ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

IN ‘N TYDKAPSULE VASGEVANG

First published in Die Burger, September 2013

Soms oorval ‘n hunkering na dit wat was, ons almal. Of ons dit meegeleef het of net daarvan gelees of gehoor het, maak nie rêrig saak nie.

Uitklokbroeke, pienk kamma-kreefkelkies, appelkooslekkers, negosiewinkels met glaskastoonbanke – net nie ‘n koos onder die bed nie.

Bring vir die harlekyn nog wyn

Ikonies

Daar’s weinig restaurante wat al vyftig jaar op hul kerfstok het. Hierdie die eer kom die Harlequin in Voortrekkerweg, Parow toe. Die ikoniese gebou lyk nog presies dieselfde – jy voel asof jy in ‘n oogwink na ‘n paar dekades gelede verplaas is.

Die Harlequin is nou wel diep in die noordelike voorstede, maar hier eet jy eg Italiaans. Met die instap hoor jy “va bene, va bene” asof jy reeds gevra het hoe dit vanaand gaan. Die kroegie aan die voorkant is plesierig raserig op ‘n vroeë weeksaand. Op geronde boë teen die muur is tonele van een van Noord-Italië se mere geskilder; in ‘n muurnis pryk ‘n tipiese Italiaanse borsbeeld.

dsc_1152.jpg

Hier heers geen pretensies nie – die kelnerin gooi summier sout op die tafeldoek toe sy spatsels rooiwyn mors.

Dis ‘n gesukkel om te bestel. Vars tuisgemaakte pasta, osso buco, haasbredie, trippa alla Milanese, saltimbocca – hoe dan nou? Boonop is hul lamskerrie amper die gewildste dis; daar word elke tweede dag vyf kilogram hiervan in die kombuis voorberei.

Vars parmesaan word by jou tafel oorgerasper

Reëls is daar om gebreek te word; dus ‘n gedeelde ravioli as voorgereg met die slotsom dat dít is hoe pasta moet smaak. Ons weerstaan die versoeking om ons vingers deur ons borde te sleep – só geurig was die disse.

My ouma is in kaneel

Eers kies jy jou speserye; dit word op ‘n uitskeurblaaitjie neergeskryf wat jy na die kassiere neem; dis nou tyd om te betaal; en eers daarna kan jy jou aankope – soms in ‘n bruin kardoes – gaan afhaal. Selfs net die ritueel om van een toonbank na die volgende en weer terug te moet gaan, maak ‘n besoek aan Atlas Trading Store die moeite werd.

'n Doodgewone ingang lei na 'n oorvloed speserye

Steranys, basmati-rys in bedrukte lapsakkies, soemak, za’atar, poppadoms, vars madoembi, papawersaad, gedroogde Turkse appelkose, komyn, kardamom – as jy soek, of vra, sal jy vind. Niemand lig ‘n wenkbrou as jy agter om die toonbank stap en self deur die rakke snuffel nie. ‘n Wye reeks wierook is ook hier verkrygbaar.

Tot boordensvol met speserye

 

Atlas Trading word al sedert 1943 deur die Ahmed-familie bedryf. Alle invoere behartig hulle self – meestal van Indië, maar daar is onder andere ook rys van Thailand en saffraan van Spanje.

Meneer Ahmed, die trotse eienaar van Atlas Trading

Meneer Wahab R. Ahmed is ‘n ouwêreldse jintelman met ‘n passie vir speserye. “Julle fotograwe hou mos van kleur”, knipoog hy terwyl hy oopslaandeksels van allemintige houtkiste oplig. Dis die ene rooi, oranje en borriegeel.

Net daarna oorhandig hy ‘n ellelange voorraadlys en ‘n paar onfeilbare resepte. By die huis gekom ruik die papier nog steeds na die eksotiese binnekant van die winkel.

  • Atlas Trading is in Waalstraat 94, Bo-Kaap.

Immergroen modes

Sommige modes bly mos maar immergroen. Of herleef net weer en weer.

Philippa is passievol oor alles wat karaktervol oud is

Ougoed is mooigoed, is Philippa Louw se leuse. Haar ma, Alna, het jare der jare die Blue Moon-winkeltjie in ‘n ou plaaswerkerhuisie op Audacia bedryf. Van pelsstola’s tot trousseau-kussingslope was hier te vinde.

Dieselfde gogga het al van ‘n jong ouderdom vir Philippa gebyt. In haar eertydse winkel, Green Sleeves, in ‘n systraatjie van Stellenbosch was fênsie-dres skeppings holderstebolder van die vloer tot die plafon opgestapel. In 2011 is haar winkeldeure egter gesluit en van toe af bedryf Philippa Green Sleeves as ‘n pop-up winkel.

In Somerset-Wes, Stellenbosch, Kaapstad en Riebeeck-Kasteel stal sy tapisserieë, kewpie-poppe, hartseer teddiebere, Empire-rokkies, cowboy-stewels, pêrelhalssnoere, Chanel-baadjies en veel meer van ‘n vergane tyd uit.

Geïnspireer deur Bartolomeus

Een Bartolomeus en een Dias Tavern

 

Bartolomeus Dias het in 1488 verby die Kaap van Storms oftewel Kaap die Goeie Hoop geseil. Dias Tavern het in 1988 – 500 jaar later – hul deure oopgemaak.

In die tagtigerjare en die vroeë negentigs was Dias volgepak deur oud en jonk wat oorwegend pizza’s kom verorber het. Met hompe knoffel, sou dit jou voorkeur wees. Jy en jou metgesel moes noodgedwonge albei knoffel eet. Of vir drie dae nie soentjies uitdeel of naby mekaar staan as julle ‘n geselsie aanknoop nie.

Toe – soos nou – was espetadas met trinchado-sous wat so drup-drup op jou bord – ewe gewild. Ook hoenderlewertjies met peri-peri, sardientjies of Portugese biefstuk met ‘n gebakte eier bo-op. So outentiek soos kan kom.

As jy nie Portugees is nie – dis ongetwyfeld ‘n aangeleerde smaak – drink jy sommer vir die snaaksigheid katemba (rooiwyn met Coke gemeng). Andersins Feiteiras Wyne.

Jy gaan nie regtig na Dias Tavern omdat jy die dekor waardeer nie. Alles dateer uit ‘n dekade – of heelwat meer – gelede; dalk is dit toe al tweedehands aangeskaf. Rooi plastiekstoele verskaf sitplek; die mure kort plek-plek ‘n bietjie afwit; en die plakkate is ietwat vergeel. Goeie kos bly goeie kos.

Bestel ‘n bottel Trinchado-sous – met ‘n pikante byt en deel van die suksesresep van Dias Tavern – uit die kombuis. Jy sal nie spyt wees nie.

  • Dias Tavern is in Caledonstraat 15, Kaapstad (‘n paar deure weg van die Fugard-teater). Kyk na ‘n virtuele toer by diastavern.co.za/virtual-tour/

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 5, 2018 by in Afrikaans foodies, Die res van Suid-Afrika.