ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

In die skadu van bome

First published in Die Burger, early 2015

In Vincent Oliphant se gedig “Gebed tot die bome” beskryf hy bome as “sagmoedige stil monnike” en “waardige vriende”.

Ons is bevoorreg om in ‘n land te woon waar bome volop is. Ek het eenmaal ‘n eienaardige opmerking van ‘n Midde-Oosterling tydens ‘n besoek aan Suid-Afrika gehoor. Synde ‘n woestynbewoner was dit vir hom “alles groen; daar’s nét te veel groen en dit voel of dit my ontsenu”.

Ek dink hy kon deur die bome die bos nie sien nie. Tussen die – vir hom – oorweldigende groen het hy nooit ons nasionale boom, die geelhout  (Podocarpus latifolius) leer ken nie.

Ons kon saam na die Outeniekwageelhout (Afrocarpus falcatus), ons hoogste boom, in die Tuinroete gaan kyk het en onsself verwonder het aan die mos wat hul blare oortrek en wat ‘ouman se baard’ genoem word. Nou rol ek op my eie boomname op my tong: akkerjakkalsbessie, apiesdoring, bastertambotie, besemtrosvy, bloubitterbessie en deurmekaarbos.

Ou bome word nie maklik verplant nie

Die oudste eikeboom in Suid-Afrika (oftewel Afrika), so word daar geglo, is op Vergelegen, en is meer as 300 jaar oud.

Kanferbome in gelid by Vergelegen

Vergelegen spog ook met vyf historiese kanferbome wat Willem Adriaan van der Stel klaarblyklik geplant het.

SKEWES~1

Sou jy so gelukkig wees om jouself op ‘n stil dag by Vergelegen te bevind, móét jy in die piekniekwoud gaan wandel. As die son deur die takke skyn, trap jy op spinnerakskaduwees; tydens herfs dwarrel die blare om jou neer; en jou gemoed word stil soos wat jy die “heiligheid” (om Vincent Oliphant aan te haal) van die bome beleef.

  • Lees oor die ander interessante bome by Vergelegen:

www.vergelegen.co.za/significant_trees.html

‘n Boom gooi altyd ‘n skaduwee

In die tyd van koning Salomo se tyd is daar geglo dat as jy, by wyse van spreke, onder jou eie vyeboom sit, jy voorspoed en oorvloed sou geniet. Niks sou kortkom nie, lees ‘n mens in I Konings 24-27.

 

By Pepper Tree Restaurant en Koffiewinkel in Philadelphia buite Durbanville sit jy weliswaar nie onder ‘n vyeboom nie, maar die groot peperboom wat aan die plek sy naam gee, laat jou voel asof jou binneste ook gevoed word.Tesame met die sielskos, word jou liggaam gevoed met geurige tuisgemaakte geregte soos beesstertsop, gevulde pannekoeke en appeltert.

Philadelphia is na genoeg aan die meeste voorstede, wat dit ideaal vir daardie naweke maak wat jy nie genoeg tyd vir ‘n oorslaapwegbreek het nie, maar tog net bietjie uit die stad wil wegkom.

Soos die boom val, bly hy lê

‘n Mens kry honderde soorte mimosas. Sommige tipes mimosa het iets ongewoon aan hulle. Mimosa pudica vou sy blaartjies vinnig toe as daaraan geraak word. Dit lyk kompleet of die plant seerkry. Mimosa tenuiflora word in sjamaanse ayahuasca-konkoksies gebruik omdat ‘n psigedeliese stof in sy wortels voorkom.

Ma Cuisine, the award-winning restaurant at Mimosa Lodge

In die uitgestrekte tuine van die Mimosa Lodge in Montagu kom daar nie meer mimosas voor nie – die naam is ontleen aan die mimosas wat mildelik in die Montagu-omgewing voorkom. Die tuin ontbreek egter geensins aan bome, struike, plante en blomme nie, wat dit in ‘n totale lushof omskep.

The garden suites at Mimosa Lodge

Die tuinsuites in die boomryke tuin van Mimosa Lodge is ‘n redelik onontdekte juweel op Roete 62. Jy voel of jy hier kan kom wegkruip as die lewe jou druk of jou familie jou nerwe aan flardes het.

In Mimosa Lodge se tuin kom jy nie eers agter dat jy in die dorp is nie

Jy kan langs ‘n sementdam waar ‘n wilger se treurmare-takke in die water weerkaats, mediteer; die rose bewonder, na die voëltjies se getjirp luister of die duiwe kosgee.

Kandelaar of blaar, boom of bas

By Leopard’s Leap in Franschhoek is die eerste ding wat jou opval as jy na binne loop, die reuse blaarkandelaar. Dit lyk soos honderde en honderde gewiglose blaartjies – dis egter uit vlekvrye staal gemaak – in verskillende skakerings van groen.

Jy voel sommer na hoed afhaal by Leopard's Leap

As dit nie so hoog bokant jou, daar waar jy staan en wynproe, gehang het nie, sou dit moeilik gewees het om die versoeking te weerstaan om jou vingers daardeur te laat gly.

Leopard's Leap met die berge van Franschhoek in die agtergrond

Soiets kon net deur Moeder Natuur geïnspireer gewees het. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat die wynproe-personeel verantwoordelik daarvoor was om wingerdblare bymekaar te maak. Die ontwerper, Christo Barnard, het daarna wingerdblare in verskillende vorms laat uitsny en verf.

Loer ook na die goed uitgelegde kruie- en groentetuin terwyl jy hier is.

Moenie die boompie buig nie

Soos Vincent Oliphant wil ek die wens uitspreek dat ek nog lank die voorreg mag hê om bome só – “met … voete in  die aarde geanker” –  te sien staan veral omdat hulle “nog nooit ‘n hand teen iemand gelig het nie”.

As jy nog wil weet:
·        Kyk na ‘n alfabetiese lys van Suid-Afrikaanse bome: af.wikipedia.org/wiki/Alfabetiese_lys_van_Suid-Afrikaanse_bome
·        Die plaas Lekkerwijn – waar jy in ‘n historiese gastehuis kan oorbly – is in 1892 deur Cecil John Rhodes gekoop. Op die plaas (geleë op die R45 soos wat jy na Franschhoek ry) is ‘n aantal palmbome wat deur Rhodes self aangeplant is en wat steeds ten hemele rank. Bespreek by: www.lekkerwijn.com
·        Lees meer oor Vincent Oliphant en sy gedigte: http://vincentoliphant.blogspot.com/

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on December 15, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .
%d bloggers like this: