ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

TJIL ‘N AAND IN DULLSTROOM

First published in Beeld, June 2018

(Since this article has been published some details might have changed)

Om net ‘n aand in Dullstroom deur te bring, laat glad nie aan hierdie pragtige Mpumalanga-dorpie reg geskied nie.

Maar as dit al tyd is wat jy het om daar te spandeer, sal jy verbaas wees wat jy op een aand kan inpas en ervaar.

Net toe ons voor sononder Dullstroom binnery, gee die bleek sonnetjie aan die kaal bome en omringende heuwels ‘n goue tint. Die winterlug byt sodra die laaste lig verdwyn.

Dullstroom lyk net doodstil

Dit lyk laatmiddag – selfs op ‘n Vrydag – bedrieglik stil in die hoofstraat waar daar juis heelwat meer as ‘n handvol kuierplekke is.

As jy Dullstroom nie ken nie, is dit nogal moeilik om te kies waar jy met ‘n skemerkelkie  – van watter aard ook al –  wil gaan tjil. Selfs as jy ‘n toegewyde toeris is wat pligsgetrou reisnavorsing doen, is daar net te veel om uit te kies. Darem ‘n bonus dat daar so baie eerder as te min is, nê.

Bring my terug na die ou Transvaal

Ons besluit om die eerste tjilplek op grond van nostalgie te kies. Nie omdat die naam ons noodwendig na aan die hart lê nie – per slot van sake is ons Kaapse wynlanders – maar omdat The Old Transvaal Inn aan ‘n negosiewinkel van ouds herinner.

Outydse gasvryheid by The Old Transvaal Inn in Dullstroom

Outydse gasvryheid by The Old Transvaal Inn in Dullstroom

Feetjieligte nooi jou gulhartig in. Sou jy in winkelure hier vertoef, is daar ‘n lekkergoedwinkel met rakke tjokvol toffieappels, klapperys en streepsuikerkieries. Sorg dat jy ‘n houtlepel byderhand het as jou kroos saam hier indrentel.

Heelagter is ‘n knus kroegie met ‘n wawiel tussen die toonbank en ‘n koekkas!

Wilder as die wildtuin

‘n Straatblok of drie straat op is ‘n hoekkroegie wat jy nogal maklik kan miskyk. ‘n Kroeg is ‘n kroeg, tot jy hier kom. Wild About Whisky – soos die naam omonwonde aandui – is ‘n whiskykroeg. En nie sommer só nie, gehoor.  Jenewerproeë is ook beskikbaar.

Wild About Whisky is die kroeg met die meeste soorte whiskys in die suidelike halfrond

Wild About Whisky is die kroeg met die meeste soorte whiskys in die suidelike halfrond

By Wild About Whisky is die meeste whiskys in een plek in die suidelike halfrond beskikbaar.  Dis nét die plek om whisky te proe, maar net nie op ‘n Vrydagaand buite seisoen nie.

Dan is die kroeg vol gemoedelike Dullstromers wat amper deur die bank Afrikaans praat. Af en toe hoor jy ‘n swak geaffekteerde Skotse aksent of ‘n flou grappie oor whisky wat net as verkouemedisyne gebruik moet word.

Die eerste nege en ‘n half bladsye van die lywige whisky-‘spyskaart’ is slegs die Skotse enkelmoutwhiskys; daar is ook whiskys van Indië, Switserland, Frankryk, Taiwan en Japan.

‘n Eend en ‘n forel is maats

Met dapper en stapper begeef ons ons na Duck & Trout. Ai, dis so lekker as jy in ‘n dorp kan stáp waar jy wil wees.

Duck & Trout is 'n gewilde bymekaarkomplek vir jonk en oud

Duck & Trout is ‘n gewilde bymekaarkomplek vir jonk en oud

Eintlik deels met die agenda om blad te skud – of kennetjie te krap – met Bacardi, die bejaarde kroegkat.

Aggenee, Bacardi het die tydelike met die ewige verwissel. Ons was te lanklaas in hierdie geweste.

Duck & Trout is gepak met Dullstromers wat graag hier pizza eet. Dié van buite bestel eend-en-kersiepastei. Só kom jy agter wie kuier en wie woon hier.

Die plek van die koninklike kat

Daar’s ook net so veel ure in een (tjil)-aand. Mrs Simpson’s is die beste restaurant op die dorp en as jy nie ‘n redelike tyd vooraf hier bespreek het nie, is dit neusie verby om hulle naamgenoot te ontmoet.

Wallis is die aristokratiese kat wat die restaurant regeer. Sy (en die restaurant) is vernoem na Wallis Simpson, die vrou wat daarvoor verantwoordelik was dat koning Edward VIII weens sy liefde vir haar besluit het om te abdikeer. Aangesien die koning ook die hoof van die Kerk van Engeland was, kon hy nie met ‘n geskeide vrou trou nie; boonop was sy ook nie uit die adelstand nie.

Dullstroom se Wallis steur haar geensins aan wat enigeen dink nie; sy soek die sagste lêplekkie op en knip ‘n uiltjie. Gewoonlik is dit voor die kaggel.

Net af en toe kyk sy op na die polvye en handsakke wat ter ere aan die oorspronklike Wallis se beroemde versameling die mure en vensterbanke versier. Kliënte dra gereeld nog ‘n paar hoëhakskoene of palmtassie aan.

Sluit jou ete af met crème brulee – moet net nie vir Wallis voer nie! Eens was dit haar voorliefde, maar dit akkordeer nie meer met hierdie ou dame nie.

Besoek ook:

  • By The Dullstroom Clock Shop is die meeste horlosies wat op een plek in die suidelike halfrond gevind kan word. Verlustig jouself in die tiektok van duisende horlosies. theclockshop.co.za
  • Anvil Ale Brouery lê aan Lydenburg se kant van die dorp.

www.anvilbrewery.com

 

Lees meer:
·        www.wildaboutwhisky.com
·        Kyk wat by die Duck &Trout gebeur op hul Facebook-bladsy:

http://www.facebook.com/Duck-Trout-Dullstroom-126951067383263/?_rdc=1&_rdr

·        www.mrssimpsons.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 14, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .