First published in Die Burger, March 2019
Hier volg ‘n biegsessie: ek is gek oor hoenders. Ek kan tot klein hoenderkraai oor hulle gesels, ook oor dié wat ek as laerskool- en hoërskoolkind as troeteldiere gehad het. Tot hulle van ouderdom afgesterf het en plegtig begrawe is. Met ‘n tranedal natuurlik.
Daar was Sarie en Sarel, Josie en Sigi, Nonnie, die kapokhennetjie, Hokus en Pokus… Wag, ek dwaal af.
Tot vandag toe kry ek hoendervleis van lekkerte as ‘n restaurant, ‘n gastehuis, ‘n koffiewinkel hul lyf hoenderhaan hou.
Village Trading Post Restaurant, De Rust
De Rust, ‘n halfuur se ry buite Oudtshoorn, is amper so klein dat as jy jou oë met die deurry knip, jy die dorpie nie gaan raaksien nie. Dít wil jy nie hê moet gebeur nie, want in Schoemanstraat wat deur die middel van die dorp loop, is daar ‘n hele paar plekkies wat smeek dat jy moet indraf.
Dis onmoontlik, selfs as jy oogknip, om die ysterhoenderhaan op sy eie paal op die hoek van Schoeman- en Hoopstraat mis te kyk. Village Trading Post is waar dié haan koning kraai.
Dis ‘n windmaker haan, dié. Hy staan nou nie wel nie op ‘n kerktoring nie. Om van ‘n mishoop nie te praat nie! Hierdie haan is nie sommer ‘n kapokhaantjie nie.
Die einste hoenderhaan word elke dag opgedres. Soms fladder ‘n rooi serp om sy nek; ander kere is dit ‘n lang string silwer krale wat amper tot op die sypaadjie hang. Die volgende dag moet die voetgangers keer dat die haan se hoed nie van sy hanekam afwaai nie. Solank dit fênsie is, pronk die ysterhaan daarmee.
By Village Trading Post word jy met die instapslag gul gegroet. Koffie word flink aangedra; verken eers die agtertuin voor jy jou sit kry. Woorde uit gedigte van Ingrid Jonker maak ‘n kurwelyn teen die muur, gekleurde glasboeie aan ‘n tou vang die lig van die son en op die mosaïekfontein pryk ‘n pou.
Behalwe vir sementtafeltjies vanwaar jy die kelner kan naderwink is daar ook ‘n kunsgalery met eksklusiewe kuns en geskenkitems in Village Trading Post se tuin.
As jy nie spesiaal hiernatoe gery het omdat die roosterkoek of gevulde pannekoek vir ontbyt so hoog aanbeveel word nie, vra wat op die daaglikse spyskaart vir middagete bedien word. Nee, vra in elk geval.
Village Trading Post is bekend vir boerekos met ‘n twist, wat in boereporsies bedien word. As jy eers een keer hier was, keer jy keer op keer terug.
Al aanbeveling wat ek kan maak, is dat daardie haan ‘n strikdas kort! Dán sal daardie haan nooit ophou kraai nie.
El Gallo Gasteakkommodasie, Napier
In die middel van Napier se Hoofstraat staan ‘n blikhoenderhaan met uitgeplukte vere op ‘n pilaar. Sy naam is El Gallo, maar dit kon netsowel Blikaspaai gewees het. Hy is omtrent so groot soos ‘n jong Rottweiler.
Sy bene is goudgeel en bra knopperig; onder sy kanariegeel en potblou vlerke kruip ‘n goedvermomde stoofplaat weg; sy rooi en groen stertvere steek in alle rigtings uit; en sy snawel lyk of dit eens as ‘n knyptang diens gedoen het. Dis die werk van kunstenaar Ulrich Riek wat oorwegend herwinbare materiaal soos onder andere implemente vir sy kuns gebruik.
El Gallo is nie ‘n weerhaan nie; El Gallo wys waar gasteakkommodasie in ‘n mosterdkleur dorpshuisie beskikbaar is.
Die dorpshuis is in twee gedeel; elke deel bied slaapplek aan twee tot vier gaste. Akkommodasie sluit nie ontbyt in nie hoewel dit gereël kan word.
Meer as ‘n handvol restaurante is binne stapafstand; om die waarheid te sê dis binne strompelafstand. As jy eers geparkeer het, hoef jy nie weer jou voertuig te gebruik totdat jy weer vertrek nie.
Café BonBon, La Petite Dauphine, Franschhoek
La Petite Dauphine, die tuiste van Café BonBon, is ‘n werkende vrugte- en wynplaas. Café BonBon is binnein ‘n 200-jaaroue gerestoureerde kelder gesetel.
Binnein die keldervertrek is dit heerlik koel in die somer en knus in die winter. Dis nou as jy jou nie laat verlei nie deur die terras vanwaar jy op ‘n dam met ‘n spuitfontein, omring deur bome, uitkyk.
Op die terras pik-pik ‘n arrogante rooibruin hen wat lyk asof sy die werf regeer. Sy’s nogal plomp, moontlik omdat baie gaste haar heel gemoedelik voer. En sy’s vertonerig – dís nou ‘n hoender wat loop of sý ‘n hoender in die bank het. Allesbehalwe ‘n kroes hoender.
Gewilde disse op die spyskaart sluit in biefstuk met truffle-en-parmesaan-skyfies, gerookte forelceviche, suurlemoenmeringuetert en kaaskoek.
www.lapetite.co.za/cafe-bonbon/
The Well Seasoned Hen, Franschhoek Mark
Op Saterdae is dit Franschhoek se Dorpsmark. Dis omtrent ‘n belewenis: die kosstalle het almal produkte van uitstaande gehalte, daar is musiek wat in almal se smaak val en jy kan onder die akkerbome sit en mense kyk, oor die lewe peins of vriende ontmoet.
The Well Seasoned Hen is een van die kosstalletjies met ‘n verskil.
Empanadas (Argentynse halfmaanpasteitjies) is een van hul spesialiteite. Met hul vulsels het hul egter ‘n knuppel in die hoenderhok gegooi. Daar is vlakvark met soetpatat, bobotie, en spek en soetmielies.
Nie lus vir ‘n empanada nie? Wat van tapas, vars slaai of ‘n croque monsieur (Franse ham-en-kaas-broodjie)?
Hul plesierige, aweregse uitkyk word weerspieël in die woorde op die swartbord wat knap onder die empanadas staan: “Ek wil in ‘n wêreld woon waar die hoender die pad kan oorsteek sonder dat sy motiewe bevraagteken word”.
Behalwe empanadas verkoop hulle ook vars plaaseiers.
So tussen die hoenders en die kinders
Die mak hane en henne wat op die werf rondskrop, is na dissipels vernoem. Hulle is só mak dat jy hulle kan optel en hul wange of rooi lelle kan soen. So ‘n hoenderdrukkie is so skaars soos hoendertande. Loer liefs eers op Tripadvisor na onlangse besoekers se ervaring voor jy slaapplek bespreek.
Ek wil self nog gaan loer of dié hoender van die werf af is of nog koning kraai.
Recent Comments