ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘N TWEEMANSKAP IN TUNISIË

First published in Beeld, April 2018

Wonderlik om weer kamele te sien

Wonderlik om weer kamele – lewendiges en motiewe – te sien

‘n Tikkie Grieks, ‘n skeut Frans, ‘n rojale skep Morokkaans – dis Tunisië, verneem ons. Dit laat ons – ‘n brunet en ‘n blondine – die pad vat.

Die brunet – synde die een met meer vakansiedae – land eerste. Met die oorvlieg is rye en rye windturbines – dit lyk soos wit sterre op pale – sigbaar op die droë heuwels.

A beautiful book on Tunisia

‘n Skep Marokko en ‘n skeut Griekeland

Ek bevind my in Tebourba, ‘n verwaarloosde voorstad (volgens hulle, ‘n dorpie volgens my), buite die grense van Tunis, die hoofstad. Die geboutjies lyk of dit deurspek met koeëlgate is; in ‘n kanaal tussen woonhuise dryf vullis – dis ook waar almal alles weggooi.

In Tebourba is hulle nie gewoond aan toeriste nie.  Maar hulle verwelkom my met ope arms; maak deurentyd geselsies en is kinderlik opgewonde dat ek ook van Afrika afkomstig is.

Dis nie so maklik om by die regte plek in Tunisie uit te kom nie

Dis nie so maklik, as wat dit dalk lyk, om by die regte plek uit te kom nie

Só vriendelik is die Tunisiërs dat ‘n verkreukelde omie of ‘n platsak student keer op keer daarop aandring om te betaal as ons ‘n huurmotor deel, kom ek met verloop van tyd agter.

Dit was aand, en dit was môre

Saans sit ek en die vriendin by wie ek kom kuier het, Josephine Sallah-Ayari – ‘n Senegalees wat by die African Development Bank werk en haarself hier gevestig het – op haar balkon terwyl ons na Verdi luister met grootkeelpaddas wat lustig vanuit die kanaal saamkwaak. Vroegaand bring ‘n bokwagter sy diere om te kom suip. Uit die moskee weerklink die gebedsroep van die muezzin ‘Allahu Akbar’.

Douvoordag vertrek ek uit Tebourba om die souk (opelugmark) van Tunis te gaan verken.

Op die bus gesels twee pendelaars: “Het hy ‘n ligte vel? Soos joune? En wattter taal praat hy?” Alles sonder ‘n sweempie vooroordeel. Ons het nog ‘n lang pad wat ons in Suid-Afrika moet loop, dink ek so by myselwers.

Tunis is ‘n verbleikte juweel

Hoewel baie toeriste nie Tunis, die hoofstad, by hul reisplan insluit nie, het El Abdari, ‘n reisskrywer, reeds in die vroeë 1300’s geskryf dat jy in Tunis (www.tourismtunisia.com/tunis-travel-guide/) alles wat jou hart begeer, kan vind. Vir hom was Tunis soos ‘n kroon en elke buurt was ‘n juweel op sy eie.

Avenue De France is in die hart van Ville Nouvelle, die Nuwe Stad van Tunis. Soms staan gepantserde tenks hier gereed ingeval die Arabiese Lente weer opvlam. Alles in die hoofstad is egter rustig en gaan oustryk aan.

‘n Bouhandelaar in die platteland het dit goed opgesom: “In Tunisië het ons vir twee weke lank betoog. Nou’s alles oor. Ons weet mos wat met ons buurland, Algerië, gebeur het; ons kan uit hul foute leer. Dis ‘n baie klein persentasie Tunisiërs wat volgens die sjaria-wette wil leef.”

Helaas, dit was lede van dié sjaria-minderheid wat vir enkele grusame aanvalle op toeriste in 2013 en 2015 verantwoordelik was. Sedert 2017 is Tunisië se toerisme egter weer aan die opvlam.

Tunisië het een van die mees progressiewe grondwette in ‘n Arabiese land, leer ek. As jy betrap word dat jy ‘n affair het, gaan beide minnaars vir ses maande tronk toe. Aborsies is wettig. ‘n Man kan nie sommer van sy vrou skei nie. Dit in vergelyking met sommige Midde-Oosterse lande waar jy net drie keer “Ek skei jou” hoef te uiter.

Soek die souk

Bab el Bahr is die gekoepelde hekpoort na die souk in die medina. Binne-in die souk is dit blou hortjies, blou klinknaeldeure, blou mashrabias (toegeboude houtbalkonne) en vuilwit geboue net waar jy kyk.  Met die inloop is daar hope opgestapelde plastiekblomkranse wat lyk soos dié wat op verwaarlooste grafte in begraafplase in die Karoo in die son lê en verbleik. Híér word dit vir troues gebruik.

Eers vaar ek stelselmatig Souq el Attarine (www.wikipedia.org/wiki/Souk_El_Attarine) binne. Die eerste stegies is tjok en blok met kitsch en keramiek, koperlampe en juweliersware, kelims, lanterns en speelgoedkamele. Souq des Babouches is volgepak met sagtepunt-pantoffels. Souq et Trouk was eens die Turkse souk. By Grand Souk des Chechias word die baksteenrooi fesse wat die ouer mans dra, gemaak.

Tafels kreun onder boksies henna, boomgom vir kougom, seesponse, puimsteenklippe, wierookhouers, sitroenolie en kaktusekstrak.

Die winkeleienaars is vriendelik; die voetgangers is getjil; net hier en daar loop ‘n bebaarde in ‘n jellaba en uitgetrapte sandale. Wees maar versigtig vir hulle; dis die salafiyah, lede van die radikale Islamitiese beweging.

‘n Onwillige bystander wat mor oor ‘n foto, word summier deur vriende oor die kole gehaal en onseremonieel vir ‘n foto nadergetrek sodat hy móét poseer.

Dié medina dateer uit die einde van die sewende eeu. Dit herinner aan die medina’s van Fez en Marrakesj in Morokko.

Agter in die souk bidprewel salafiyahs met ‘n Koran op die skoot in donker kamertjies met oop deure. Ek steek my kamera weg sodat hierdie bebaardes met hul halfmas jurke en lang sokkies dit om hemelsnaam net nie raaksien nie. Ek weet nie of hul my nie raaksien omdat hulle so diep aan’t beraadslaag(of planne stook) is en of hul net verkies om nie hul oë op ‘n heiden te laat rus nie. In hierdie nou stegies voel ek weliswaar nie heeltemal veilig nie, hoewel dit die enigste keer in die hele Tunisië is wat ek so voel.

Met die hulp van ‘n tandelose Italiaanse omie vind ek my pad terug na die soewenierswinkels. Met my gebroke Italiaans en sy lispel leer ek dat hy ‘n kleremaker is wat al dekades lank hier woon.

Suig hom, boetie, suig hom

Kyk net die kleure van die speserye

Speserye en waterpype wat gerook word, word orals gesien

Ek ruik die appeltabak en sien die rokies draal voor ek voor Café Ez-Zitouna naby die Al-Zaytuna Moskee (www.beautifulmosque.com/Al-Zaytuna-Mosque-in-Tunis-Tunisia)  te staan kom. Onder getekstureerde plafonne sit ‘n swetterjoel mans aan’t trek aan die pype van hul sjeesja’s (waterpype of hubbly bubblies) tussen stokou motiefteëls, leerpouffes en kleurglaslanterns.

Oos wes, tuis bes

As jou wortels aan die suidpunt van Afrika lê, moet jy ‘n draai by die mees noordelike punt van Afrika gaan maak. Dis net buite Bizerte (www.tourismtunisia.com/bizerte-travel-guide/), maar gee ‘n soektog af, want daar’s geen padpredikant wat aandui presies waar dit is nie. Oplaas kry ek met die hulp van ‘n taxi-bestuurder vir Ras ben Sakka (www.wikipedia.org/wiki/Ras_ben_Sakka . Ek pink ‘n traan om hier te kan staan. Die drywer sluk aan ‘n knop in sy keel en gee my ‘n stywe druk.

Besnydeniskoets

‘n Besnydeniskoets in Bizerte

Terug in Bizerte sien ek ‘n pienk besnydeniskoets in die vissershawe wat reeds deur die Fenisiërs as hawe gebruik is. ‘n Verbyganger vra: “Wat kom maak julle hier in Tunisië?” Josephine is nie op haar mond geval nie en antwoord: “Ons kom reis; al is hier salafiyahs soos jy.”

Een plus een is gelyk aan twee

Die blondine land vervaard op Tunis-Carthage lughawe. Maar sy kén van reis en spring met ‘n vaart weg.

Sak en pak sak ons af na Sidi Bou Said (www.tourismtunisia.com/sidi-bou-said-travel-guide/), ‘n idilliese blou-en-wit heuweldorpie – bekend vir sy tradisionele voëlhokkies – met ‘n ongeëwenaarde uitsig oor die Mediterreense See; ‘n buksie vuurtoring; keisteenstraatjies, Fatima se hand-deurkloppers en twee begraafplasies wat oor die see uitkyk.

Ons bly in Sidi Bou Fares (www.hotelboufares.com); in die binnehof is ‘n dikstam vyeboom en spelende babakatjies.

I love this place!

Ek verloor my hart in die atmosfeer van Cafe des Nattes

Twee minute se stap weg is Café des Nattes (kyk op Tripadvisor) met sy rooi-en-groen barbierstreeppale. Hier skop jy jou skoene uit, sit kruisbeen op ‘n plat terras met rietmatjies en teug aan amandeltee en knibbel aan sirkelkoekies en speserybeskuitjies. By een tafeltjie blyk een van die karakters uit Harry Potter – met sagtepunt-insteekskoene – te sit; onder stap ‘n valkenier van Libië met sy valkie op die arm verby. Voëltjies in te klein hokkies tjirp; in die middel staan ‘n yslike samovar en lui dakwaaiers draai skaars.

Dar Ennejma Ezzahra (www.ennejmaezzahra-tunisie.org/) was die villa van Rodolphe d’Erlanger, ‘n Franse skilder en musiekkenner, en word beskryf as ‘n Westerse interpretasie van ‘n Persiese fantasie. In Erlanger se eie hammam moes sy vrou na die was-en-skrop op rietmatjies op ‘n plat bed lê terwyl hy by ‘n bed wat aan ‘n troon herinner, kon inklouter.

Op D’Erlanger se aandrang is ‘n dekreet in 1915 uitgevaardig waarvolgens alle deure en ander hout in Sidi Bou Said blou – in plaas van die groen en geel wat ook gewild was – geverf moes word.

Jode, seerowers, kamele en vissies

Ons vlieg na Djerba (www.tourismtunisia.com/djerba-the-jewel-of-the-mediterranean/), ‘n eiland sowat een uur se vlug vanaf Tunis. In die vyftiende eeu het seerowers hier regeer.

Die dorpie Er-Riadh waar El-Ghriba Sinagoge (kyk op Tripadvisor) geleë is, word al vanaf 586 v. C. bewoon, word daar beweer. Tóé het ‘n heilige klip uit die hemel geval waarna ‘n vrou verskyn het om bou-instruksies oor te dra. Die oorspronklike sinagoge is daarvolgens gebou. Daar word geglo dat die silwer sleutel van die sinagoge na die hemel sal opstyg sodra die laaste Jood die eiland verlaat.

Blou en wit streeppilare

Blou-en wit-streeppilare binne die ou sinagoge

Blou pilare en groen plafon

Dit voel onwerklik om in so ‘n ou sinagoge te wees

In die ryklik versierde sinagoge sit stokou omies wat die Tora (Joodse wetboeke) vir ure lank opsê; een al kwylend. Een van die omies sluit ‘n verbondsark oop sodat ons een van die oudste Tora’s in die wêreld kan bekyk. Hy plaas ‘n hand op ons elkeen se voorkop en doen ‘n gebed.

1200 Jode – baie van hulle juweliers – woon nog op Djerba. Hulle dra pantaloenbroeke en het ‘n kenmerkende manier van sit, met een been opgetrek.

Op baie van die deure is twee blou vissies geverf; dis ‘n simbool van geluk, vooruitgang en ‘n goeie huwelik én dit hou die bose weg.

Op Djerba-strand loop kamele in Kersversierings getooi. Aan die ander kant van die eiland in die distrik van Midoun is ‘n 75 meter-lange vuurtoring wat soos ‘n rooi en wit streepsuikerkierie lyk.

Een van baie redes waarom ons wil teruggaan, is om dadelpalmwyn op te spoor. Dit het ons nie raakgedrink gekry nie.

www.somanymiles.com/2017/10/shopping-in-djerba/

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 12, 2019 by in Afrika and tagged .