.

Die historiese Spoorweghuis waarin Quirky Country Gallery sedert verlede jaar gesetel is, is vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens gebou om as depot te dien vir goedere wat oorspronklik per wa en perdekar vanaf Caledon-stasie na Greyton vervoer is. Boere en dorpenaars het ook hul goedere en produkte hiernatoe gebring vanwaar dit na die stadsmarkte gestuur is.

Renske Scholtz, die eienaar van Quirky, is ‘n kurator en kunskonsultant. Die kreatiewe energie in Greyton het haar so geïnspireer dat sy net eenvoudig ‘n galerytjie móés oopmaak.

Een van haar gunsteling kunstenaars is Carol Gibbs. Carol is ‘n skryfster, antiekhandelaar en wonderlike storieverteller. Sy gebruik gewone items soos babaskoentjies, speelgoedpoppe, leergordels en winkelpophande wat sy opgetel of versamel het.

Daarmee beeld sy iemand se denkbeeldige lewe uit. Baie van hierdie driedimensionele komposisies word in ou tasse uitgestal waarna dit name soos Willy van Van Wyksdorp kry.

Ander kunstenaars wie se werke by Quirky Country Gallery uitgestal en verkoop word, is Alastair Barnes, David Kuijers, Marianna Emslie en Monique Fagan.

Rat ‘n tat tat

In hierdie wit huis met ‘n drieletternaam verklap die vooraansig glad nie watter skatte – oud en nuut – binne skuil nie.

By Tat op een van die hoeke van die hoofstraat van Stanford is unieke en rare versamelaarsitems soos wat jy min bymekaar te sien kry. Elke vertrek is individueel ingerig en versier; elke muur vertel ‘n storie.

Een kombuismuur is beplak met kartelranddoilies. Agter ‘n vertoontafel spring ‘n bokkie deur die lug. ‘n Eetkamermuur beeld die gewels van verskillende wynplase uit.

Op ‘n laaikas is ‘n tafereel wat die geboorte van Jesus uitbeeld: die drie wyse manne in jurke, ‘n hurkende kameel, ‘n donkie en skape. Emaljekomme en lampetbekers staan in ‘n ry op ‘n vensterbank. Kelims en tapyte lê die vloere vol.

Behalwe dekoritems en meubels is hier strooihoede, ‘n perdesaal op ‘n verweerde leerstoel, amber- en kraletjie-juweliersware, bokhorings sowel as skedels, wynkraffies en wingerdmandjies.

  • Tat, h/v Queen Victoria- en Longmarketstraat, Stanford.

‘n Outydse hoekkafee

Op Philadelphia buite Durbanville is nog ‘n regte egte ou hoekkafee wat Helena se Hoekwinkel heet.

Veel is daar nie hierbinne nie. Twee essensiële items wat wel hier te kry is, is brood en die dag se koerant. Jy kan ook loterykaartjies hier koop.

Toffies en suiglekkers is in ou boepensflesse; daar’s kitssop en konfyt op die rak en ‘n paar verdwaalde aartappels as jy nog iets vir vanaand se ete kort.

Eintlik ry jy hiernatoe net om vir ‘n slag weer te sien hoe die hoekkafees van vanmelewe daar uitgesien het. Perdalks is hier nog ‘n botteltjie lewensessens oor wat sy pad na jou noodmedisynekissie kan vind.

  • Helena se Hoekwinkel, Van Schoorstraat, Philadelphia.
  • philadelphiasa.org/hoekwinkel.html

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 29, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .