ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Al op Sloewenië se wynspoor langs…

First published in Beeld, May 2019

Handgeverfde wynbottels by Malek Wingerdkothuis in Jerusalem

I feel Slovenia – veral in die wynroetes!

Sloewenië beleef die afgelope paar jaar ‘n bloeitydperk sover dit toerisme aangaan. Die meeste besoekers stroom na die hoofstad, Ljubljana, en na die kusstrook – daar is vier dorpies – wat minder as 50 kilometer lank is.

As hulle maar net weet wat hulle uitmis deur nie die wynroetes van Sloewenië te besoek nie!

Wyne van Sloewenië is nie juisbekend buite die landsgrense nie. Tog is daar in dié land amper net soveel wingerde aangeplant as in Bordeaux, Frankryk.

Die Jerusalem-wynroete staan ook as die Ljutomer-wynroete bekend

Die Jerusalem-wynroete staan ook as die Ljutomer-wynroete bekend

Daar is drie wynstreke in Sloewenië, wat weer in wyndistrikte onderverdeel word. Podravje is in die noordooste van die land, Posave in die suidooste en Primorje lê heel wes.

Daar is net 'n handjievol geboue in die heuweldorpie Jerusalem

Daar is net ‘n handjievol geboue in die heuweldorpie Jerusalem

Die een legkaarttoneel na die ander begroet jou op die wynroetes van Sloewenie

Die een legkaarttoneel na die ander begroet jou op die wynroetes

Die landskap rondom die dorpie Jerusalem

Die landskap rondom die dorpie Jerusalem

Die platteland van Sloewenië is oral prentjiemooi, maar die wingerdbeplante heuwels het hul eie bekoring. Boonop ry jy uur na uur op kronkelpaadjies met kerktorings wat amper op elke heuwel wink.

Jissie, Jerusalem is pragtig

Van die Jerusalem-Ortoz wynroete kan ‘n volledige reeks legkaarte gedruk word, want dit is nóg mooier as die res. Soveel so dat ek botweg geweier het om op die kaart te kyk waar ons is of waarheen ons volgende moet ry. Nee, manlief moes terstond van die pad aftrek. Ek was hopeloos te bang ek mis iets tydens die afkykslag.

Die Jerusalem-Ortoz wynroete word ook die Ljutomer-roete genoem. Jy kan óf in Ormoz óf in Ljutomer met jou wynproeroete begin. Die heuweldorpie Jerusalem lê rofweg in die middel.

Daar word geglo dat Jerusalem sy naam verkry het na  kruisvaarders die dorpie besoek het en só betower deur die inwoners en die streek se wyn geraak het, dat hulle aan die dorp dieselfde naam as die heilige stad waarvandaan hulle gekom het, gegee het. Daar is selfs ‘n legende dat die kruisvaarders nooit weer die dorpie verlaat het nie.

Jerusalem is op die hoogste heuwel – ‘n volle 341 meter – in die distrik geleë.

Jerusalem is so groot soos ‘n gehuggie in die Karoo.  Ongeag in watter rigting jy kyk vanaf die heuweltjie waarop Jerusalem geleë is, is daar meer skakerings van groen as op ‘n verfkleurkaart reg rondom jou.

Handgeverfde wynkraffies by Malek Wingerdkothuis

Handgeverfde wynkraffies by Malek Wingerdkothuis

Al wat bo-op die heuwel is, is ‘n kerk wat in 1652 gebou is, ‘n ou herehuis wat in ‘n boetiekhotel, Dvorec Jeruzalem, omskep is, ‘n wynwinkel waar jy ook kan wynproe en minder as ‘n handvol ander geboue.

In hierdie deel van Jerusalem word reeds 2440 jaar lank wyn gemaak; dus vanaf lank voor die Romeine hier aangekom het.

Net buitekant Jerusalem hou tuindwerge wag oor 'n lowergroen tuin met 'n uitsig oor myle van wingerde

Net buitekant Jerusalem hou tuindwerge wag oor ‘n lowergroen tuin met ‘n uitsig oor myle van wingerde

Die Jerusalem-wyk is veral bekend vir wit wyn, leer ons tydens ‘n wynproe by die Malek Wingerdkothuis na ons eers in verwondering na die preekstoel en verskeie altare in die kerk in Jerusalem gestaar het. Hulle is veral trots op sipon, ‘n Hongaarse witwynkultivar, wat hier verbou word.

Die oudste wynlandgoed in Sloewenië is in Ptuj

Die dorp Ptuj is sentraal gelee wat dit maklik maak om van die wynroetes te verken

Die dorp Ptuj is sentraal wat dit maklik maak om van die wynroetes te verken

Alles in Sloewenië is eintlik na aan mekaar. Dis egter nie moontlik om enige van die wynroetes te besoek as jy nie ‘n motor huur nie. Daar is wel busdienste, maar dis ongereeld en die busse stop oorwegend binnein die dorpies, nie op die kronkelpaadjies waar die wynplase aangetref word nie.

Ons het besluit om eers vir ‘n paar aande in Ptuj en daarna ‘n paar aande in Maribor oor te bly en vanaf die twee dorpe wynplase te besoek.

Ptuj is die oudste vesting in Sloewenië wat nooit onbewoon agtergelaat is nie. Behalwe om by Ptujska Klet, die oudste wynlandgoed in Sloewenië, wyn te proe, kan die Ptuj-kasteel, Dominikaanse klooster en Katedraal van Sint George ook besoek word.

Die oudste wingerdstok in die wêreld is in Maribor

Soos Ptuj is Maribor sentraal gelee om die wynroetes te verken

Soos Ptuj is Maribor sentraal om die wynroetes te verken

Waar Ptuj ‘n groterige dorp is, het Maribor egter stadstatus.  Waarvoor Maribor by verre die bekendste is, is dat die wêreld se oudste wingerdstok hier in die middel van die stad groei en nog steeds druiwe lewer. Dié wingerdstok rank teen die muur van die Ou Wingerdhuis en is al meer as 400 jaar oud!

Die oudste wingerdstok in die wereld groei in Maribor, Sloewenie

Die oudste wingerdstok op die aardbol groei in Maribor

Vanaf Maribor is daar ‘n paar wynroetes waaruit jy kan kies. As jy nie jou eie voertuig tot jou beskikking het nie, kan jy selfs ‘n staproete deur Maribor doen wat jou in staat sal stel om genoeg wyne te proe. Kaartjies word by die Maribor Toerisinligtingskantoor of by die Ou Wingerdhuis verkoop.

Eisj, Istenič se vonkelwyne smaak na meer

Penine in Sloewenie is wat ons Methode Cap Classique noem

Penine is wat ons Methode Cap Classique noem

Soos wat ons in Suid-Afrika ons vonkelwyn Methode Cap Classique noem, noem Sloewenië hul vonkelwyn Penina. In Sloewenië verwys Penina egter na ‘n verskeidenheid van vonkelwynstyle.

Sloewenië maak reeds sedert die 1850’s vonkelwyn.  Soms word chardonnay gebruik, soms word chardonnay én pinot noir gebruik en soms word sipon (ook bekend as die furmint-kultivar) gebruik.

Istenic maak vonkelwyne in verskillende Sloeweniese style

Istenic maak vonkelwyne in verskillende Sloeweniese style

Die wynlandgoed Istenič spesialiseer in vonkelwyne.

Wees egter gewaarsku, by amper alle wynlandgoedere, groot en klein, moet jy ‘n dag of langer vooraf ‘n afspraak maak om te kom wynproe. Dis glad nie soos in Suid-Afrika waar die wynplase ses dae per week oop en gemik op toeriste is nie.

Selfs by Istenič was hulle verbaas om ons te sien en moes hulle rondskarrel om iemand te kry om oop te sluit en ons te laat proe. Dit geskied egter in ‘n absolute gees van gemoedelikheid.

Ons is in die tuin sitgemaak en kon kies wat ons wou proe. ‘n Hanetree weg was ‘n ponie en ‘n skaap wat geblyk het boesemvriende te wees. Dit het gevoel of ons by familie kuier; weliswaar familielede wat nie ons taal kan besig nie. Hulle het my selfs laat begaan toe ek appels wat van die boom afgeval het, opgetel het en die perd gevoer het. Sy skaapvriend wou saamknibbel, maar het gou agtergekom dit val nie in sy smaak nie.

Die pryse van Istenič se vonkelwyne het goed met die pryse van ons plaaslike MCC vergelyk.

Eers na die tyd het ons gelees dat hulle ook ‘n 100% Rumeni Plavec-vonkelwyn maak wat teen 2000 euro per bottel verkoop! Rumenic Plavec is ‘n Sloeweniese kultivar wat ook op hul posseëls uitgebeeld word.

Blêg, Cvicek is slég

Voor ons na Sloewenië vertrek het, lees ons met groot opwinding van cviček-wyn wat as ‘n unieke versnit geloof word. Die eerste cviček wat ons drink, is maar bra sleg. Die tweede en die derde proe nie veel beter nie. Ons hou later maar op probeer om ‘n bottel te vind wat in ons smaak val.

Jy sal sommer dadelik sien waar die wynplase gelee is, want dit word op kreatiewe maniere aangedui

Jy sal sommer dadelik sien waar die wynplase is, want dit word op kreatiewe maniere aangedui

Weldra kom ons agter dat dié vrugtige wyn meer gewild onder die ouer garde is. Om meer spesifiek te wees, dis onder nie-wyndrinkers gewild. Daarom maak baie wynmakers nie meer cviček nie.

Hoe smaak dit, wil jy dalk weet. Dit het my aan aarbeisap laat dink. Vrank aarbeisap.  Cviček is ‘n (lomp) versnit van verskeie rooi- en witwyne.

Bestel dit een keer sodat jy ook kan sê jy het dit geproe, maar bly maar daarna weg van cviček.

My gedorie, wýn in ‘n raapkelder

In die Bizeljsko-distrik is wynkelders wat repnice genoem word, die nuwe attraksie vir toeriste wat die streek besoek. Repnice is afgelei van die woord repa wat rape beteken.

'n Repnice is 'n raapkelder; deesdae word baie raapkelders as wynkelders ingespan

‘n Repnice is ‘n raapkelder; deesdae word baie raapkelders as wynkelders ingespan

Neffens die ingang van 'n raapkelder of repnice; op so 'n plaas word daar gewerk om voor te berei vir die koue winters

Neffens die ingang van ‘n raapkelder of repnice; op so ‘n plaas word daar gewerk om voor te berei vir die koue winters

Ons kan nie wag om die repnice-wynkelder binne te gaan nie

Ons kan nie wag om die repnice-wynkelder binne te gaan nie

Op die stoep van die raapkelder van Repnice Najger

Op die stoep van die raapkelder van Repnice Najger

In die Bizelsjko-distrik het ‘n tipe versteende sand oor eeue dik lae vuursteen gevorm. Die plaaslike inwoners het reeds aan die begin van die 1800’s agtergekom dat hul ‘grotte’ in die vuursteenheuwels kon ingrawe en die ‘grotte’ of ‘kelders’ kon gebruik om tydens die winter hul groente te bêre.

In die koel ondergrondse kelders is oorwegend rape gestoor vandaar die naam repnice wat stoorplek vir rape beteken. Sedert die vroeë 1990’s het innoverende kleinboere besef dat die raapkelders ideale wynkelders uitmaak omdat die temperatuur regdeur die jaar konstant tussen 5-10°C bly.

Binne in die raap- of wynkelders is die mure klam en dit bly altyd 'n konstante temperatuur regdeur die jaar

Binne in die raap- of wynkelders is die mure klam en dit bly altyd ‘n konstante temperatuur regdeur die jaar

Die plaaseienaar se dogter bied vir ons 'n wynproe by Repnice Najger aan

Die plaaseienaar se dogter bied vir ons ‘n wynproe by Repnice Najger aan

Die sandsteengang lei na verdere sandvertrekke wat deel van die repnice of huidige wynkelder uitmaak

Die sandsteengang lei na verdere sandvertrekke wat deel van die repnice of huidige wynkelder uitmaak

'n Unieke atmosfeer in 'n voormalige raapkelder omskep in 'n wynkelder

‘n Unieke atmosfeer in ‘n voormalige raapkelder omskep in ‘n wynkelder

Nie net bly die repnice koel nie, die sandmure se natuurlike voorkoms vertoon lyne wat soos branders lyk.

Ons Rough Guide Slovenia het Repnice Pri Najger as die mooste raapkelder aanbeveel. Ons was nie teleurgesteld nie. Toe niemand met ons aankoms daar was nie, het ‘n vriendelike verbyganger die eienaar se dogter gebel. In ‘n oogwink was sy daar. Terwyl ons van hul eie wyn proe, het sy vir ons vertel hoe hulle al dieper agtertoe in die heuwel ingegrawe het omdat hulle al hoe meer wyn moet stoor aangesien hul deesdae al meer besoekers kry! Aangesien dit ‘n weeksdag was, was ons die enigste gaste en kon ons haar onverdeelde aandag geniet.

Werd om te weet:

Visum vir Sloewenië: Doen aansoek deur Visalink en die Duitse ambassades in Kaapstad, Centurion of Port Elizabeth. Dit kos sowat R1000.

Motorhuur: Lees jou kontrak deeglik deur ten einde te verseker dat daar geen verskuilde kostes is nie. Bespreek vooraf ‘n GPS vir jou voertuig en maak ook seker voor jy die dorp/stad verlaat dat die GPS in werkende orde is.

Vinska klet: Waar jy ‘n bordjie sien waarop ‘vinska klet’ staan, dui dit op ‘n wynkelder. Bespreek egter ten minste een dag vooraf ‘n wynproe, hoewel verkieslik twee dae of langer vooraf.

Wat kos ‘n wynproe:

Malek Wingerdkothuis, Jerusalem: Vanaf 11 Mei tot 11 November kan jy sonder ‘n afspraak opdaag. Vir 1 euro (om en by R16) kan jy tussen 3 tot 5 wyne proe.

Wynproestaproetes deur Maribor: Pryse begin by R57 per persoon.

Vonkelwynproe by Istenič: Pryse wissel. Ons het R70 vir ‘n lang tulpglas vonkelwyn betaal en daarna het hulle spontaan weer ons glase kom volskink.

Raapkeldertoer en wynproe by Pri Najger: Minder as R100 p.p.

Piekniek met wyn: Sloeweniese wyne is goedkoop as jy dit self by supermarkte of plattelandse kafeetjies koop. Dit beteken ook jy kan meer wyne op die proef stel. Jy kan enige plek langs die pad aftrek en piekniek hou.

Proe hierdie Sloeweniese wyne: Die Suid-Afrikaanse wynmaker, Razvan Macici, van Roemeense afkoms, het die volgende blog vir ons aanbeveel vir wanneer ons wyn in restaurant bestel het of self aangekoop het: www.winetastingljubljana.com/blog/10-slovenian-wines-you-have-to-try/

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 20, 2020 by in Afrikaans foodies, Europa and tagged .