ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Bekoring van die B-dorpe

First published in Die Burger, March 2020

B-eleef Dorpe wat begin met ‘n B

Botrivier, een van die B-dorpe, het sy naam ontleen daaraan dat hier vanmelewe botter gemaak is

Dit maak nie saak in watter jy rigting ry nie, van suid na noord, van wes na oos, orals in Suid-Afrika is daar dorpies en gehuggies wat jou aan die hart sal gryp. Suid-Afrikaners laat nie altyd hul medelandgenote leef en laat leef nie, maar ten minste bied ons land ons baie om te beleef.

Kom ons gaan speels om met dorpe wat met ‘n B begin en wat ‘n mens daar kan beleef. Die spreekwoord lui mos: Wie a sê (www.netwerk24.com/Ontspan/Buite/a-ttraksie-van-die-dorpe-20200217), moet ook b sê.

‘n Klipgooi van Kaapstad lê Bantrybaai en die Bo-Kaap

Bantrybaai en die Bo-Kaap het elk sy eie besonderse bekoring wat nie met mekaar vergelyk kan word nie.

Soos wat jy vanaf Bantrybaai in die rigting van Houtbaai ry, is daar baie om te sien

Op Wikipedia is al wat ‘n mens oor Wikipedia lees dat dit ‘n voorstad van Kaapstad is en dat daar volgens die 2011-sensus 820 mense gewoon het. Dit is ‘n onreg teenoor Bantrybaai, as jy my vra.

Oorspronklik was Bantrybaai as Botaniebaai bekend. Nou staan hier egter die een ultraluukse woning en woonstelblok op die ander. In Maart 2019 is ‘n woonstel in Bantrybaai vir die rekordprys van R80 miljoen rand verkoop. Dís hoe eksklusief Bantrybaai is en dis geen wonder nie, met ‘n uitsig oor die see tot by die gesigseinder.

Die Bo-Kaap se sjarme oorrompel jou met die intrapslag

Die Bo-Kaap is maar enkele kilometer vanaf Bantrybaai. Hier vier die Kaap-Maleise kultuur hoogty. Met ‘n besoek aan die Bo-Kaap kan jy foto’s van die kleurvolle huisies neem, Maleise en ander speserye sowel as wierook by Atlas Trading Company (www.atlastradingcompany.co.za) koop, by die Rose Corner Café indraf vir brood en melk, om twaalfuur smiddae gaan kyk en luister hoe die Middagkanon (Noon Gun) (www.bokaap.co.za/noon-gun/) afgeskiet word en koffie drink by Batavia (www.bataviacpt.co.za).

Drink koffie by Batavia tussen die rondwandel in die Bo-Kaap deur

Kom CY in Bellville en kyk na ons berg vanaf Bloubergstrand

Die stad Bellville is vernoem na Charles Bell, ‘n voormalige landmeter-generaal van Kaapstad. Die reisskrywer T.V. Bulpin het 50 jaar gelede reeds geskryf dat Bellville allesbehalwe ‘n groen voorstad oftewel “tuindorp” is. In 1940 het Bellville munisipaliteitstatus verkry; in 1979 is dit as stad verklaar.

Voortrekkerweg strek al die pad van Soutrivier tot anderkant Bellville

Deesdae is Bellville seker die bekendste vir die vervalle Voortrekkerweg en as tuisdorp van Suid-Afrikaanse alternatiewe rockgroepe soos Fokofpolisiekar en Van Coke Kartel sowel as van Jack Parow (wat, ondanks sy van, in Bellville, nie in Parow nie, gebore is).

Vanaf Bloubergstrand (www.sa-venues.com/things-to-do/westerncape/bysuburb/bloubergstrand/) het jy ‘n ongeëwenaarde uitsig op Tafelberg. Hier is sekerlik al miljuisende foto’s van “ons” berg geneem – Tafelberg onder ‘n wolk gehul, op ‘n mooi sonskyndag of op ‘n dag wat die wind perdjies op die see opjaag.

Bloubergstrand is die mekka vir vlieërskiërs. Jy kan hul manewales, soms afgeëts teen die berg of teen ‘n vragskip wat wag om die Kaapstadse hawe binne te gaan, vanaf ‘n handvol restaurante dophou.

B-redasdrop en drie ander B-dorpe in die Overberg

Die Overberg spog sommer met vier B-dorpe: Botrivier, Bettiesbaai, Baardskeerdersbos en Bredasdorp.

Terwyl jy in Botrivier is, eet garnale by Manny’s en drink ‘n dop in die Botrivier Hotel

Botrivier lê aan die anderkant van Sir Lowryspas. Die dorp se naam is afgelei van die botter wat lank terug hier gemaak is. By die Botrivier Hotel (www.bothot.co.za)  kan jy soos vanmelewe oorslaap (party van die kamers spog met ou platespelers en radio’s). ‘n Kuier in die karaktervolle kroeg moet ook nie misgeloop word nie.

As jy jou sleutel van die Botrivier Hotel vergeet, het jy mos rede om terug te moet gaan, dan nie…

Die Betty van Bettiesbaai was Betty Youlden, die dogter van Arthur Youlden, wat saam met Harold Porter en Jack Clarence dié area begin ontwikkel het. Die Harold Porter Botaniese Tuin (www.sanbi.org/gardens/harold-porter/) is bekend vir sy Kaapse fynbos. Om by Bettiesbaai uit te kom, is die mooiste roete langs Clarence-rylaan (https://www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/item/95-clarence-drive,-gordons-bay.html) tussen Gordonsbaai en Rooiels.

Tot ‘n paar jaar gelede kon Baardskeerdersbos naby Elim en Gansbaai net met ‘n grondpad bereik word. Sedert die pad geteer is, het die eens landelike nedersetting omtrent ontpop. Hoewel daar nog steeds slegs enkele strate is, sal jy ‘n kunsgalery of twee, ‘n restaurant of twee en drie kroeë raakkuier. Baie kunstenaars het die dorp hul tuiste gemaak.

Die mooie NG Kerk (so ook die NG Kerk in die buurdorp Napier) en die Skeepswrakmuseum (www.sa-venues.com/things-to-do/westerncape/visit-the-bredasdorp-shipwreck-museum/) is twee van die redes om Bredasdorp te besoek. In die stil straatjies sal jy ook antiek- en koffiewinkels en die ou tronkgebou sowel as nog ‘n mooi kerkie of twee teëkom wat jou langer sal laat vertoef.

Bonnievale en Barrydale lê op die R62

Op die R62 wat Ashton met Humansdorp verbind lê twee B-dorpe naamlik Bonnievale en Barrydale. As jy hul name vinnig afryg, klink dit kompleet of jy ‘n kinderrympie opsê.

As jou siel verkwikking nodig het, bied Bonnievale (www.info-bonnievale.co.za) en omstreke gastehuise en plaasverblyf by uitstek. Tydens jou wegbreek kan jy by naburige plase wynproe en kaas koop.

Barrydale is ‘n tipiese Klein Karoo-dorpie wat bykans niemand onaangeraak laat nie

As jy verkies dat jou wegbreek minder aan die rustige kant moet wees, bied Barrydale hope om uit te kies. Jy sal langer as ‘n naweek hier moet bly as jy al die restaurante wil uittoets. Dan moet jy ook nog tyd inruim om die snuffelwinkeltjies en die uitstekende tweedehandse boekwinkel, House of Books, te besoek. Bly oor in die Karoo Art Hotel (www.karooarthotel.co.za) en besoek ook hul The Gallery Restaurant.

Maak spoor kloof toe

‘n Foto van die ou Bainskloof Hotel wat, helaas, nie meer bestaan nie

Bainskloofpas (www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/item/37-bains-kloof-pass,-wellington.html) buite Wellington in die Wes-Kaap is na die ingenieur en pasbouer Andrew Geddes Bain vernoem en is reeds in 1853 geopen. Die pas is ‘n nasionale denkwaardigheid en die uitsigte vanaf die pas maak dit die moeite werd om spesiaal daarvoor oor die pas te ry.

Die Baviaanskloof-wildernisgebied (www.baviaans.co.za) lê in die Oos-Kaap en sluit ‘n paar natuurreservate in. Hiernatoe kom jy om jou batterye te herlaai en jou te verwonder aan die natuurskoon.

Twee fonteine… maar nie om uit te drink nie

As jy op die N7 na Namibië ry, swiep jy verby die klein dorpie, Bitterfontein, in die Knersvlakte. Op Wikipedia lees ek dat die spoorlyn van Kaapstad na Namakwaland hier tot ‘n skielike einde kom. Ek het nog nie van iemand gehoor wat spesiaal by Bitterfontein stop nie, maar nou laat dit my wonder of ek nie moet gaan kyk hoe dit lyk waar ‘n treinspoor eindig nie.

Bloemfontein, die hoofstad van die Vrystaat, staan bekend as die Rosestad. Op hul webwerf (www.bloemfonteintourism.co.za) spot Bloemfontein Toerisme self dat Gauteng vyf jaar agter die res van die wêreld is en dat die Vrystaat vyf jaar agter Gauteng is! Dis egter met hul tong stewig in hul kies, want jy kan verder aan op Bloemfontein se webwerf lees van feeste, aktiwiteite, restaurante, sportbyeenkomste, markte en teatervertonings wat jou in dié stad goed besig sal hou.

As jy vanaf Kaapstad na Bloemfontein ry, is Beaufort-Wes (www.beaufortwest.net) na sowat 5 uur se ry ‘n stilhouplek vir brandstof, iets kouds om te drink en ‘n pastei of toebroodjie. Vanaf Beaufort-Wes na Bloemfontein is dit nog ‘n stewige ses uur se ry.

‘n Hap van ‘n groot pynappel

Bathurst is bekend vir sy groot pynappel en vir die Pig and Whistle Hotel

Bathurst (www.sa-venues.com/things-to-do/easterncape/bysuburb/bathurst/) in die Oos-Kaap is deel van die gebied waar die 1820-Setlaars hulself ingeburger het. Dis ‘n dorp met ‘n hippie-styl waar jy binnein die grootste pynappel in die wêreld (www.atlasobscura.com/places/the-big-pineapple-bathurst-south-africa) na pynappeluitstallings kan kyk, aan die kroegtoonbank in die oudste gelisensieerde kroeg, Pig and Whistle (www.pigandwhistle.co.za) in Suid-Afrika kan hang en ook ‘n landboumuseum (www.bathurstmuseum.co.za) kan besoek.

2 comments on “Bekoring van die B-dorpe

  1. Tannie Frannie
    January 21, 2021

    Daardie CY-nommerplaat van Belville het glo gestaan vir CowboY. Lekker gelees – soms ook met heimwee – oor al die B-dorpe.

  2. ilsez
    March 21, 2021

    Ha haaaa, nog nie dit gehoor, Tannie Frannie! CowboY ha haaaaa.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 21, 2021 by in Die res van Suid-Afrika.