ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Ondergrondse inkerking in Turkye

First published in Rapport, January 2021

Orals waar jy in Kappadosië reis, bespeur jy warmlugballonne

Verbeel jou die volgende: Jy is besig om te timmer aan jou huis. Jy is nou al moeg vir die geneul in jou ore dat die huis te klein vir die hele gesin is. Dan kom jy agter dat daar agter ‘n muur in jou huis ‘n klein versteekte kamertjie is waarvan niemand in die huis geweet het nie.

Jy stel ondersoek in. Die vreemde kamertjie waarop jy afgekom het, lei sowaar na ‘n ondergrondse tonnelnetwerk.

Ditsem, dis Derinkuyu

Dis naastenby wat in 1963 gebeur het toe Derinkuyu, ‘n antieke meervlakkige ondergrondse stad in die Nevsehir-provinisie in Turkye, deur ‘n huisbewoner herontdek is.

‘n Landskap van rotsuitstulpings waar jy nie sommer die ingang na ‘n ondergrondse dorp gaan bespeur nie

Derinkuyu is naby Kappadosië, bekend vir sy landskap met rotsuitstulpings van etlike verdiepings hoog waarbo lugballonne sweef. Dís maar net een van die redes waarom Kappadosië só gewild as toeristebestemming is.

Die tonnels en vertrekke van Derinkuyu is tot 60 meter diep en tot 20 000 mense én hul vee kon op ‘n slag hier wegkruip.

Dié wegkruipers was Christene wat hulself versteek het wanneer hulle deur Moslem-Arabiere in die jare 780-1180 tydens die Bisantyns-Arabiese oorloë aangeval is.

Dit was soms nodig vir die Christene om vir lang tye in Derinkuyu te bly om hul eie veiligheid te verseker.

Dié ondergrondse stad is so groot dat daar boonop oorgenoeg spasie was vir al die kos wat hulle nodig gehad het om te kan oorleef. Binne Derinkuyu was ook onder andere ‘n skool en ‘n kerk.

Kappadosië is vir meer as hul feetjietorings bekend

Om Derinkuyu binne te gaan, moes jy deur ‘n gat in die grond klim. Na die laaste persoon binne was, is die gat versteek. Daar was verskillende gate wat as versteekte ingange gedien het. Daar was egter ook klipdeure – en vals ingange.

Hoe het Derinkuyu ontstaan en wat is daar alles te sien

Volgens die Turkse Departement van Kultuur is grotte vermoedelik in die 7ste en 8ste eeu v.C. in sagte vulkaniese rots in hierdie distrik uitgegrawe. Met verloop van tyd het verdere uitgrawings oor die eeue plaasgevind.

Derinkuyu is die grootse ondergrondse stad wat tot dusver in Turkye ontdek is en is met ‘n netwerk van tonnels met ‘n paar ander ondergrondse stede verbind.

Derinkuyu is die enigste ondergrondse stad wat ‘n uitsonderlike ruim vertrek met ‘n gewelfde plafon huisves. Daar word geglo dat dié ondergrondse kamer as ‘n godsdienstige skool gebruik is en dat die vertrekkies wat daaruit lei die studeerkamers was.

‘n Mens kan jou verkyk aan hoe die vertrekke aan mekaar verbind is en jou probeer verbeel hoe die lewe daarbinne moes geskied het

Buiten die skool is daar stalle, kelders, stoorkamers, parskuipe en fasiliteite om olyfolie te pers, wynkelders, eetsale en kapelletjies. Daar is selfs vertrekke uitgesit waar dié wat afgesterf het, se liggame vir tyd en wyl neergelê kon word. Dit het beteken dat die lewe onder die grond tot ‘n groot mate gewoonweg kon aangaan vir so lank was wat dit nodig was.

Ons gids het vir ons vertel van die vals ingange wat ook voorgekom het. Sou die vyand daar inkom, kon die ondergrondse inwoners met ‘n versteekte tonnel tot bokant die verdieping waar die maaifoedies hul bevind het, uitkom. Dié verdieping sou in ‘n doodloopstraat eindig. Voor die vyand tot aan die einde van die doodlooptonnel kon beweeg, sou die  verstekelinge dan vermoedelik ‘n klipdeksel oplig en kokende water of olie oor die vyand uitgooi. Aldus die gids.

Skuins loopvlakke en stelle trappe het die verskillende verdiepings onder die grond met mekaar verbind

Elke ondergrondse verdieping is met die volgende verdieping aan mekaar verbind, eers met skuins loopvlakke en dan vanaf die derde verdieping met stelle trappe. Op die vyfde verdieping van Derinkuyu is ‘n kerk wat in die vorm van ‘n kruis uitgehol is.

Historici glo dat die ventilasieskag van 55 meter – daar is verskeie kleiner ventilasieskagte ook wat gesorg het dat vars lug in die ondergrondse stad sirkuleer – as ‘n put gebruik is. Dié put het as bron van water gedien gedurende normale tye wanneer dit nie nodig was vir enigiemand om hulself te versteek nie én wanneer ondergrondse inperking nodig was.

Toe en nou in Derinkuyu

Die ondergrondse stede van Nevsehir-provinsie is tot en met die 1900’s steeds by tye deur die Kappadosiese Grieke gebruik. In 1923 is dié Griekse Christene gedwing om Turkye te verlaat en hul moes hulself noodgedwonge in Griekeland hervestig.

Die Turke van die omgewing het nie mooi geweet waar die versteekte ingange van die tonnels na die ondergrondse stede was nie. Kort voor lank het die ondergrondse stede vergete geraak.

Na dié uitgebreide wegkruipplekke per abuis in 1963 weer ontdek is, is die ondergrondse stede as besienswaardighede in 1969 geopen. Die helfte van Derinkuyu kan nou deur toeriste besoek word.

So sien die uitgebreide distrik waar die ondergrondse stede voorkom, daar uit

Derinkuyu is by verre nie die enigste ondergrondse stad in hierdie geweste nie. Behalwe Derinkuyu, is Kaymakli is een van die grootste en bekendste ondergrondse stede. Dié twee stede is met mekaar verbind.

Kaymakli bestaan uit sowat 100 tonnels waarvan sommige nog steeds deur die plaaslike inwoners as stoorkamers, stalle en kelders gebruik word.

Die tonnelgangetjies van Kaymakli is nouer en steiler as dié van Derinkuyu. Vier verdiepings van Kaymakli is oop vir toeriste. In 2015 het National Geographic berig dat nóg ‘n ondergrondse stad in Nevsehir ontdek is. Voorlopig lyk dit asof die nuut ontdekte stad se tonnels so diep as 113 meter kan wees en daar word vermoed dat dit soveel as ‘n derde groter as Derinkuyu kan wees. Lees meer oor die vonds by: https://www.nationalgeographic.com/news/2015/03/150325-underground-city-cappadocia-turkey-archaeology/

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 26, 2021 by in Europa.