ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

My hart verlang na die Boland

First published in Die Burger, March 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Een Twee Drie, dissie Boland dié

As die Boland eers in jou hart gekruip het, is dit daar om te bly. Daar is al vele maal oor die Boland gedig; in Lina Spies se woorde het sy “verkaaps omdat die Boland die blouste berge en die langste winters het”.

Behalwe bloupers berge en groen wingerde, het die Bolandse dorpies se hoofstrate ook vele aandoenplekkies om jou jou kuiers te laat uitrek.

Akkerbome, eekhorings en slawehuisies

Daar is selfs eekhorinkies en uile in Stellenbosch se strate

As jy by elke koffiekroeg in Dorpstraat, Stellenbosch ‘n dosis kafeïen inneem, sal jy die res van die dag die ene ritteltit hê.

Skop jou onderrok uit in Stellenbosch

The Blue Crane and The Butterfly het blykbaar die beste koffie op die dorp; en ‘n pragtige gedig op ‘n swartbord wat die oorsprong van hul naam verklaar. By Mill House Coffee House is Stellenrooibos ystee as jy al terdeë sat van koffiekapitaal is. Liza’s is ‘n gewilde bymekaarkomplek; hul kaaskoek is gemaak met óf Nutella-sjokoladesmeer óf grondboontjiebotter.

Ontmoet by Liza's vir koek en tee

Dorpstr Deli en Mila The Cake Shop het kragte saamgesnoer. Mila is ‘n pienk paradys met flesse outydse lekkers en roomys.

Trots Afrikaans

Met hul trots Afrikaanse naam verower Oppiedorp harte as daar na die kommentaar op verskeie webwerwe gekyk word. The Big Easy bly gewild onder Stellenboschers wat elkeen ‘n ander hoekie het waar hul graag sit en koukus.

By Casparus sit jy heerlik half-binne, half-buite. Hul immergewilde geregte is seer sekerlik die warm oestervoorgereg in ‘n Cap Classique-sousie sowel as die beesstert-en-kalamari hoofgereg.

Jan Cats het ‘n omvou-stoep soos ‘n plaashuis van ouds. Jy’t nie ‘n koerant nodig nie; jy kan sommer die interessante tafeldoeke lees.

Swaar dra aan die bokant by Verbatim

 

Die lewe bestaan darem nie net uit spys en drank nie. Strijdom van der Merwe se installasiekuns is by Casparus te sien. Die kunsuitstallings by D-Street Gallery daag jou uit om na te dink en soms om selfondersoek te doen. By Verbatim is drie die gelukkige nommer: hier is boeke, koffie en sjokolade; hul boeke is nuut, gebruik of seldsaam.

Jy's wragtig mooi

Alhoewel Dorpstraat heelwat verkeer dra, is dit salig om onder die akkerbome en langs die kanale van bo na onder, of onder na bo,  te stap.

Die langste hoofstraat in die land is in die Paarl

'n Vrolike sypaadjie in die hoofstraat van die Paarl

Dis ‘n ellelange hoofstraat dié. Doen eerste aan by Frater Square wat deesdae van krag tot krag gaan. ‘n Splinternuwe Melissa’s het enkele weke gelede oopgemaak. Binne is dit so besig soos ‘n negosiewinkel; buite is dit stiller en rustiger. Die Paarliete laat nie op hul wag nie – hulle daag in strome hier terwyl hul loer wie hul by  aangrensende tafels ken.

Die nuwe Melissa's in die Paarl is reeds 'n groot treffer

Op met die trappe vind jy Wild Orchid. Hul uitrustings is inderdaad so elegant soos ‘n orgidee, maar met genoeg aweregsheid om jou nie soos almal anders rondom jou te laat lyk nie.

Wild Orchid Boetiek is die ene elegansie met 'n skeut andersheid

As jy soos Sneeuwitjie voel, loer by Blanc de Blanc in, want hier’s alles in skakerings van wit, soms silwer.

Noop se stoep vra vir lank sit

Sou jy jouself hier teen vroegmiddag se kant in die Paarl bevind, is Noop die plek waar jy graag wil wees. Noop is in ‘n sierlik opgeknapte Victoriaanse huis.

'n Winkelpop met houding by Nothing Plein

Oorkant die straat is Nothing Plein – hul winkelpoppe wink jou wulps na binne. Hier is vroue van begin tot einde aan die roer van sake.

‘n Tikkie Europees in ons land

Franschhoek spog met geskiedkundige geboue, uitstekende restaurante en heelwat winkeltjies

Franschhoek is nie net ‘n toeriste-mekka nie; as jy jou sintuie wil laat feesvier, is daar min dorpies wat méér bied.

Peusel aan 'n kersiesjokolade terwyl jy straatlangs stap

Knap by die ingang van die dorp is Place Vendome, ‘n oase van wit en groen. Sit by Pistachio aan vir ontbyt onder sambrele in die oop binnehof of in ‘n sjiek glaskajuit. Drink ‘n glas vonkelwyn by die sjampanjekroegie wat tot onlangs heel gepas Fizz Affair geheet het.

Franschhoek het meer as 'n handvol kunsgalerye

Beloon jouself – sommer net omdat jy dit altyd verdien – by Agent Provocateur met Royal Jelly badpêrels, ‘n masseer-eendjie of verleidelike lingerie. By Envy is geblomde tuinvurkies, skulpslaailepels en ‘n blaasbalk (van Robertson Church Bellows) met beesvel oorgetrek. Op Alchemy se elegante swart rakke pryk die hele reeks CowShed produkte, skedeloorbelle met blinkertjies en Franse lyfroom.

DSC_1747

Op Saterdagoggende word daar mark op die plein gehou. Loop peusel-peusel onder deur die bome; drink bier van mikro-brouerye; gesels met vriendelike Rastafariërs van die Franschhoek Inheemse Medisinale en Kruie-tuin.

Die mense van Franschhoek se inheemse medisinale en kruie-tuin beskik oor 'n magdom kennis

Franschhoek spog waaragtig met van die beste restaurante, nie net in die Boland nie, maar in die hele land. Vir ‘n meer ontspanne atmosfeer bied Col Cacchio skadu-sitplek terwyl jy die sypaadjie-manewales kan aanskou.

DSC_1705

Net oorkant is La Cotte Inn,‘n wyn-en-kaaswinkel wat aan ‘n ondergrondse kelder met romantiese beligting herinner .

In die Boland is die tyd altyd te min. Hopeloos te min.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 6, 2018 by in In die Boland and tagged .