ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

10 Moetdoen-dinge in Lissabon

First published in Die Burger, February 2011

Lissabon is kleurryk en vol avontuur. Daar is ‘n hele paar stopplekke wat nie gemis moet word nie.

  1. Die Wit Toring van Belém

    Die naam Vasco da Gama roep beelde van see-ekspedisies om die Kaap van Storms op. Skepe het destyds van hierdie punt in die Tagus-rivier vertrek.

    Om by die wit toring van Belém te staan laat ‘n mens nogal dink aan jou laerskool-geskiedenislesse.

    Dis ook een van die twee Unesco-wêrelderfenisgebiede wat in Lissabon besoek kan word.

    2. Die Jeronimos-klooster

    Dit het amper ‘n eeu geduur om voltooi te word. Die krulletjies en draaitjies, gewelfde boë en gebeitelde detail slaan jou asem weg. Jeronimos is gebou om die dapper navigeerders van hul ou ryk te vereer.

    Die gewyde atmosfeer tussen die uitgekapte klip laat ‘n mens amper in fluisterstemme praat. Jeronimos is ook ‘n wêrelderfenis-besienswaardigheid.

    3. Trem 28

    Dit is goedkoper om met Trem 28 te ry as met die georganiseerde toeriste-vervoerstelsels, maar oppas vir sakkerollers. ‘n Goeie tyd om op te klim is om en by 9:00, saam met die inwoners van Lissabon.

    Dis ‘n ou-styl-trem wat stampend en wiegend deur Alfama, Baixa, Bairro Alto en Estrela ry. Jy kan na hartelus op- en afklim en te voet gaan verken voor jy verder ry.

    4. Verken Alfama

    Aan die bopunt van die heuwel is Castelo de Sao Jorge. Van hier af het jy die beste uitsig oor Lissabon. In die omringende straatjies sien jy hoe die ou vissersfamilies leef.

    Sommige huise se vooraansigte is bedek met teëls en by die vensters wapper kantgordyntjies uit. Katte dut in die sonnetjie en plek-plek speel Portugese musiek.

    5. Bonjardim

    Dis die plek om die beste braaihoender van jou lewe te proe!

    Begin met kraakvars broodrolletjies en beleë kase. Hierop volg omtrent ‘n halwe hoender per persoon met dikgesnyde tjips daarby. Sluk alles af met plaaslike bier – dis ‘n behoorlike feesmaal.

    6. Die Ginjinha-kroeg

    Net om die draai van Praça da Figueira is ‘n piepklein staanplek-kroegie. Net kersielikeur met heel kersies binne-in of aquardente (vuurwater of Portugese witblits) word hier verkoop.

    ‘n Hanetree hiervandaan is Eduardinho, wat flink sake doen. Hier kry jy kruie-likeur met plantekstrakte. Kantoormanne loer hier in as hulle verbystap – en dit bly net by inloer nie.

    7. Elevador De Santa Justa

    Betaal ‘n handvol kleingeld en ry na bo met dié neo-Gotiese hyser, wat net-net tussen twee geboue inpas. Die Elevador dateer van 1901 en is deur ‘n assistent van Gustave Eiffel – ja, daai een – gebou. By die restaurantkafeetjie bo kan jy afkyk op wat onder in die strate aangaan.

    8. Doen ‘n dag-ekspedisie

    Besoek die wit, blou en geel dorpie Obidos, wat van 308 v. C. dateer. Dis deur die Kelte gestig en in 1210 deur koning Alfonso II aan sy vrou geskenk.

    Elke geboutjie is afgewit en met die kenmerkende blou en/of geel geaksentueer wat volgens oorlewering op bygeloof gegrond is. Dit sou kwansius die inwoners teen bose geeste beskerm.

    Oral groei bougainvilleas en malvas. Hier is verskeie kapelletjies in die keisteenstraatjies en ‘n halfdag se ronddrentel is lafenis vir die siel.

    Lord Byron het gereken Sintra is die mooiste dorpie ter wêreld. Die stadsaal kom uit feetjieland en teen die omringende heuwels is paleise wat op die dorp afkyk.

    Palacio Nacional was die somertuiste van die Moorse sultans. In die swane-saal is die plafon versier met skilderye van swane.

    By Castelo dos Mouros speel ‘n fluitspeler tussen die ruïnes ons toe terwyl ons die uitsig bewonder.

    Palacio da Pena lyk soos ‘n speelgoedkasteel. Kleurgebruik is ongewoon – baksteenrooi, ligte mosterd, sementgrys  en blou teëls. In die klooster-eetkamer is die tafel steeds gedek en die antieke kleurglase vra om weggedra te word.

    9. Feira da Ladra – Die mark van die diewe

    Dit sal vroeg opstaan op ‘n Saterdagoggend verg. Dan word jy dalk nog beloon met ‘n blik op die onderwêreld van Lissabon: ‘n polisieman wat ‘n verkoper ondervra oor waar presies hy sy antieke ware bekom het.

    Die mark in Alfama strek straatblokke ver en daar’s baie goedkoop skatte vir ‘n snuffelaar – ou Persiese matte, skilderye in vergulde rame en glaspotjies.

    10. Café Pasteis de Belém

    As jy by Jeronimos uitstap, mik dadelik na Rua de Belém no. 90. Hierdie pastelaria doen al sedert 1837 sake.

      By Café Pasteis de Belém eet jy pasteis de nata wat in die mond smelt. Die resep is deur monnike uitgedink – dit moes met hemelse inspirasie gewees het.

      Strooi jou eie kaneel na smaak oor en ek wed jou dit gaan nie net by één van hierdie tertjies bly nie.

      Leave a comment

      Information

      This entry was posted on November 28, 2023 by in Europa.