ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KOM VIER HIER RIELKULTUUR

First published in Die Burger, Desember 2014

Rieldansers gaan uithaal in Paarl

Op Saterdagaand, 6 Desember 2014, is dit weer sulke tyd. Dis die eindronde van die ATKV se rieldans.

Daar waai sy broek

Tyd vir die ritmiese gewip van die bulsakdanspassie, die besadigde beweeg van ‘n slak, die lagwekkende spronge van die bobbejaan, die pronkerige hoenderhaan en potsierlike hoenderhen wat nes skrop, die vlugvoetige volstruis en ‘n hings –  met of sonder wa – op galop.

Op 'n ry word daar gedans

Tyd vir stof opskop, vir ruk-en-riel wat met rukke en rolle gepaardgaan, tyd vir ‘n benydenswaardige lewensvreugde wat seker almal wat toekyk, ‘n knop in die keel gee.

Kabaal opskop

By die junior groepe gaan die Betjies van Betjiesfontein dit ligvoet uitkap teen Korbeel; Die Calvinia Sitstappers gaan hul hakskene wys vir die Woeppies van Wuppertal. By die senior groepe gaan die Griekwa Knersvlakte Rieldansers die stof laat dwarrel teen die Loeriesfontein Kliptrappers; die Suurrug Suurtrappers gaan askoek slaan teen die Betjies Rooi Rots Rieldansers.

In 2013 was Die Nuwe Graskoue Trappers en die Boesmanland Bitterbessies onderskeidelik die junior en senior kampioene. Op 6 Desember is dit vir hulle tyd om hul titels te verdedig en hulself onkapabel te riel.

Net die lees van die rieldansgroepe se name roep al musiek en rymelary op; dan het jy nog nie eers gesien hoe hier gestoftrap en getiekiedraai word nie. Daar word net duskant bollemakiesie slaan, gestop.

Ander rieldansgroepname wat lekker op die tong rol, is die Boesmanland Stofskoppertjies, Grasvlei Grastrappers en die Griekwa Ratelgatte.

Ouma Grietjie het ontroer

Vroeër in die jaar is die alombeminde Ouma Grietjie Adams (van Garies) tydens die vierde streekuitdunronde in Garies, Namakwaland gehuldig. Van Ouma Grietjie se liedjies is gespeel, die rieldansers het ‘n huldeblyk aan haar gedans en pienk ballonne is in die lug losgelaat.

Ouma Grietjie is in April 2014 op die ouderdom van 87 jaar oud in ‘n ouetehuis in Springbok oorlede. Sy was bekend vir haar weergawe van die liedjie, Lekker Ou Jan; vir haar frillerige pienk kappie, haar lewenslus en vir haar eige-aan-haar sêgoed.

Allamapstieks, hulle kan dans

Hierdie jaar is dit die negende eindronde wat plaasvind na die ATKV in 2006 die tradisie van die riel laat herleef het. Uitdunrondtes het op Ladismith, Brandvlei, Carnavon, Garies en Worcester plaasgevind waarna die halfeindronde op Clanwilliam gehou is.

Dit kos mooi vang

In 2013 tydens die agtste eindronde by die Liquifruit Amfiteater by die Taalmonument in die Paarl was David Kramer die gaskunstenaar; Lynette Francis die seremoniemeester(es) en Elias Nel die ATKV-projekorganiseerder. Van vroegaand af het die mense al bankvas gesit.

Met die aanvang het die oomblik vir ‘n lid van die gehoor, ‘n kaartmannetjie met ‘n rooiwitstreephemp, te veel geword en het hy met twee rye spore na die verhoog gemarsjeer. Hy’s vriendelik dog ferm verwyder sodat daar met die verrigtinge aangegaan kon word. Dit het egter net die regte gees vir die entoesiastiese toeskouers geskep en hy is luid toegejuig. Of was dit nou toegesnou?

Kappityt, my broer (en suster)

Toe die vertoning begin, het die rieldansers gewip en gewikkel; een het laat waai met sy broek; die oumas het gedril; die kordate jonges het gekotiljons; kieries is ingespan en vere in hoedens het op maat van die wysies tyd gehou. Waar boude skud en handgebare nie genoeg was nie, is ‘n skinkbord, emaljebekertjies, sekels, skopgraaf, broodpan en braairooster geïnkorporeer om die storie oor te dra.

Velskoene – die koelste met bloedrooi veters – en voorskote, onderbaadjies en kopdoeke, kruisbande en laslappiebroeke is deel van die rielkostuums.

Hoed omhoog

Tussenwerpsels hou almal op hul tone: “Ons hêt dit, Gebore mêt dit!” ontlok ‘n luide “Gooi mielies!”. Dán word daar eers met absolute oorgawe geriel.

Wie weet – dalk is daar weer ‘n bittersoet oorwinning vir die Boesmanland Bitterbessies in die senior afdeling of dalk rook ‘n nuwe kampioen die pyp oor ‘n paar dae?

Kappityt by die Liquifruit Amfiteater

Sorg dat jy betyds jou kaartjies in die hande kry; anders gaan jy dalk soos so vele in 2013 by die hek moet omdraai en huis toe gaan sonder dat jy die opwinding beleef het.

Pak ‘n kussing as jy sawwe boude het en hooikoorspilletjies en snesies teen die stof.

Om jouself in die regte bui te kry voor jy gaan:
·        Ondersteun die rieldansers by  http://www.facebook.com/VriendeVanDieRiel
·        Luister na wyle Ouma Grietjie van Garies by www.youtube.com/watch?v=fFsxS3xk-BA
·        Kyk na die eindronde van 2013 by http://www.youtube.com/watch?v=AD3_oMmVVvk

 

Sou jy wou gaan:
·        Die 9de Nasionale Rieldanskompetisie – soos deur die ATKV aangebied – is op 6 Desember 2014 by die Liquifruit Amfiteater – Paarlberg. Volgens die ATKV kan jy dit nie misloop nie – dis nou as jy die tipe (vr)ou is wie se voete jeuk, wat van vlerksleep en bokspronge hou, en wat ene bobbejaanmannetjie (of -wyfie) sommer al wat ‘n perkaat is, uithaal.
·        Besprekings het reeds op 1 November by Computicket geopen.
·        Vir verdere inligting skakel Elias Nel op 021 886 7156 of 078 247 2682. Of e-pos eliasn@atkv.org.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 16, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .