ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SIMONSTAD – WAAR JUST NUISANCE GEWOON HET

First published in Die Burger, October 2011

Just Nuisance was nie sommer net ‘n hond nie. Simonstad is nie net nog ‘n Valsbaaise kusdorpie nie. Die walvisse weet dit ook – in seisoentyd  baljaar hulle so ver as wat ‘n mens kan kyk.

Simonstad spog met ‘n Tibettaanse teehuis, die vloothoofkwartier, een van die oudste kroeë in die land en ‘n oulike, weggesteekte moskeetjie in ‘n geplaveide stegie.

Eens was Simonstad die uithangplek van Just Nuisance, die legendariese Great Dane van Simonstad. ‘n Beeld van hom op Jubilee-plein getuig van sy roem en geliefde status.

Simonstad is ietwat slaperig en het weliswaar minder rondsnuffelplekkies as sy buurman, Kalkbaai. Tog is dit juis hier waar ‘n mens regtig kan afskakel en dalk, genadiglik, minder sente uit jou beursie tel. Draai af in Wharfstraat as jy wil lippe aflek vir die vars seekos by die Salty Sea Dog.

Kroeg6

Simonstad slaap nie net nie

Om by Sophea Gallery and Tibetan Tea House uit te kom, moet jy ‘n paar blokke in die rigting van Kaappunt ry. Aan die regterkant is ‘n vuilpienk huis wat eens op ‘n tyd voorstedelik vertoon het. Nou is die kleur ietwat gewaagd, daar staan Boedhistiese beelde op die trap en klimop begroei die mure.

By Sophea kabbel water soms uit ‘n kunsmatige fonteintjie; daar’s kristalle wat energie verskaf; en almal is sjoewaa rustig. ‘n Verskeidenheid silwer Nepalese juweliersware is funksionele aandenkings; en hier kan jy ook bottertee uit ‘n houtteekoppie vir die eerste keer drink – behalwe as jy al na Tibet gereis en die smaak hiervoor al aangeleer het – of proe hoe Sherpa-bredie smaak. Bidvlaggies vir jou tuin of balkon is ook hier te koop.

Waggel, waggel, al na die een kant

As jy net ‘n entjie verder ry, kan jy die waggelende pikkewyne by Boulders-strand gaan kyk. Dis immers een van die moetdoen-dinge van Kaapstad. Seaforth Restaurant, langs Boulders,  is op die presiese plek geleë waar die ou Teekamer in die vyftigerjare was – van hier het ‘n mens ‘n wonderlike uitsig terwyl jy aan ‘n skemerkelkie teug.

Dink terug aan jou jongdae

Met die terugry is die Warrior Speelgoed-Museum ‘n plek wat oud en jonk sal vermaak. Daar’s van porseleinpoppe tot legkaarte, van Matchbox-karretjies uit ons prille jeug tot Kewpie-poppies van ietwat meer onlangs. ‘n Horde soldaatjies staan in gelid; al die vertoonkaste is tot boordenstoe vol; en daar is selfs ou speelgoed te koop.

Vir spys en drank word daar bedank

Simonstad se waterfrontjie is óf ideaal vir families óf geskik vir toeriste-groepe. Oor ‘n skuimkop bier of ‘n glas koue chardonnay kyk jy verby seiljagte en vlootbedrywighede na die dynserige berge oorkant Valsbaai. Bertha’s bestaan al hoe lank en dit sou nie die geval gewees het as dit nie deur die jare konsekwent was nie; en natuurlik is Just Sushi net die plek vir soesji. Digby die pleintjie is Afrika-verkopers en snuistery-winkels.

Oorkant Simonstad se hawe is juweliers, ‘n deli cum geskenkwinkel cum teedrinkplek, ‘n paar krapwinkeltjies, ‘n restaurantjie vir ligte etes sowel as ‘n paar kunsgalerye.

Sorg dat jy by Nostalgie indrentel. Die retro winkelpoppe is uitgedos in vanmelewe se hoede; daar is swart-en-wit foto’s van donkiejare terug; ou medaljes is te koop; en jy word sommer teruggevoer na ‘n paar dekades gelede.

Soos ‘n bruid wat in tradisie glo, het The Meeting Place ‘n tikkie oud, ‘n bietjie nuut, ‘n spatseltjie pienk (in plaas van die tradisionele blou) en ‘n ietsie by iemand se ouma geleen. Al is hierdie bymekaarkomplek so besig soos ‘n negosiewinkel, skyn die lig mildelik na binne en kan jy rustig op ‘n bekussingde rusbank een van hul tydskrifte lees voor of na jy van die uitgebreide spyskaart bestel.

Op en wakker in Simonstad

Simonstad Museum is ook ‘n besoek werd; in die somer is Simonstad ‘n gewilde duikplek; by die Scratch Patch kan lastige kinders besig gehou word; Bronze Age Art laat jou mond oophang; en by die Black Marlin is weliswaar baie toeriste-busse, maar om jouself hier met kaaskoek te bederf, doen die siel goed.

Simonstad se geboue is van lank terug; die Britse invloed is duidelik sigbaar; en die broekieslace laat ‘n mens onwillekeurig glimlag. Dis so déél van Suid-Afrika.

Kroeg1

By die kroeg by The Lord Nelson Inn kom ou seemanne en enigiemand wat van die ou kroeggevoel hou, bymekaar. Daar’s so min óú keelnatmaakplekke oor, maar hier vind ‘n mens dit nog. Gesondheid! Op Just Nuisance!

 

Just Nuisance 1937 – 1944
Just Nuisance wat sowaar op die eerste April gebore is, het aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog in Simonstad aangekom. Hy was gek oor die matrose, en hulle oor hom. Saans as hulle die kroeë in Kaapstad besoek het, is Just Nuisance saam op die trein. Hy het selfs bier saam met die manne gedrink. Na hul klaar kerjakker het – so lui die storie – het Just Nuisance gehelp om te sorg dat almal weer terug op die trein is as daar huis toe gegaan moet word. Daar aangekom het hy dié wat geslaap het, wakkergemaak sodat hulle betyds van die trein kon afklim.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 14, 2017 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .