ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Fopdos en familiewapens in Steytlerville

First published in Beeld, date unknown

Steytlerville het sy eie privaat motormuseum

Jy is nou in Steytlerville!

Hoe kom ‘n mens die eerste keer by Steytlerville uit? Vriende vertel van ‘n oordadige hotel wat op Saterdagaande ‘n kabaret en fopdosservertoning aanbied – dis hóé.

Dan kom jy op ‘n gelukspakkie van ‘n dorpie af. Ja, jy kyk kabaret en fopdos, maar jy ontdek nog soveel meer.

Met die inry wapper daar verskillende reghoekige vlae met familiewapens aan elke lamppaal in die hoofstraat oftewel Piet Retiefstraat wat in Sarel Cilliersstraat oorloop.

Die vanne van Steytlerville se inwoners word op baniere in die hoofstraat uitgebeeld

Die vanne van Steytlerville se inwoners word op baniere in die hoofstraat uitgebeeld

Soek jou van, of jou skoonfamilie s'n

Soek jou van, of jou skoonfamilie s’n

Dis die familiewapens van om en by 80 Steytlerville-families. Families van die dorp en distrik wat nie hul eie wapen het of weet hoe dit lyk nie, kon hul eie ontwerp. Met erns of met speelsheid. Dis hoekom jy van ‘n garetolletjie tot ‘n koekbakpan en van ‘n skaapskeerskêr tot sokkerpale en rugbyballe op die vlagvaandels sal sien.

‘n Eertydse winkelier se seun het gedog ‘n winkeltrollie sou die ding vir sy familie kon doen. ‘n Inwoner wat besonder lief vir die voggies van die druif is, het die wens uitgespreek dat ‘n druiwetros as simbool gebruik moet word.

Kyk mooi – perdalks pronk jou van en familiewapen ook daar. Die vlae is in 2003 opgehang.

Daar is nog vlae in Steytlerville. Of altans net buite Steytlerville in die Vallei van die Vlae. Suid-Afrika se geskiedenis word deur ses eeue se landsvlae uitgebeeld wat op rotse langs die R329 geverf is.  Inligting oor die vlae is op ‘n klipmuur by die buitelug-implementemuseum aangebring.

Dít lees ek egter eers na my besoek aan Steytlerville. Dit kom nou daarvan as jy van Royal Hotel na Theatrical Karroo Hotel kuier. Lekker, man, lekker.

Terwyl jy te voet jou – of jou skoonfamilie se – familiewapen soek, hou ‘n oog oop vir die Pegasus Early Motoring Museum of vir The Verandah koffiewinkel. Beide word op dieselfde erf (Sarel Celliersstraat 52) gehuisves.

Brrrmmm, daar’s ‘n hele paar Fords by die motormuseum. ‘n GT40, ‘n 1937-model, ‘n Anglia en ‘n Cortina. Dit roep herinneringe op van ‘braaivleis, sunny skies en Chevrolet’ uit die tagtigerjare.

By Pegasus is dit India Tyres, Shell en Ford Motors wat onder andere herdenk word

By Pegasus is dit India Tyres, Shell en Ford Motors wat onder andere herdenk word

Antieke motors in gelid by die Pegasus Early Motoring Museum

Antieke motors in gelid by die Pegasus Early Motoring Museum

Die Pegasus Early Motoring Museum is nie net vir petrolkoppe nie. Of vir mense wat Fordofiele is nie. Daar’s ou petrolpompe, advertensies uit vanmelewe se dae van veilige India-motorbande, Shell- en Pegasus-motorolie en Ford-motors uit Detroit, en waarskuwingsborde dat hier nie gerook mag word nie. Ook ‘n ‘tireflator’ op ‘n staander. En ‘n klein antiekwinkeltjie.

Nee man, dink voor jy doen. Of vat. As ‘n plek – in hierdie geval ‘n motormuseum – só spiekeries lyk en só blink gepoets is, lê jy nie ‘n vinger daarop nie. Of vrá eers vir Jurie Prinsloo, die trotse eienaar.

Die Prinsloo-egpaar het hul stadslewe verruil vir ‘n lewe van rustigheid – sonder gejaagdheid – op Steytlerville. Op die dorp is hulle ook betrokke by diere wat op een of ander manier seergekry het of wat op welke wyse ook al ondersteuning nodig het. Dit beteken nié jy kan die bakoorjakkalsie wat nie meer na homself kan kyk nie, se wange soen nie.

In die Pegasus Early Motoring Museum word ook ‘n ou perdekar wat direk met Steytlerville se geskiedenis verbind word, uitgestal.  Langs die perdekar word die storie uiteengesit: “Steytlerville is in 1876 gestig. In Julie 1895 het ene Schoonees hom op Steytlerville as ‘n smid gevestig. Hy het hom hoofsaaklik toegespits op die maak van karre en waens tot einde 1945.”

Die perdekar by Pegasus is in 1895/6 deur Schoonees vir ‘n weduwee van die plaas Springbokvlakte gemaak. In 1974 het haar kleinseun die toe reeds gehawende erfstuk aan die plaaslike museum geskenk. By dié museum het die perdekar jare lank onder die afdak van ‘n skaapkraal gestaan. Na die jongste seun van die karmaker dit as die werk van sy vader geëien het, is daar met hom ooreengekom dat die kar gerestoureer word en sy trotse plek by Pegasus kon inneem.

By The Verandah aan die voorkant van die werf kan jy koffie drink – die beste in die wêreld, sê sommige nogal ewe voorbarig – en aan muffins smul. Die stoepmure is beskryf met boodskappe soos “Knap gedaan!” en “So ‘n onverwagte klein oase!”

Tel die vlae soos jy hiervandaan straat op verby die NG Kerk na die Royal Hotel (Piet Retiefstraat 20) loop. Steytlerville se NG Kerk is die grootste Eduardiaanse kerk in suidelike Afrika en het sitplek vir 1200 mense.

Die Royal Hotel is 'n gewilde oornagplek

Die Royal Hotel is ‘n gewilde oornagplek

Ag, daar’s iets aan ‘n plattelandse hotel wat my hartsnare roer. Die einste Royal Hotel laat ook motorfietsryers se hart tjôklits klop. Gelukkig speel dié tipe agtergrondmusiek nie in die gesellige kroeg nie.

As daar reeds boude op al die kroegsitplekke is, kuier almal sommer op die stoep wat ‘n mens aan plaaskuiers by jou ouma laat dink.

Stap deur die Royal Hotel en kyk na Johan Trollip se kuns. Besoek ook Trollip Art Gallery & Studio (Sarel Celliersstraat 49).

AG Visser se huis neem 'n trotse plek in die hoofstraat van Steytlerville in

AG Visser se huis neem ‘n trotse plek in die hoofstraat van Steytlerville in

Steytlervillers kan spog daarmee dat die digter A.G.Visser van 1909-1916 in hul dorp gewoon het. A.G. Visser was die dokter op die dorp en hy het ook die kerkkoor gedurende Sondagoggenddienste gedirigeer. Sodra die diens in volle swang begin het, het hy uitgeglip om na sy pasïente te gaan omsien. Hy’t dan weer die kerk binnegeglip om net mooi betyds vir die laaste gesang te wees. Sy eertydse huis in die hoofstraat is as nasionale monument verklaar.

Die rugbylegende Dok Danie Craven het destyds sy flikkers by ‘n nooi van Steyterville-distrik gegooi en is in die stadsaal met Beyera Hayward getroud. Daar word nog steeds vertel hoe hy, toe reeds Springbokkaptein, op ‘n keer vir die Steytlerville-span in ‘n rugbywedstryd teen Willowmore uitgedraf het. Dok het self vertel hoe dit een van sy “hardste wedstryde ooit” was. Al die spelers in sy span wou heeltyd die bal na hom aangee en die opposiespelers het hom gelóóp.

Die Karroo Theatrical Hotel (ja, daar’s 2 r’e in die naam) is nét buitekant Steytlerville op die eertydse Vaal Heuwel plaas .

Volgens legende het ‘n seun van een van die ouderlinge ‘n besonderse voorliefde vir kuier tot net duskant hanekraai in die Royal Hotel gehad.  ‘n Boer – oftewel ‘n kerkman – maak ‘n plan. Die ouderling het die kerkraad se arm gedraai om die Royal Hotel se dranklisensie op te skort.

Steytlerville was vir ‘n hele ruk daarna ‘n droë dorp sover dit ‘n kuierplek aangegaan het.

In 1943 is die gebou van die huidige Karroo Hotel net-net buite die dorp opgerig. In 2002 het die hotel sy spreekwoordelike gat gesien. Dis nou tot Jacques Rabie en Mark Hinds die Steytlerville-verhoog letterlik en figuurlik betree het.

As Mark Hinds oftewel Freddy Ferrari eers die klawers van die klavier op kabaretaande begin tokkel, knyp jy jouself om seker te maak dat jy jouself waaragtig in Steytlerville bevind en nie in ‘n internasionale konsertsaal nie. Net daarna lag en huil jy tegelyk as Jacques Rabie, ook bekend as die Kar(r)oo Diva, Dame Leyla Lamborghini, gewilde liedjies van lank terug uitbasuin.

In Steytlerville – 90 kilometer van Willowmore, 164 km van Port Elizabeth en 1040 km van Pretoria – word die laatmiddae ook room soos N. P. van Wyk Louw oor Karoo-dorpe gedig het. Gaan kyk self.

2 comments on “Fopdos en familiewapens in Steytlerville

  1. Auriel
    May 15, 2020

    Absolutely love this blog!

    Auriel Jordaan

    Pr. S. Arch. T

    SACAP / SMIAT (SA)

    Tel: 021 872 5832

    Cell: +27 83 7254733

    auriel@telkomsa.net

  2. ilsez
    March 30, 2021

    Thank you so much, Auriel! For the compliment and for taking the time to write this comment.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 14, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .