ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ry met ‘n groen wyntrem op die Pienk Lyn

First published in Rapport, January 2019

Borrels op die Pienk Lyn

Franschhoek se wyntrems ry op spore wat reeds in gebou is

Franschhoek se wyntrems ry op spore wat reeds in gebou is

Raai, raai, riepa.

Eendag was daar een bloue, een groene, een rooie en een gele. Met verloop van tyd het ‘n gryse, ‘n perse en ‘n oranje een bygekom. En toe het fleurige pienk onlangs sy (of is dit haar?) opwagting gemaak.

Kon jy reg raai dat die kleure na die roetes van die Franschhoek-wyntrem verwys?

Daar is altesaam agt kleurgekodeerde roetes wat met die Franschhoek-wyntrem besoek kan word. Meer as 20 wynlandgoedere kan altesaam besoek word, maar jy moet vooraf sekermaak watter kombinasie wynlandgoedere jy graag wil aandoen aangesien die verskillende kleure roetes verskillende wynlandgoedere as bestemming het hoewel daar wel oorvleueling is.

Die nuwe Pienk Lyn op die wyntremroete

Die Pienk Lyn is ‘n nuwe roete wat deels op MCC-wyne (vonkelwyn volgens die Cap Classique-metode gemaak) fokus. Soos met die ander wyntremroetes ry jy ‘n groot deel van die roete in ‘n bus; die res van die roete ry jy in ‘n regte trem. Op die Pienk Lyn word enkeltrems gebruik; op die ander lyne kan jy in ‘n dubbeldekkertrem ry.

Die spore waarop die trem loop, is oorspronklik in 1904 gebou. Toentertyd is die spoorstelsel is deur boere gebruik om hul produkte by die mark uit te kry. Hul enigste ander opsie was om ossewaens te gebruik.

Tot en met 1970 is stoomlokomotiewe op hierdie roete gebruik; daarna is diesellokomotiewe in gebruik gestel. In die 1990’s is daar opgehou om die spoorlyn te gebruik. In 2012 het die Franschhoek- wyntrem sy opwagting gemaak.

Eerste afklimplek: Leopard’s Leap

Groet die luiperdbeeldhouwerk op sy tak wat oor Leopard’s Leap se tuin en die omringende berge uitkyk, verwonder jou aan die herfsblaarkandelaar bokant die wynproetoonbank en besluit of jy net borrels in jou glas verlang of ook ander wyne uit Leopard’s Leap se wye verskeidenheid wyne wil proe.

By Leopard's Leap troon 'n luiperdbeeldhouwerk bokant die tuine uit; binne wag nog 'n luiperd en 'n herfsblaarkandelaar by die wyntoonbank jou in

By Leopard’s Leap troon ‘n luiperdbeeldhouwerk bokant die tuine uit; binne wag nog ‘n luiperd en ‘n herfsblaarkandelaar by die wyntoonbank jou in

Waar dit borrels aangaan, maak Leopard’s Leap Culinaria Brut Méthode Classique en Sparkling Chardonnay Pinot Noir. Laasgenoemde is ‘n uitstekende keuse saam met nagereg, sou jy ‘n bottel saam met jou wil neem.

Sou jy later wou terugkeer, is Leopard’s Leap se Rotisserie Restaurant ‘n gewilde keuse; bespreking is noodsaaklik.

www.leopardsleap.co.za

Tweede afklimplek: Môreson

By Môreson wag ‘n trio ervarings op jou.

Daar is 'n trio van belewenisse by Moreson

Daar is ‘n trio van belewenisse by Moreson

Bereik konsensus of julle jul na die wynproelokaal gaan begewe, Miss Molly Bubbly, Miss Molly Bubbly Cap Classique of Miss Molly Petit Rosé Cap Classique onder die koeltebome gaan nuttig of langer gaan vertoef om ‘n ete by  die uitmuntende Bread & Wine Wingerdrestaurant te geniet.

Miss Molly is vernoem na dié wynplaas se geliefde Weimaraner. Die Miss Molly-reeks ondersteun die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gidshonde (vir blindes) deur ‘n skenking van ‘n deel van die bottel se verkoopprys aan dié organisasie. Daar word met ‘n vonkeling in die oog vertel dat die einste Miss Molly al bespeur is waar sy met gidshonde flankeer.

www.moreson.co.za

Derde afklimplek: Eikehof

Eikehof is een van die versteekte juwele van Franschhoek. Dis eintlik verbasend dat dié wynplaas nie meer bekend is nie.

By Eikehof word jy gul verwelkom waarna jy onder stokou akkerbome plaasneem. Dié akkerbome is die tuiste van ‘n paar uile. Met ons besoek was daar twee groot uile en twee donskuikens. ‘n Mens sien hulle nie sommer vanself raak nie. As die vriendelike eienaars jou help om op die regte plek te fokus, volg daar ‘n koor van oe’s en a’s. Dan kan jy nie glo jy het hulle nie met die eerste oogopslag bespeur nie.

Teug aan Eikehof Sauvignon Blanc, Chardonnay, Rosé, Cabernet Sauvignon, Merlot of Shiraz terwyl jy óf weer vir die uile loer óf die uitsig bewonder. ‘n Geroeste tjor bied kiekgeleentheid en kaas-en-vrugteborde kan bestel word.

www.eikehof.com

 Vierde afklimplek: Paserene

 Paserene se argitektoniese ontwerp sorg vir ‘n asemsnakoomblik met die aankoms.

Hier proe jy wyn in ‘n glassuil wat deels met hout bedek is, maar wat steeds baie lig deurlaat. Klaarblyklik was swaeltjieneste, wat van modder en klei gebou word, die inspirasie agter die ontwerp. Die glassuil kyk uit oor ‘n kleinerige dam.

Paserene kom van die Latynse woord ‘Passeriformes’ wat na sangvoëls verwys; dié groep sluit swaeltjies in.

By Paserene is twee rooiversnitwyne sowel as ‘n Chardonnay te proe. Verwonder jou aan hul uitsonderlike etikette.

www.paserene.com

Vyfde afklimplek: Hugenotestraat, Franschhoek

 Met die vyfde stop kan jy besluit om af te klim en verder die strate van Franschhoek te verken (dis van hier wat jy oorspronklik vertrek het). Myns insiens sal dit egter ‘n groot fout wees; twee van die hoogtepunte van die Pienk Roete is die volgende twee afklimplekke.

 Sesde afklimplek: Haute Cabrière

 Haute Cabrière is teen die hange van die Middagkransberg geleë. Vanaf die terras voor die uitgeholde heuwel waarbinne die restaurant nestel, het jy een van die beste uitsigte oor Franschhoek en die omringende valleie. In die somer is die tafels op die terras volgepak; in die winter sit jy binne knus by ‘n kaggelvuur.

Die reeks Haute Cabrière-wyne is deur Boergondië in Frankryk geïnspireer; die Pierre Jourdan-MCC’s deur Champagne, Frankryk.

Die speelse Pierre Jourdan Wine-ysstokkies (PJ Pops) gaan dadelik jou hart verower.

www.cabriere.co.za

 Sewende afklimplek: Le Lude

 Sodra jy by Le Lude MCC en Orangerie Restaurant instap, moet jy jouself knyp om seker te maak dat jy nie jouself in die hartjie van Parys of in die Franse wynlande bevind nie.

Saligheid op note by Le Lude

Saligheid op note by Le Lude

Fluister maar onderlangs sagweg ‘oe la la’ en hoop daar is ‘n tafel beskikbaar. Daar is ook tuintafels.

Tuintafels by Le Lude

Tuintafels by Le Lude

Laat jou oë feesvier – bokant die toonbank hang ‘n tweemanskap kandelare, die boogvensters laat sonlig deur, op party tafels pryk outydse rose en op ander glanstafelboeke waaruit jy meer oor sjampanje kan leer.

By Le Lude is nie net Methode Cap Classique beskikbaar nie; hulle laat ook Franse sjampanje maak wat vir hulle ingevoer word.

Alles by Le Lude dui op Franse elegansie

Alles by Le Lude dui op Franse elegansie

Le Lude bedien drie verskillende proebordjies. Elke proebordjie het vier proehappies met ‘n verruklike vermenging van smake en geure. Een van die proebordjies is vegetaries.

www.lelude.co.za

 Agste afklimplek: Franschhoek Kelder

 By Franschhoek Kelder is daar iets vir almal: ‘n wynproe met Belgiese sjokolade of interessante kase as pasmaat, ‘n biertuin waar jy vlytbier kan drink, ‘n plek waar kinders kan speel en ‘n tuin waar jy in die buitelug kan ontspan.

www.franschhoekcellar.co.za

As jy self wil gaan:

Bespreek aanlyn by www.winetram.co.za

Kaartjies kos R240 per volwassene vir enige van die wynroetes wat volgens kleur ingedeel is. Kinders (3-17 jaar oud) betaal R90.

Wynproefooie word nie by die tremkaartjie ingesluit nie en moet by die wynplase betaal word. Kostes wissel.

Op dié webwerf is ook ‘n volledige uiteensetting oor watter wynplase op watter kleurroete besoek word.

Die beginpunt is by die kaartjieskantoor in die Hoofstraat van Franschhoek. Dis skuins oorkant Standard Bank.

Al die roetes is hop-op-hop-af roetes. Binne ‘n uur is daar weer ‘n trem wat jou na die volgende wynplaas op jou gekose roete neem.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 19, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .