ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Fees van St. Vincentius van Saragossa

First published in Die Burger, February 2017

Die binnekant van die kerk word met wingerdmandjies, druiwe en druiwelote versier

Die binnekant van die kerk word met wingerdmandjies, druiwe en druiwelote versier

Op 26 Januarie 2017 is die drie-en-twintigste jaarlikse Wynmaker- (en Distilleerder-) Kerkmis in die klein Saint Nicholas Katolieke Kerkie in Paul Krugerstraat, Stellenbosch gehou.

Slegs een keer per jaar – laterig in Januarie se kant – word hierdie Fees van St. Vincent van Saragossa met ‘n erediens gevier. Dit word elke jaar met groot entoesiasme deur Dave Hughes gereël.

St. Vincent staan bekend as die beskermheilige van wyn(makers), distilleerders en balsamiese asynmakers. Presies hóé hy die beskermheer van wynmakers geword het, is nie bekend nie. Daar is meer as een storie, én verskeie weergawes van dieselfde storie.

Wie de joos was hierdie heilige?

Volgens een legende het St. Vincent een of ander tyd in die derde of vierde eeu êrens in Spanje met sy donkie gestop om met ’n wingerdboer en/of sy arbeiders te gesels. Óf die donkie was baie honger óf rêrig verveeld, want hy het heel voorbarig aan die wingerd begin knibbel. En bly knibbel terwyl sy eienaar en die plaasmense lustig voortgekuier het.

Later daardie jaar na die oes het die werkers opgelet dat daar waar die donkie so lekker gepeusel het, het die druiwe weliger gegroei.

Dis klaarblyklik hoe daar ontdek is dat wingerd beter en gesonder dra as dit gesnoei word.

‘n Ander legende lui dat die Franse uitspraak van Vincent ‘Vin-sang’ is; dit beteken ‘wynbloed’. Wanneer wingerde gesnoei word, ‘bloei’ die plant soms.

Hoe dit ook al sy, in die Boland word daar jaarliks ‘n kerkdiens vir wynmakers gehou. Dis gewoonlik in die derde week van Januarie omdat St Vincent se feesdag (die dag waarop hy in die kerk herdenk word) tradisioneel 22 Januarie is.

Ongelukkig was daar hierdie jaar heelwat minder wynmakers (en wynliefhebbers) as in vorige jare; heel moontlik omdat die parstyd soveel vroeër aangebreek het. Dit het egter geensins afbreuk gemaak aan die heiligheid van die diens en die boodskap wat oorgedra is nie.

Psalms, gesange en voorlesings

Die kerkdiens is redelik informeel met ‘n goeie skeut humor van ‘n “Protestant wat deur die Katolieke in hul geledere toegelaat word”. En hoe verstaan ‘n Protestant nou van beskermheiliges? En dit boonop van wyn!

Sou ‘n mens St Vincent nou die Bacchus van die Katolieke Kerk noem? Nee, nee, dis nie gepas nie. Het die Grieke nie ‘n god van wyn met die naam van Dionysus nie?  Dan is Japie seker die Afrikaner se beskermheilige van wyn? Soos in Vaaljapie.

Daar is darem nie net ligweg die draak gesteek met beskermheiliges en die vrug van die druif nie.

Die skriflesing was uit Amos 9: 13-15 – “Kyk die dae kom, spreek die Here… dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daaran oorvloei sal wees. En “hulle (sal) wingerde plant en die wyn daarvan drink”.

Die boodskap van die diens was dat Jesus ‘n meesterstorieverteller was wat telkemale die wingerdstok en die vrug daarvan gebruik het om uit te beeld wat hy aan sy volgelinge wou leer.

‘n Verdere boodskap was die “ABC of pruning” waar A vir “attitude”, B vir “belief” en C vir “commitment” staan. Ons lewenshouding moet van so ‘n aard wees dat ons in swaarkrydae glo dat hierdie tye ons juis laat groei; ons moet altyd glo dat die Vader in beheer van ons lewe is en ons moet alles in die lewe met volgehoue toewyding doen.

Die lewe – en die drink van wyn – word met oorgawe gevier

Die St Nicholas Kerk word heel gepas met wingerdlote versier. Ronel Sperling, vrou van Victor Sperling van Delheim, is verantwoordelik hiervoor. Hierdie jaar moes sy noodgedwonge ‘n kombinasie van natuurlike en plastiekwingerdblare gebruik omdat die versengende hitte alles laat verlep.

'n Wingerdblaar-en-druifkruis begroet die wynmaker-kerkgangers by Sint Nikolaas

‘n Wingerdblaar-en-druifkruis begroet die wynmaker-kerkgangers by Sint Nikolaas

Voor die ingang van die kerk was ‘n lewensgrootte kruis van wingerdlote. Die purperrooi klede van die priesters dra ‘n verdere gewydheid oor. Nagmaal is aan ledemate van die Katolieke Kerk bedien. Die kollekte-opname was ten bate van die Stellenbosch Hospice Vereniging.

Dis ‘n instelling dat al die wynmakers wat die diens bywoon, ‘n bottel – of ses – van hul eie wyn aan die priesters skenk.

Die wynmakers skenk mildelik wyn aan die priesters van die kerk

Die wynmakers skenk mildelik wyn aan die priesters van die kerk

Na afloop van die diens is daar na La Pineta Restaurant – op die R44 – vertrek om die lewe met ‘n glas wyn oor middagete te vier. La Pineta vra goedgunstelik nie kurkfooie vir die groep wynmakers en hul trawante by hierdie samekoms nie.

Ver oor die waters

In Kroasië word St Vincent van Saragossa ook met oorgawe gevier. Nie net is daar verskeie kerkdienste in verskillende dorpe nie, maar oor die wingerde word seën uitgespreek; vreugdesvure word aangesteek; daar word gedans en spesiale disse word voorberei.

As iemand dít in Dave Hughes se oor fluister, sien ons dalk ‘n plaaslike fees ten ere van St Vincent – of Vaaljapie – in die Stellenbosch-kontrei in 2016.

  • Lees meer van die geskiedenis van St Vincent by:

http://www.st-vincent-tournante.fr/history-,403,440-en.html

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 25, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .