ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KAVIAAR EN VONKELWYN WORD KAMERADE IN LETLAND

First published in Versnit, Die Burger, September 2015

Kaviaar-kuier in Letland kafgedraf

 

An alleyway with a feeling of medieval times

Roem is soos kaviaar, het Marilyn Monroe blykbaar gesê. Dis heerlik, maar ‘n mens wil dit nie elke dag hê nie. Dis nou nie heeltemal wat ons sou sê na ‘n eerste, tweede en derde proe in Letland nie.

Selfs met die swak rand is dit selfs vir Suid-Afrikaners bekostigbaar. Dis nou wel nie kaviaar in dieselfde klas as wat by Café Pushkin in Moskou verorber word nie.

“Dis soos om sjampanje te eet!” is my eerste gedagte toe die eerste plomp borreltjies op my tong ontplof. Dit smaak soos die see; dis nogal sout; dit herinner aan die fyn mousse van ‘n Cap Classique. Ek verlustig my in die sensasie en druk die borreltjies fluweel saggies teen my verhemelte vas.

Hoe kon die Britse soldate in die Eerste Wêreldoorlog wat as deel van hul rantsoene blikkies kaviaar gekry het, dit uitgespoeg het? En boonop daarna verwys het as visjêm en eerder sardiens in die plek daarvan gekoop het!

Ek wil egter nie soos Frasier van die Amerikaanse sitcom verklaar dat om kaviaar te eet, voel soos om ‘n bronstige meermin te soen nie!

So word die kaviaar uitgepak

Kaviaar is egter nie al wat jy by die Sentrale Mark in Riga aantref nie.

So met die aanstap bespeur ons al die eerste vrugte-en-groentestalletjies. Langsaan staan ‘n kopdoektannie wat repies plakkers vir Paaseiers verkoop.

Ons hotelbestuurder het met neustoeknypgebare vir ons gewaarsku dat die vis-en-kaviaarmark maar minder aangenaam kan ruik. Met die nadergaan kom ons agter dat dit weliswaar waar is en dat van die verkopers, almal vrouens (met groot neuse), bra stug is. Ander gryp egter reikhalsend die geleentheid aan om met toeriste te gesels en hul te laat proe – dis kosstal op kosstal op kosstal met rasperkool, beet, piekels, heuning en geblikte vis asook twee armmansupermarkte.

Terwyl ons kaviaar koop, flap-flap visse en palings op die teëltoonbank langs ons. Eers later sien ek ‘n ent weg groot vistenke waarin vnaand se aandete nou nog rondswem. My reismaat, Vicki, koop ewe braaf gerookte salm en makriel. Ek wou my neus optrek, maar toe is dit héérlik. Maar niks, absoluut niks, kom by die kaviaar nie.

Gedroogde en gesoute vis blyk verskriklik gewild te wees

Op Ratslaukums-plein is ‘n handvol eksklusiewe restaurante soos  Kalku Varti waar reuse verligte doilies deel van die dekor uitmaak. Skuins oorkant is Ampir, eens Nostalgija en bekend daarvoor dat die plafonfrescoes met die voormalige Sowjet-regime spot.

By Ampir proe ons vir die eerste keer Black Balsam, die bitter Letlandse eliksir waarvan jy óf hou óf ver van wegbly. Probeer dan liefs hierdie kruielikeur in ‘n skemerkelkie.

Op die wynlys – saam met die Franse sjampanjes – pryk sowaar Two Oceans Sauvignon Blanc Brut teen dieselfde prys as Moet et Chandon. Ons probeer die bestuur daarop wys, maar geen Engels word gebesig nie, en boonop kry ons die idee hulle wíl nie verstaan nie. Daar’s ook nog ‘n goeie skeut agterdog uit die ou bestel aanwesig.

Somer in Riga mag kort wees, maar dit word optimaal benut

Nie te ver daarvandaan is Alus Seta, toendertyd ‘n werkerskafeteria; hulle bedien steeds Letlandse trooskos in buffet-styl. Toeriste, rugsakreisigers, klerke en arbeiders bestel tapbier terwyl hul wag om met ‘n skinkbord in die ry te gaan staan. Daar’s altyd ‘n paar varkgeregte, dillesous, bloedwors, aartappelslaai, grys-ertjies (dit lyk soos swart kekerertjies), beetslaai en roosteraartappels om uit te kies.

Of jy die Museum van die Besetting van Letland op ‘n nugter maag besoek of nie, dit ontneem jou alle eet- en lewenslus. Seker die hartseerste uitstalling is die Klavier Sonder ‘n Stem, wat ‘n prisonier vir ‘n bekende komponis gemaak het sodat hy steeds sy musiek kon oefen.

Na afloop van hierdie besoek het jy ‘n stywe dop nodig. In die Nuwe Dorp is ‘n besoek aan die Skyline-kroeg op die 26ste verdieping van die ou Latvija Hotel  ‘n moet. Dis eintlik nie meer die ín plek soos toe die besnorde kommunistiese omies hier uitgehang het nie. Die uitsig oor die Ou Dorp is egter onverbeterlik hoewel die Rigas Vonkelwyn Brut – dit word van Europese wyn in Riga gemaak – redelik blikkerig proe.

Na afloop van my besoek aan Riga mymer ek nog soms daaroor dat die lewe my nie só geseën het dat ek elke dag kan kaviaar eet nie. Maar eintlik het ek vrede oor dit wat ek kon beleef en proe.

Een van baie visstalletjies by die vismark in een van die ou Russiese loodse

Die Sentrale (Kos)Mark in Riga, Letland

Pickles, coleslaw and shredded vegetables are part of the staple diet of Latvians

Riga se plaaslike kosmark is in vyf ou Zeppelin-vliegtuigloodse wat uit die 1920’s dateer. Dit word as een van die mees fassinerende kosmarkte in die wêreld beskou.

By die Sentrale Mark is groente, vrugte, vis, Chinese snert, en baie ander dinge

Dis langs Stockmann, ‘n eksklusiewe afdelingswinkel, waar jy van koffie en tee van regoor die wêreld tot alles wat jy nodig het om soesji te maak, kan koop, insluitende ‘n lewensgrootte brandewyngevulde glasswaard en ‘n beperkte reeks Suid-Afrikaanse wyne.

Wees in jou pasoppens vir sigeunersakkerollers as jy van Stockmann oor die straat na die Sentrale Mark loop.

Die Sentrale Mark het ‘n wonderlike webwerf: www.rct.lv/en/

Lees meer oor die storie(s) agter kaviaar: http://vanorabennett.com/books/the-taste-of-dreams/

Ander kosmarkte in die wêreld wat ‘n besoek werd is: La Boqueria, Barcelona, Spanje;  Mercado Central, Santiago, Chile (veral vir seekos); Borough Mark, Londen, Engeland; Djemaa el Fna, Marrakesj, Marokko en die Spesery-Basaar (ook bekend as die Egiptiese Basaar), Istanboel, Turkye.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 8, 2018 by in Afrikaans foodies and tagged .