ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kamp by die Hollandse meul

First published in Die Burger, November 2013

20180719_122630-1

Met die inry sal jy sweer jou verbeelding speel parte met jou. Iets voel, en lyk, verkeerd. Hier staan jou wrintiewaar ‘n regte Hollandse meul wat aan ‘n hobbit-woning uit een van Tolkien se boeke herinner. Moenie die koperklok by die voordeur lui nie – ry maar liewers deur na die ontvangs.

In die vroeë 1900’s het die Diepering-familie hierdie oord sowel as die meul opgerig. In die 1950’s het arbeiders wat aan die Wemmershoekdam gewerk het, in aparte huisies by De Hollandsche Molen gebly. Tóé was die meul ‘n outydse teekamer waar verversings geniet kon word.

In 1988 is De Hollandsche Molen deur die Du Plooy-familie gekoop wat die oord tot vandag toe besit. Hoewel daar heelwat permanente inwoners is, is hier ook 62 kampplekke (elk met sy eie braaiplek) op lowergroen gras wat lyk asof daar nooit ‘n halmpie uit plek is nie. Aan die een kant van die kampplek murmel die rivier; aan die ander strek ‘n pers veld lupine na agter.

Die Du Plooys blyk ‘n sin vir humor te hê – die ablusieblokke is onderskeidelik Hagar en Helga, en Popeye en Olive, getiteld. Daar’s ‘n Oros Mannetjie Singel (maar niks verklap na wie of wat hierdie sirkelgang vernoem is nie); ‘n Hadeda-Laning (met hadeda’s wat pik-pik onder die naambord); ‘n Beertjie-Laan (sonder ‘n inkelte beertjie in sig) en ‘n paar straatjies wat na voëltjiesoorte vernoem is.

De Hollandsche Molen het ‘n kioskkafee met wegneemetes, ‘n informele kroeg waar ligte etes bedien word, ‘n kitsbank en laastens ‘n groot skerm waar die immergewilde rugbywedstryde gekyk kan word. Dan ook ‘n Olimpiese-grootte swembad sowel as kleiner swembadjies vir die kleinspan wat moeg vir trampolienspring raak.

As die land se misdaad jou senuweeagtig maak, kan jy hier gerus slaap, want De Hollandsche Molen het 24-uur sekuriteit.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 19, 2018 by in In die Boland and tagged .