ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

BUENOS AIRES IS ‘N SPEELPLEK SOOS MIN

First published in Die Burger, January 2012

T-shirt for sale

  1. Sondag in San Telmo

A side street in San Telmo

Sondae is daar ‘n miernes aktiwiteite op Plaza Dorrego. Daar’s stalletjies met oorwegend antiekware, boheemse kunstenaars, en spontane asook geoefende tango-dansers. Omringende winkels is ook nie te versmaai nie.

Op die hoek van die plaza is – met sy voorspelbare naam – Dorrego Cafe. Eens op ‘n tyd was dit die uithangplek van sosialiste. Nou herinner dit aan De Akker op Stellenbosch – die kliënte is net so filosofies, maar ietwat ouer en daar’s Suid-Amerikaanse flair bygeroer.

Jy kan nie huis toe gaan sonder ‘n blou/groen soda-sifon nie – dis die onoffisiële simbool van die mark.

Beplan vooraf: Bespreek plek op die balkonnetjie by El Balcon. Van hier het jy die beste uitsig oor al die bedrywighede by die antiekmark.

2. La Recoleta Begraafplaas

Besoek La Recoleta waar Evita (Eva Perón 1919-1952) asook ander invloedryke Argentyne begrawe is.

Recoleta het die gevoel van ‘n kunsgalery cum begraafplaas. Party grafte is verwaarloos; by ander kan jy deur ‘n glasdeur na binne kyk; grafstene is oorgroot en gedetaileerd.

‘n Besorgde opsigter hou water- en kosbakke vol vir straatkatte wat in die sonnetjie dut.

La Biela, skuins oorkant, is ‘n atmosferiese koffiewinkel waar intelligentsia in vanmelewe se dae uitgehang het.

‘n Argentynse Groentemarkplein van weleer: As jy op ‘n Saterdag daar is, is daar ‘n kunsvlytmark oorkant die ingang van die begraafplaas.

  1. Tango, tango, tango

A passionate ending to a tango

Wys ‘n vinger vir die toergroep-tango-aande.

Stap nader as jy laataand musiek hoor – jy sal jou verkneukel in die genot van ‘n saal vol veral ouerige Argentyne wat passies uithaal.

Porteños (inwoners van Buenos Aires) besoek onbekende tango-plekkies soos Museo del Tango (tot nou ‘n goed bewaarde geheim) waar jy oor aandete jouself vergaap aan goed-gechoreografeerde bewegings deur professionele tango-dansers.

Maak litte los: Plaaslike koerante adverteer tango-lesse regoor Buenos Aires. Jy kan kies of jy een les of ‘n reeks lesse wil neem.

  1. Sinoniem met Evita

Evita in La Boca

Almal begin met ‘n besoek aan haar marmer-praalgraf in Recoleta. Bewonderaars plaas steeds blomme op haar graf of plak uitknipsels teen die grafsteen.

Die Eva Perón Museum is klein, maar ‘n besoek werd. Luister na haar laaste toespraak toe sy reeds geweet het dat sy nie meer lank sou leef nie. Die kilometerlange ry mense wat hulde aan haar betoon het tesame met die honderde meters blomme na haar dood, het ons na sneesdoekies laat gryp.

Orals is Evita-musiek, -plakkate, -etse of ou foto’s te koop.

Terug by die huis: Neem die DVD van Evita (met Madonna as Evita) uit of luister na die klankbaan en reis in jou leunstoel terug na Argentinië.

  1. Kleurvolle La Boca

Never too old to tango

Die hoofstraat Caminito met sy paar systraatjies is beskilder met frescoes, en die sinkplaatmure van die opgedolliede geboutjies is skreeuhelder geverf. Daar’s lewensgrootte papier mache-agtige beelde van bekende Argentyne; daar’s kitskuns te koop; daar’s verskeie straatmusikante.

El Obrero was – hoewel betwisbaar – die eerste parilla (steak house) in Buenos Aires en is steeds gewild. Bill Clinton en U2 het al hier geëet. Die plek drup van atmosfeer en die vleis drup van lekkerte.

Wees versigtig:  Neem liefs ‘n taxi na La Boca veral laataand of spesifiek na El Obrero.

  1. Suid-Amerika se Italianers

Vintage soda siphons abound

In die telefoonboek is daar meer Italiaanse as Spaanse vanne. La Boca was eens die Italiaanse werkersklasbuurt. Hoewel daar opsigtelik min Italiaanse kultuur te sien is, kan jou besoek aan Buenos Aires ‘n Italiaanse gastronomiese ervaring wees as jy weet waar om te soek.

Onder swaar kandelare en tussen swart mure sal jy smul aan sabayon roomys by La Parolaccia. Hul 3-gang middagspyskaart bied ongehoorde waarde.

Eet wilde-sampioen-risotto (of salmravioli) by Social Paraiso, Honduras. Eet aspersie-risotto by Lelé de Troya,Palermo. Verlustig jou in die zucchini-bloeisel met pistasieneut risotto by Bar Uriarte.

Vergeet van: kilojoules tel terwyl la dolce vita hier beleef en geproe kan word. Sluit by die gim aan as jy terugkom.

  1. Gauchos op ‘n plaas

Met jou aankoms by Santa Susana kry jy ‘n empanada en plastiekglas rooiwyn. Die plaas is plát met baie perde en ‘n gaucho wat aan die dorpsidioot herinner. Jy kan perdekar ry of te perd rondgelei word.

Die ou gauchos was rof en onbeskof. Kroeë het sekuriteitsheinings tussen kroegmanne en kliënte gehad.

Die plaashuis is nou ‘n museum – dit herinner aan ‘n  Vrystaatse plaashuis kompleet met doilies. Die middagete bestaan uit slaaie, brood, varkwors, biefstuk, bloedwors en meer. Die halfdag word afgesluit met ‘n tango- en perde-vertoning.

Alternatief vir ‘n dagekspedisie:  ‘n rit op Tigre Delta.

  1. Eet bife de lomo

Sag soos botter, druppend met natuurlike vleissous, niks geopdolliery. Soek die slaai en wen ‘n Datsun. Vergeet van afgesaagde sampioensous – ontdek chimichurri  met vars kruie, asyn en rooipepervlokkies.

Probeer El Salmon II of Las Nazarenas, ‘n blok of wat van Florida. Ook naby is El Establo – saam met biefstuk wat groot genoeg is om Asterix tevrede te stel, word kapokaartappels en kapokpampoen as bykosse bedien.

Cabaña las Lilas word as Argentinië se beste restaurant beskou en sweserik (sweetmeats) is ook beskikbaar.

Om te drink: Argentynse Malbec is sag, maar kompleks genoeg, en meestal bekostigbaar.

  1. Ou-styl Cafe Tortoni

‘n Elegante koffiedrinkplek kompleet met onbeskofte – altemit in tuxedo’s – kelners. ‘n Art Nouveau interior met ‘n versameling gegote glas Tiffany lampe. Versierde plafonne, ‘n Poetry Corner en sitkamerteatertjie. Glip sommer elke keer as jy verbystap in vir ‘n glas vonkelwyn met lemoensap.

Koffiekoppies, melkbekers en suikerpotte met die Tortoni-embleem is te koop.

‘n Ander koffiekafee:  Café Richmond is ‘n ou-styl bymekaarkomplek met oorgroot kandelare in Florida-laan.

  1. Spandeer jou sente

Beweeg ietwat – regtig net ietwat – uit die Florida-agtige (die hoof-inkopiestraat) distrik en die pryse raak beter. Leerartikels, CD’s, Europese klere en nie-konformistiese dekor. Trek stapskoene aan in Palermo, loop van pleintjie na pleintjie in San Telmo, en neem ‘n paar uur om Santa Fe met sy bliengwinkels en boheemse krapplekkies te verken.

‘n Moethê: Enige stewels van Buenos Aires.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 18, 2017 by in Suid-Amerika and tagged .