ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SPEEL MALJAN BY MALKOPPAN (SONDER DIE HOENDERS)

First published in Die Burger, January 2015

20181118_112825

Met ‘n naam soos Malkoppan kan ‘n mens maklik dink dat net maltrappe hier sal kamp.  Maar wag, alle gekheid op ‘n stokkie – hoewel Malkoppan nie in almal se sin sal val nie, hoef jy nie getik (in die kop volgens die outydse betekenis natuurlik) te wees om hier te kom uitspan nie.

Malkoppan lê net vyf kilometer suid van Lambertsbaai aan die Weskus. Die ingang van die Malkoppan Gasteplaas – van Ian en Ciske Turner, soos op die naambord aangedui word – is net oorkant die immergewilde Muisbosskerm.

Natuurliefhebbers sal dit geniet om tyd op die strand deur te bring of die veld te verken.

Op die pad na Elandsbaai

As jy vanaf Lambertsbaai se kant kom, draai jy regs in by Muisbosskerm – mits jy  natuurlik ‘n bespreking het – en links na die bekostigbare kampeerterrein. Sommer so met die aankomslag, behoort jy al die voertuie voor Muisbosskerm geparkeer te sien staan.

Soos die bord duidelik aantoon, is daar kothuis-, karavaan en tentverblyf. Bring jou eie karavaan en/of tent. Dis aanbevole dat jy ook genoeg skadunet vir grondseile en afdakke aanry. Anders is jy dalk Maljan – sonder die hoenders – in die stofland.

Malkoppan het 24 kampeerplekke; daar is meer as genoeg spasie en op die oog af lyk dit selfs na heelwat meer. ‘n Sandwal skei die kampeerterrein van die pad se kant.

Dis binne stapafstand van die wit sandstrand, maar die kampeerterrein is ook, letterlik, op – of dalk is dit eerder ín – sand gebou. Orals is meters der meters skadunet op die grond sodat jy darem nie heeldag die stof van jou voete hoef te skud nie. Anders gaan die kampkommandant sy/haar  malle moer afwerk om die sand onder beheer te kry. En so te hou.

Behalwe vir stofbekamping, het jy ook genoeg skadunet – of pseudo-Bedoeïntente – nodig om broodnodige skadu te verskaf. Anders raak jy dalk malkoppie in die Weskus-son.

Malkoppanners kén van; dus blyk almal goed ingerig en gepantser teen son en sand te wees as hulle hier kom kamp.

Van heinde en verre

Hier en daar is wel ylerige grassies. Dit skrik egter nie Gautengers, CY-ers van agter die boereworsgordyn, Lambertsbaaiers (al is die huis so te sê net om die hoek), Vrystaters, Malmesbughie (én Mooggeesbugh) se boeghe en Bolanders (wat aan lowergroen gewoond is) af nie.

Houtstapels wag digby amper elke tent; op ‘n opslaantafeltjie is krismisrose in ‘n vaas; ‘n erg parate kampfamilie spog met ‘n daktent en kombuistreiler; pa se wit viertrekbakkie en die twee seuns se plastiekmotorfietsies staan neffens mekaar; krieketkolwe word nie eens weggepak tussen speel en middagslapies nie. Skulpstringe hang aan tenttoue; braairokies trek lui na bo; matrasse is uit igloe-tentjies gesleep as dit hetig raak.  Dís waaroor kamp gaan as jy nie vol fiemies is nie.

So werk Malkoppan:
·        Daar is 24 kampplekke – met water, elektrisiteit en braaigeriewe –  te huur. Ablusie vir mans behels ses storte en drie toilette; ablusie vir vrouens behels drie storte, twee baddens en drie toilette. Daar is ook ‘n waskamer. Slegs een familie per staanplek word toegelaat. Geen troeteldiere word toegelaat nie.
·        Een plaashuisie –  met ‘n kaggel – waar twee mense kan slaap, is ook beskikbaar. Dis so 200 meter van die kampeerterrein geleë en dus heel privaat. Kombuisfasiliteite is beperk.
·        Daar is genoeg om te doen vir hengelaars, blomkykers en branderplankryers. Lambertsbaai is ‘n paar minute se ry weg. Besoek veral Voëleiland. Bootekskursies en duine ry met ‘n viertrekvoertuig kan gereël word. Leer meer van die geskiedenis van Lambertsbaai by die plaaslike museum.
·        Bespreek by: malkoppanfarm@gmail.com of 083 3700 400.

 

‘n Ete by Muisbosskerm:
·        As jy by Malkoppan bly, sou jy stapelgek wees om nie ten minste een keer by Muisbosskerm te eet nie. As jy by Muisbosskerm bespreek het, is Malkoppan die ideale plek om te oornag sodat jy nie hoef te bestuur nie en bietjie meer tyd in die ongerepte omgewing kan spandeer. Veral sodat jy die sonsondergang kan sien.
·        Jy móét vooraf by Muisbosskerm – al meer as twee dekades lank in besigheid – bespreek; deels omdat die eetervaring báíé gewild is en deels omdat hulle nie elke dag oop is nie. Dis Weskus-gasvryheid op sy beste. Selfs National Geographic het al gereken dis een van die top tien plekke met ‘n see-uitsig in Suid-Afrika.
·        Op die selfhelp-spyskaart is Weskus-kreef; gebakte, gebraaide en gerookte vis; tradisionele waterblommetjiebredie; swartmossels; aartappelgisbrood wat in ‘n klei-oond gebak word en met plaasbotter en hanepootkorrelkonfyt bedien word; en nog veel meer.
·        Muisbosskerm is gewild vir troues.  ‘n Minimum van 120 gaste en ‘n maksimum van 300 gaste kan geakkommodeer word. Ander privaatfunksies kan natuurlik ook hier gehou word. Dis nie nodig om die hele skermrestaurant te bespreek nie – jy kan (‘n)  groepstafel(s) ook bespreek.
·        Bespreek by muisbosskerm@kingsley.co.za of 027 432 1017. Lees meer by www.muisbosskerm.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 18, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .