First published in Beeld, October 2018
Blykbaar is daar sekere dae in Beijing wat die stedelinge moet oefen om in rye te staan hetsy in ‘n bank, by ‘n kassier of om ‘n moltreinkaartjie te koop. Só wil die Chinese burokrate die kultuur van die land meer verwesters. Of altans so loop die storie.
So ook is daar glo sekere dae wat Chinese nie in die straat mag spoeg nie. Of probéér om in die openbaar te spoeg nie. Die stadsbase hoop dié aaklige gewoonte sal mettertyd afgeleer word.
Beijing is inderdaad anders. Baie van hul gewoontes en gebruike is vir ons eienaardig. Maar Beijing het só baie om aan ondersoekende reisigers te bied. En bowenal – Beijing is bekostigbaar.
Die Groot Muur van China is gróót en lank
Om die Groot Muur van China van jou emmerskoplysie af te tiek, is groots. Wys my die persoon wat nie deur die Groot Muur oorrompel word nie en ek wys jou iemand wat tot der dagen sat vir die lewe is.
‘n Dagekspedisie na die Groot Muur verg ‘n mate van beplanning. Besluit watter deel van die Groot Muur jy wil besoek; party dele is baie besiger as ander.
Al is ek ‘n voorstander van publieke vervoer wanneer ek reis, is dit baie minder moeite – sonder dat jy baie hoef te betaal – om met ‘n georganiseerde toer na die Groot Muur te gaan. Glo my, om op jou eie sonder dat jy die skrif kan lees of verstaan, aan te karring, is ‘n beslommernis in China.
Plek-plek is die muur steil. En glad as dit perdalks mistig is.
Met ons aankoms was ons eers teleurgesteld dat die dag redelik betrokke was, maar gou het ons besef dat die slierte mis wat in die valleie hang, juis ‘n atmosfeer skep wat jy nie op ‘n oop, helder dag sal kan beleef nie.
Betree die Verbode Stad
‘n Mens hoor baie dinge van China wat te dik vir ‘n daalder (of die Chinese geldeendheid, juan, in hierdie geval) klink, maar as jy eers daar is, kom jy gou agter dit was nie net opruierige oorvertellings nie.
Slaan dus ag hierop: moenie probeer om die Verbode Stad – of enige ander gewilde besienswaardigheid – oor ‘n naweek te besoek nie. Soos ons sal jy dan genoop wees om noodgedwonge jou kaartjies aan niksvermoedendes in die lang ry te verkoop en op ‘n weeksdag weer terugkom.
Die Chinese is ywerige toeriste – in hul eie land en oorsee – wat in ‘n stad soos Beijing daartoe lei dat van tempels tot paleise oor naweke oorvol is en dat jy bowendien tyd vermors deur lánk in rye te staan.
Vir ‘n tydperk van 500 jaar – tot 1948 – was die Verbode Stad werklik verbode; moet dit dus nie misloop nie. Daar is 800 geboue hoewel almal nie oop vir die publiek is nie.
Die Verbode Stad is eintlik die voormalige keiserlike paleis van die Ming-dinastie tot die Qing-dinastie (1420-1912); dit huisves nou die Paleismuseum.
Jy het ‘n volle dag nodig om alles in te drink. Sonder ‘n gids gaan jy ongetwyfeld verdwaal, maar dit beteken maar net dat jy jou instink gebruik – of ‘n groep toeriste mét ‘n gids volg – om verder te verken.
Daar is hopeloos te veel om te sien om op te noem.
Ruim egter ‘n tydjie in om in een van die paleise aan die oostekant die goue aardbol met pêrels wat die sterre uitbeeld, te gaan kyk. Die aardbol is 82 cm hoog.
Die aardbol was vir my baie meer indrukwekkend as die teëlmuur met nege drake wat veronderstel is om een van die hoogtepunte van ‘n besoek aan die Verbode Stad te wees.
Tyd vir Tiananmen-plein
Alhoewel Tiananmen-plein al sedert die keiserlike tydperk bestaan, was die plein soos wat dit vandag daar uitsien eintlik Mao Tse Tung se idee.
Die Westerse wêreld het in ‘n groot mate van Tiananmen kennis geneem toe die weermag in 1989 vreedsame betogers ten gunste van ‘n demokrasie in China afgemaai het.
Aan die een kant is daar nie veel om op Tiananmen-plein te sien nie. Aan die ander kant kan jy jou verkyk aan die geboue rondom die plein wat aan die kommunistiese era herinner.
Ons het gevind dat ons tog heelwat tyd op Tiananmen, een van die grootste openbare pleine in die wêreld, gespandeer het. Dis hier waar jy jouself aan die jongmense se modes kan vergaap, dis hier waar jy jou verkyk aan hoe kleuters leer – of probeer – om vlieërs te vlieg en dis hier waar jy maklik ‘n geselsie met ‘n inwoner van Beijing kan probeer aanknoop.
Die modes wissel van pantoffels as kantoordrag tot Micky Mouse-hoede en van speelse boksterte tot haasoortjies op selfone.
‘n Kakofonie van kleur by die Lama-tempel
Die Lama-tempel is die bekendste Tibettaanse Boeddhistiese Tempel buite Tibet self. Reisgidse beveel aan as jy net een tempel in Beijing kies, moet dit hierdie een wees.
Die absolute oordaad is iets om te aanskou. So ook die 18 meter hoë Maitreya Boeddha wat klaarblyklik uit een stomp sandelhout gekerf is. Dié boeddha is geklee – of eerder gedrapeer – in ‘n goue kleed wat amper soos ‘n Indiese sari lyk.
Ek was bly dat ek saam met die tempelgangers wierookstokkies gebrand het voor ek nog die tempel betree het. Vir my was dit ‘n ode aan ‘n diverse wêreld wat oneindig baie bied om te beleef en ‘n pleidooi om verdraagsaamheid wat oral moet heers. Nog soveel te meer omdat dieselfde God ons almal geskape het.
Voel na aan die hemel
Die Tempel van die Hemel is ook ongetwyfeld ‘n besoek werd. Die oorspronklike tempel is in 1420 opgerig. Die keisers het hiernatoe gekom om vir ‘n goeie oes te bid.
Die Eggomuur verskaf eindelose pret aan diegene wat geduld aan die dag lê.
Hokaai, hier’s die hutongs
Die atmosferiese agterstraatjies van Beijing word die hutongs genoem. Die woord ‘hutong’ is aan Mongolies ontleen en die oorspronklike betekenis verwys na die spasie tussen tente (of jurte soos dit daar genoem word) waarlangs daar geloop word.
Niemand is seker hoeveel hutongs daar in Beijing is nie. Baie van die hutongs is egter die afgelope paar dekades gesloop en ontwikkel. Destyds het van die straatjies name soos Soogvrou-laan en Klerewas-laan gehad omdat die inwoners spesifieke take in die Verbode Stad verrig het.
Ons het verkies om in ‘n hotelletjie in ‘n hutong te bly ten einde veral saans te verwyl – en te eet – waar die inwoners saamdrom.
As jy verby ‘n hutong-restaurant stap waar die Chinese mans op ‘n soel aand hul hemde tot diep onder hul bladbene oprol sodat jy net maagvelle sien, weet jy dié plek is nie op toeriste gemik nie. Dís waar jy ware Chinese kookkuns beleef.
Gepraat van lipaflek-eend
Jy het nog nie eend geëet as jy nie Peking-eend in Beijing geproe het nie.
Soos seker die oorgrote meerderheid toeriste het ons vir ons eerste eend-ete by Quanjude ingeklok. Quanjude bestaan al sedert 1864; deesdae is daar agt takke net in Beijing alleen.
Kort daarna het ons egter in die hutongs rondgedrentel tot ons ‘n piepklein plekkie raakgesien het waar die Chinese sit en eend eet het. Nodeloos om te sê dat ons daarna daagliks soontoe teruggekeer het.
Kaperjolle in die parke
As jy op enige tyd van die dag deur enige van die parke drentel, sal jy groepies Chinese – oud en jonk – sien wat Oosterse gevegskunste beoefen, met waaiers dans, musiek maak of selfs buikdans.
Dis ‘n geleentheid vir stedelinge om oefening te kry en te sosialiseer. Hulle gee glad nie om as toeriste foto’s neem nie en jy word baie keer genooi om mee te doen.
Glo my vry, ek wil teruggaan. Daar’s net te veel wat nuut en anders en ongewoon is; ‘n eerste besoek maak slegs jou nuuskierigheid wakker.
Werd om te weet:
Wat gaan dit my kos:
Verbode Stad: Tussen R90 en R140 afhangende van die seisoen
Lama-tempel: R55
Tempel van die Hemel R135
Recent Comments