ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Les groot dors op die langpad

First published in Die Burger, April 2013

KNAK ‘N KNERTSIE IN ‘N KANNIEDOOD KROEG

Daar’s darem min dinge so lekker as om vir ‘n yskoue bier êrens langs die pad te stop voor jy verder die langpad aanpak. Helaas, met die jare het meer en meer van die ou keelnatmaakplekke geleidelik in onbruik verval en mettertyd verdwyn. Gelukkig is daar darem nog ‘n paar wat die tradisie omhoog hou.

DSC_0870

Seks, Drienks en Musiek uit die 80’s

Hier word wel baie oor seks  – ook deur Ronnie – gepraat, maar dis ook al. Verder word hier gereeld hard gedrink – deur boere van die omringende plase, deur hedendaagse smouse, en deur reisigers wat vir een-maar-dan-word-dit-twee (of drie) doppies stop.

dsc_0875.jpg

Eintlik was dit nooit Ronnie se plan om ‘n kroeg in die vlakte te bedryf nie, maar na sy (sogenaamde) vriende hom ‘n poets gebak het, het hy seker maar nie ‘n keuse gehad nie, vertel hy ingenome. En die res is geskiedenis.

DSC_0862

Aanwysings na Ronnie se Sex Shop: Hou al met die R62 anderkant Barrydale aan tot jy op ‘n oop vlakte aan jou regterkant die onmisbare kroegnaam sien. Vir diegene wat puntenerig oor presiese aanwysings is, is die GPS koördinate: 33.778889 S 20.932778 N

http://www.ronniessexshop.co.za

Hang jou pêntie oek innie dak

Dit kan net die Panty Bar wees

Met die uitklim uit jou motor waar jy voor die hotel geparkeer het, word jy begroet met: “Hoe lykit met ‘n vars krief?”

Dis wat jy alles by die Paternoster Hotel kan doen

Jare gelede was die Paternoster Hotel die enigste keelnatmaakplek in hierdie geweste. Die nie meer so nie, maar ‘n inloer by die ou kroeg is steeds ‘n móét. Landwyd praat Suid-Afrikaners oor die onheilige pênties wat die dak vol hang. Frillerige bloemertjies en G-stringetjies, en als tussenin. By wyse van spreke. Honderde pênties.

Die ene panties

As daar groot rugby aan die gang is, word ‘n saalvertrek donker gemaak, stoele uitgepak en al wat leef en beef, drink bier of brandewyn en hou die groot skerm stip dop. Op ander dae is raserige kuiers op die stoep aan die orde van die dag. Te koud? Binne is sitplek op helder gestoffeerde retro leunstoele.

Aanwysings na Die Panty Bar by die Paternoster Hotels: Draai links by die stopstraat soos jy die dorp binnekom. ‘n Hanetree weg sit die Paternoster Hotel aan jou linkerkant.

http://www.paternosterhotel.co.za/facilities/pub/

Drink ‘n bobbejaan raak by die Hangklip Hotel

By die Hangklip Hotel kan jy kies in watter kroeg jy wil kuier - as jy die bobbejane kan ontduik

By die Hangklip Hotel is sommer twee kroeë. Drie as die wille boskroeg bygereken word. Een binne-in die hoofgebou – maar nie meer waar dit jare terug was nie – en om by die tweede kroeg, Plankies, uit te kom, moet jy sommige dae eers die bobbejane trotseer. Binne-in die Hangklip Hotel is die kuierkroeg cum sitkamer en oopplan eetvertrek. As jy een keer hier was, onthou hul (dis nou die kelnerinne; nie die bobbejane nie) jou as jy die volgende keer instap. Selfs al weet jy nie self wie jou laas bedien het nie.

Die ou kroeg was die uithangplek van Stellenbosch-studente, perlemoen-en-kreefduikers, hardebaarddrinkers en een keer in die mid-tagtigerjare ook van Gaitsigubib (eintlik Ben Dekker)  van Vlaktes duskant Hebron-faam. Dis vóór hy in die koerant beland het oor sy baldadige manewales in die branders van die destydse Transkei. Toeka se tyd was Angie die kroegmeisie wat jou drankie gegooi het.

Die potspeltafels was êrens agter in die gebou. Op ‘n dag het ‘n onderwyseres haar hoërskoolstudent van Lansdowne hier raakgedrink. Met ‘n van soos Piedmontese was dit nog moeilik om op ‘n gewone dag uit te spreek daarby. Maar dis ‘n ander dag se storie.

Deesdae is die kroegman by Plankies se naam Spyker. Of was dit nou Spênner. Aggenee, dit het my alweer ontgaan. Nugter weet hoekom.

Aanwysings na die Hangklip Hotel : As jy by Pringlebaai indraai, is jy reeds op die Hangklip-pad. Hou net reguit aan – die laaste twee kilometer is grondpad .

http://www.hangkliphotel.com/bar.htm

Skrik vir PW se gesig in Hermon

Die kafee oorkant Hermon Hotel help met bemarking

Hermon is nie te ver van Riebeeck-Kasteel nie. Die ou Royal Hotel met sy besige kroeg waar Toffie, die knorrige spanjoel, sommer op die toonbank na jou gehap het, het ‘n paar jaar terug ‘n nuwerwetse baadjie aangetrek. Kry dus koers na Hermon vir nog ‘n kanniedood kroegervaring.

In Hermon is daar nie veel meer as die hotel van vanmelewe nie. Klop hard, draai die deurknop en stap in. Skreeu maar na agter as daar niemand agter die toonbank is nie.

Met ‘n koue skuimkop – of ‘n glasie sjerrie in die winter – in die hand is dit tyd om oor jou regterskouer te loer. Dis nou as jy so staan dat jy die kroegman vierkant in die oë kyk. So wrintie, dis ‘n doodskis. Lig die deksel op. Kom nou, moenie ‘n bangjan wees nie.

So lyk die binnekant van die doodskis in die Hermon Hotel

 

 

Gaats Gert, dis dan PW! Kompleet met daai karbonkelneus. Jy staan sommer ‘n tree of wat terug; al swaai hy nie sy dik voorvinger onder jóú neus nie. So ‘n karnallie (van ‘n masker)!

Aanwysings na die Hermon Hotel: Ry direk na die grootste gebou in die dorp; dis maar al.

 As ‘n akker op jou kop val

Dis net op Maandae wat De Akker so stil is

Menige student se studielening het al in De Akker se donker vertrekke gekrimp. Menige filosofieë het al hul ontstaan – hoewel soms so kortstondig as tot met sonsopkoms die volgende dag – by die swaar tafels gekry.

Vir dekades is De Akker al die kuierplek van die Maties, wat soms ook een van hul dosente hier raakdrink. Ook van nostalgiese oud-Maties – die brawes bestel as ‘n huldeblyk aan hul studentedae ‘n bottel Tassies. Sommige onthou hoe so ‘n bottel lank, lank gelede gedurende intervarsity slegs 75 sent gekos het.

Pasop net met die uitstap dat jy nie in een van die leivore beland nie.

De Akker is in Dorpstraat 90, Stellenbosch geleë.

http://deakker.wozaonline.co.za/

Verbeel jou jy’s ‘n delwer in Kimberley

Drink Murg van die Mout by Star of the West

Kimberley het nie net die Groot Gat nie; daar is ook twee ou kroeë waar skimme van die delwers nog rondhang. Star of the West is aan die verkeerde kant van die spoorlyn, soos die oumense sou gesê het. Dis darem naby die Kimberley Mynmuseum.

Die Star of the West het in 1870 sy deure geopen om die delwers se dors te les. Daar word vertel dat die kroegtoonbank van die hout van ‘n gestrande seiljag genaamd Star of the West gebou is. Tot en met 1886 was die toilette emmers wat in ‘n donker hoekie staangemaak is. In die tagtigs is die kroeg liefdevol restoureer sodat die plek tot sy volle glorie kon kom.

Stop reg voor die deur en stoot die swaaideure van die kroeg wat as nasionale monument gesertifiseer is, oop. Party aande is dit maar stil hier – so stil dat almal omkyk as jy instap. Kort voor lank korswel almal om die lang kroegtoonbank.

'n Groot keuse van drinkgoed wag vir jou by Halfway House, Kimberley

Oor die strategies geposisioneerde Halfway House Inn word daar verskeie legendes vertel. Dis níé ‘n legende dat Die Half (soos Kimberliete dit sommer noem) eens op ‘n tyd ‘n deurry-kroeg was nie. Of Cecil Rhodes hul eerste klïent was, is daar wel nog nooit eenstemmigheid bereik nie.

Aanwysings: Star of the West is in North Circularstraat 2 en Halfway House Inn is in DuToitspan-straat  229, Kimberley.

www.southafrica.net/za/en/articles/entry/article-southafrica.net-star-of-the-west

www.halfwayhousehotel.co.za

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 23, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .