ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PURE BASAAR(PLESIER)

First published in Die Burger, July 2014

(Please check current links and information as it might have changed as far as the bazaars go)

Daar’s twee soorte mense – diegene wat basaarpoeding met rooi of groen jellie uitsoek of diesulkes wat ekstra skeppies skuimpoeding nadertrek. Wys my iemand wat hul neus vir basaarpoeding optrek en ek wys jou iemand wat nie weet hoe om voluit te leef nie.

Staan in ‘n ry vir pannekoek

Op kleiner dorpies regdeur die land word daar nog met oorgawe basaar gehou. Tombola word gespeel; veiling gehou ; en altyd met gebed geopen.

Almal saam nou na links

As jy op pad na ‘n plattelandse basaar is, weet jy nie wat om in die pad te verwag nie

Êrens in ‘n hoek staan ‘n wit-olifant-tafel met macramé-planthangers, ponsskottels met bekertjies wat aan die rand hang, getjipte skottels en fonduekastrolletjies met rooi-groen-geel vurkies.

Tannies wedywer om pannekoeke plafon toe te gooi net om dit weer met presisie in panne te laat land. Pannekoektannies beklee ‘n sekere status in elke gemeente. Daar word nie sommer vir nuwelinge plek gemaak nie. Dit moet iets in die kaneel of bruinsuiker wees, want gewoonlik leef hulle tot ‘n rype ouderdom.

Tafels kreun onder melktert met skilferkors (volgens geheime familieresepte gebak), kolwyntjies en Hertzoggies. Tafels spog met hekelkomberse, oorgetrekhangers, breibeertjies, teepotmussies en borduurvadoeke.

Wat sou ingele wees...

By BBos Basaar is daar ingelegte ‘ingele’ en perskes

Langsaan staan inlegperskes in gelid; kwepers skyn ligpienk in kênfroet-flesse; kerrieboontjies laat jou verlang na jou ma; slaphakskeentjies laat jou aan ouma dink.

Basaars is volop en propvol

Op die verhoog – of agter in die saal – word tee en skons deur vrywilligers bedien. Nie te ver daarvandaan word maalvleis- of hoenderjaffels verkoop. ‘n Jaffel smaak – onverklaarbaar –anders en soveel beter as ‘n roostertoebroodjie, veral by ‘n kerkbasaar.

Die geur van braaivleis hang in die lug. Kort voor lank kry jy so lus vir ‘n tjoppie of sosatie dat jy onwillekeurig naderstaan. Gelukkig is die roosterry nooit so lank soos die pannekoekry nie.

In sommige distrikte skenk boere vars groente en vrugte wat teen ‘n appel en ei opgeraap word. By Baardskeerdersbos-basaar is onlangs ‘n pragtige perd (R1000),  dragtige koei,welriekende bokram en twee swart miniatuurvarkies (R400 elk) verkoop.

In Napier is hierdie jaar turksvy-eetkompetisie gehou en ‘n drom  turksvye opgeveil.

So maak Baardskeerdersbossers

Ongetwyfeld is daar min basaars waar ‘n mens witblits – of heuningblits – aantref.  By Baardskeerdersbos staan bottels witblits trots tussen oordadige bosse proteas. Sommer met die intrapslag skink ‘n besnorde omie vir sy drinkebroer ‘n doppie in ‘n bottelproppie.

Witblits en proteas by die Baardskeerdersbos se basaar te koop

Witblits en proteas by die Baardskeerdersbos se basaar te koop

Slaan die bod toe

As daar flink begin bie word, is daar gewoonlik ‘n beroering onder die skare. Stel jou voor: ‘n gemmerbroodhuisie, draadkar, omkeerbare pop – een kant is Rooikappie en die ander kant die wolf – wat deur afslaers omhoog gehou word.

Lanklaas so 'n draadkar gesien

Lanklaas so ‘n draadkar gesien

Een omie druk die note sommerso in sy bo-sak terwyl ‘n pampoen as tafeltjie vir noukeurige opskryfwerk dien. Dís hoe ‘n mens basaar hou.

Daar’s geen groter vreugde as myne toe die bod vir die einste pampoen (30 kilogram) op my toegeslaan word nie. ‘n Gewillige kerkganger dra die bielie skouer omhoog grondpad af. Dalk moes ek maar ‘n ou varkie gekoop het…

 In Philadelphia:
Philadelphia se eerste kerkbasaar is in 1871 gehou; 150 pond is ingesamel. Die basaar word tradisioneel op die eerste Vrydag in September gehou.
Die grootste aantrekkingskrag is die vleis – honderde kilogram wors word verkoop.
In “’n Nostalgiese reis deur die Koeberg”  (saamgestel deur Deon Steyn) word vertel dat Ds HJ Vorster die gebruik om die basaar met ‘n skoot te open, begin het. Een jaar het die dominee die TV-weeraanbieder oorreed om aan te kondig dat dit mooiweer tydens die basaar op Philadelphia sou wees!  ‘n Ander jaar het hy, toe die wors opgeraak het, vinnig by ‘n supermark nog gaan koop. Dit het nog nooit weer gebeur nie!

 

Nog ‘n paar basaars:
·        Kyk op http://ngkerkhopefield.co.za/ons_jaarkalender_4.html wanneer daar regdeur die jaar aan die Weskus basaar gehou word.
·        Koringberg en Middelpos hou ook basaar. www.facebook.com/MiddelposBasaar en http://www.swartlandtourism.co.za/koringberg-events/248-koringberg-basaar

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 4, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .