ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Blou en wit hemel in Tunisië

First published in Rapport, May 2019

Neem hordes selfies in Sidi Boe Said

As daar ‘n toekenning vir die mooiste dorpie in die wêreld moet wees, gaan Sidi Boe Said in Tunisië heel moontlik loshande wen.

Wonderlik om weer kamele te sien

‘n Tikkie Grieks en ‘n skepsel Marokkaans

Natuurlik tel dit in hul guns dat dit ‘n heuweldorpie is. Boonop het Sidi Boe Said ‘n fantastiese uitsig oor die Mediterreense See.

Die hele heuweldorp is wit en blou; net hier en daar is enkele geel aksente. Om nie van die pienk en pers bougaienvilleas te vergeet nie!

Stel jou gou voor: knetterwit platdakgeboutjies met knalblou deure, vensterrame en hortjies waarlangs die bougaienvilleas geil rank. Die deure het swaar deurkloppers en is oortrek met knoetserige ysterknobbels. Baie van die huisies het mashrabias (houtskerms of ‘haremvensters’ voor balkonne wat sorg dat veral die vroue nie sigbaar is nie) wat ook potblou geverf is. Blompotte, lanterns en lamppale het óók ‘n leksel blou verf.

As jy wel ‘n kanariegeel deur bespeur, laat dit jou dink dat die woning aan ‘n dorpenaar behoort wat sy eie stempel wil afdruk.

Wat om in Sidi Boe Said te sien

Net meer as ‘n eeu gelede – in 1915 om presies te wees – was daar maar min geleentheid om jou eie styl in Sidi Boe Said te laat botvier.

D'Erlanger se paleis is 'n entjie weg van die huise in die heuweldorpie

D’Erlanger se paleis is ‘n entjie weg van die huise in die heuweldorpie

In 1912 het ene Rodolphe d’Erlanger (1872-1932) sy hart op die dorpie Sidi Boe Said verloor. Dié Engelse baron het terstond hier vir hom ‘n villa gebou. Hy het ook ‘n projek onderneem om baie van die huisies te laat restoureer. In 1915 het hy dit reggekry om ‘n dekreet te laat uitvaardig dat alle deure en houtwerk in dieselfde skakering blou geverf moet word.

Hierna het juis Sidi Boe Said hiervoor bekend geword hoewel die spesifieke kleurskema op verskeie ander plekke in Tunisië voorkom.

D’Erlanger se villa, Dar Ennejma Ezzahra, is in die Moorse styl gebou. Dit heet nou Le Centre des Musiques Arabes et Méditerranéennes (Die Sentrum vir Arabiese en Mediterreense Musiek) en dien as ‘n museum waar die baron se lewenstyl, meubels, kuns en musiekinstrumentversameling besigtig kan word.

Sidi Boe Said dateer reeds uit die tiende eeu toe Moslems ‘n ribat (kloostervesting) hier gebou het om hul teen Christenkruisvaarders te beskerm.

Die naam van die dorp is ontleen aan ‘n Marokkaanse Sufi-Moslem – wie se naam nogal ‘n mondvol was – Abu Said Kalafa ben Yahia el Temimi el Bej. Abu Said het op pad terug van Mekka hier aangedoen en besluit om agter te bly. Destyds is daar geglo dat hy skerpioenbyte en rumatiek kon genees. Sy moskee is nog steeds in die middel van die dorp, maar kan nie deur nie-Moslems besoek word nie.

‘n Besoek aan die Dar el-Annabi Museum in die hartjie van Sidi Boe Said is ‘n moet. Slegs ‘n deel van hierdie voormalige Moorse paleis met sy vyftig kamers wat as somerwoning vir Mufti (Moslem-geleerde) Mohamed Annabi en sy familie gedien het, is oop vir besoekers aangesien lede van die oorspronklike familie nog hier woon.

Jy sal jou vergaap aan die privaatbiblioteek, kombuise, bidvertrek, sithoekies en kostuumtaferele wat ‘n huwelikseremonie en die alledaagse lewe van die agtiende eeu uitbeeld. Die binnehof is ‘n oase van koelte met reusevoëlhokke, kleikruike en skilpadjies wat in die beddings skuil. Vanaf die dakterras kyk jy oor die straatjies ondertoe en oor die Golf van Tunisië uit.

Waar om selfies in Sidi Boe Said te neem

Of jy ‘n selfieslaaf is of nie, jy sal dit nie kan verhelp om die een foto na die ander in Sidi Boe Said te neem nie. ‘n Mens raak net mooi nooit moeg daarvan om in die een keisteenstraatjie na die ander te drentel nie.

Hier sit ‘n valkenier by ‘n sypaadjietafel, daar is die ingang na ‘n winkel behang met kleurvolle keramiekbakke en op die grond is tagines (Marokkaanse bakke met tuitdeksels) opgestapel, om die draai word bonbalouni (Tunisiese oliebolle) verkoop en om die volgende hoek wink ‘n duimpiegrootte vuurtoring net-net vanagter ‘n geslote blou deur.

Op die bopunt van die heuwel is twee klein begraafplasies vanwaar die dooies die beste uitsig oor die oseaan het. Die graffies is eenvoudig; sommige het ‘n ingemesselde keramiekbakkie waarin water gegooi word. Volgens bygeloof is die water óf vir die engele óf vir miere wat dit drink en dan só die dors van die afgestorwene les.

Waterpype is deel van die ontspanningskultuur van Tunisiese mans en sommige toeriste

Waterpype is deel van die ontspanningskultuur van Tunisiese mans en sommige toeriste

Baie toeriste besoek Sidi Boe Said vir die dag aangesien dit maklik bereikbaar vanaf Tunis, die hoofstad, is. Dit laat egter nie naastenby reg aan dié bestemming geskied nie.

As al die dagbesoekers eers vertrek het, ervaar ‘n mens die rustigheid en die skoonheid van Sidi Boe Said op ‘n heel ander manier wat jou sommer nog ‘n dag of twee langer laat inboek.

Drink die atmosfeer van Sidi Boe Said in

Nie net is Sidi Boe Said ‘n aanspraakmaker vir die mooiste dorpie in die wêreld nie, maar jy gaan ver moet soek om ‘n teedrinkplek te kry wat meer atmosferies as Café des Nattes is.

This slideshow requires JavaScript.

Café des Nattes is ‘n Moorse kafee van meer as ‘n honderd jaar oud. As jy onder sit, betaal jy minder vir jou koppie menttee.

Stap egter met die onegalige trappe na bo tot by die geel deur met ‘n swart-en-wit gestreepte halfmaanboog aan die bokant.

Neem plek in op ‘n rietmatjie of by ‘n tafeltjie waar jy kruisbeen tussen groen en rooi barbierstylpilare sit en ‘n waterpyp kan rook en soetkoekies saam met dennepittee kan geniet.

Cafe des Delices se tafeltjies, stoeltjies en kussings het dieselfde kleurskema as die huisies met hul blou deure en vensters in Sidi Boe Said

Cafe des Delices se tafeltjies, stoeltjies en kussings het dieselfde kleurskema as die huisies met hul blou deure en vensters in Sidi Boe Said

Café Sidi Chabaane (wat ook as Café des Délices bekend staan) het nie die atmosfeer wat jou in Café des Nattes betower nie, maar hulle het weliswaar ‘n uitsig oor die see tot by die horison wat jou na jou asem laat snak. Nie net is die mure wit en die vensters blou nie, maar die tafeltjies en bankies is ook in skakerings van blou. Gaan net jou rekening na voor jy hier jou Tunisiese dinar oorhandig.

Bederf jouself by Au Bon Vieux Temps, ‘n deftige restaurant met ‘n terras, weereens met ‘n see-uitsig. Dis nie net die Frans- en Tunisies-geïnspireerde disse wat jou soontoe sal lok nie, maar ook die idee dat ons eie Nelson Mandela daar geëet het. ‘n Amperse lewensgrootte foto in die voorportaal getuig van sy besoek.

Ek en my metgesel was so beïndruk met ons eerste maaltyd by Au Bon Vieux Temps dat ons summier die volgende aand teruggekeer het. As jy ‘n avontuurlustige eter is, moenie huiwer om hul skaapbreins met ‘n kerriesousie te bestel nie. Uitstekende Tunisiese wyne kom op die wynlys voor – ‘n bonus aangesien baie restaurante in Tunisië weens geloofoortuigings nie wyn bedien nie.

Tipies Tunisies in Sidi Boe Said

Orals waar jy ronddrentel, sien jy groot en klein voëlhokke, die ene krulletjies en draaitjies en almal handgemaak. Moenie verbaas wees as jy verlei word deur ‘n kleintjie wat jy as handbagasie kan terug huis toe karwei nie. Ek kan myself skop dat ek dit nie gedoen het nie.

Sidi Boe Said het nie net een spesifieke soek (mark) nie.  In amper elke straatjie sal jy uitgestalde ware soos leerinsteekskoene met tossels of opwippunte, keramiekware, kelims, muurbehangsels en bedlampies, wat die tradisionele blou deure uitbeeld, sien.

Onmoontlik om te weerstaan as jy in Sidi Boe Said rondloop

Onmoontlik om te weerstaan as jy in Sidi Boe Said rondloop

Orals waar jy in Sidi Boe Said loop, is daar keramiek, kelims en leerinsteekskoene uitgestal

Orals waar jy in Sidi Boe Said loop, is daar keramiek, kelims en leerinsteekskoene uitgestal

Jy gaan skeef aangekyk word as jy nie kibbel nie; berei jouself dus hierop voor. Pryse daal namate die meeste dagbesoekers reeds op pad terug na hul onderskeie blyplekke of passasierskepe is.

Die laaste reiswenk: as ‘n winkelier ‘n jasmynblommetjie agter jou oor druk, beteken dit nie jy hoef noodwendig iets by hom te koop nie!

Sou jy gaan:

Hoe om in Tunisië te kom: Turkish Airlines vlieg via Istanbul vanaf Kaapstad of Johannesburg. Prys per vlugkaartjie: minder as R9000.

Hoe om in Sidi Boe Said te kom: Sidi Boe Said lê 20 km noordoos van Tunis. Dit is maklik en vinnig bereikbaar per taxi, bus en trein. Maak net vooraf seker dat die publieke vervoer wat jy kies, tans in werking is. Taxis is egter spotgoedkoop teen R95 vir ‘n eenrigtingrit van Tunis na Sidi Boe Said.

Waar om oor te bly: Alhoewel ‘n daguitstappie maklik en moontlik is, beveel ek aan dat jy in Sidi Boe Said oorbly. Jy sal nie spyt wees nie.

Hotel Sidi Bou Fares is in 'n stil straatjie gelee

Hotel Sidi Bou Fares is in ‘n stil straatjie

Hotel Sidi Bou Fares is uiters sentraal geleë en het 20 pragtige kamers wat tradisioneel ingerig is. Prys per kamer per persoon: R550 – R1100. www.hotelboufares.com

Hotel Dar Said is ‘n sentraal geleë boetiekhotel met sy eie hammam (Turkse, oftewel Tunisiese, bad). Die prys per dubbelkamer begin by R1665. www.darsaid.com.tn

Waar om te eet: Au Bon Vieux Temps is ‘n eksklusiewe, hoogs aanbevole restaurant met Tunisiese en Europese geregte op hul spyskaart. Pryse van voorgeregte wissel tussen R67 – R172, hoofgeregte R67 – R215 en nageregte R57 – R67. www.aubonvieuxtemps.net

 

2 comments on “‘n Blou en wit hemel in Tunisië

  1. selmaohlsson
    December 23, 2019

    Oh man this is so beautiful! Makes me want to go there right now!

  2. ilsez
    January 5, 2020

    Add Tunisia to your list of wanna-sees, Selma. You will thoroughly enjoy. And take loads of photos!

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 22, 2019 by in Afrika and tagged .