First published in Rapport, March 2021
So seker soos amen in die kerk
Volgens die webtuiste van die NG Kerk Argief (www.gemeentegeskiedenis.co.za) is die eerste NG Gemeente, NG Gemeente Kaapstad, in 1665 deur Jan van Riebeeck en 90 mede-Nederlanders in Kaapstad gestig.
In 1674 het die begeerte na ‘n permanente plek van aanbidding opgevlam.
NG Gemeente Kaapstad het verskeie kerkgeboue gehad vóór die Groote Kerk, ingewy op 31 Januarie 1843, gebou is.
Die NG Gemeente Tulbagh kry die eer vir die oudste kerkgebou, gebou in 1743. Dis vandag die oudste kerkgebou in Suid-Afrika wat nog staan soos dit oorspronklik opgerig is. Dit word egter nie meer as kerkgebou gebruik nie, maar dien nou as die Volksmuseum, vertel dr. Andrew Kok, die argiefbestuurder van die NG Kerk in Suid-Afrika.
Dr. Kok voeg by dat die jongste kerkgebou – maar nie die jongste gemeente nie – dié van die NG Gemeente Vanderkloof in die Noord-Kaap is. Dié gemeente het in 2011 van Petrusville afgestig. (Lees meer oor die geskiedenis van die NG Kerk op https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/oorsig-van-die-geskiednis-van-die-ng-kerk/).
‘n Buitelandse toeris het eenkeer opgemerk dat wat in Suid-Afrika opval, is hoe baie mense op Sondagoggende na die kerk stroom. Rye motors word geparkeer en na afloop van die erediens staan almal gemoedelik in groepies voor die kerk en op die sypaadjie en gesels.
Hierdie beeld van hoe dit vir reisigers aan ons land lyk, het my nog altyd bygebly. Ek laat nooit na om daaraan te dink as ek deur die Suid-Afrikaanse platteland ry en die een imposante kerk na die ander in dorp na dorp sien nie.
Die kerkboeke (herkoms) van kerke in die Boland
Die huidige gewelgebou van die alombekende Strooidakkerk in die Paarl is in 1805 ingewy. Die Strooidakkerk is in die vorm van ‘n Griekse kruis gebou.
Langs die preekstoel hang armbeurse waarmee kollektes lank terug opgeneem is. ‘n Silwer klokkie het onderaan elke sakkie gehang. Die klokkie moes “slapende aanbidders” wakkermaak as die preek te lank vir hulle aangehou het.
Die hoeksteen van die huidige Toringkerk, weinig meer as ‘n klipgooi vanaf die Strooidakkerk, is in 1905 gelê. Die kerktoring is 57 meter hoog. Die fleur-delis-motief in die ligroos, geel en oranje kerkruite is ‘n ou kerklike simbool van die Goddelike Drie-eenheid.
Wellington Moederkerk het tot stand gekom na hulle in 1838 van die Paarl afgestig het nadat die pont oor die Bergrivier, wat baie kerkgangers noodgedwonge moes gebruik, vir die hoeveelste keer beskadig is. Voor die kerk is ‘n standbeeld van dominee Andrew Murray waar hy sit en preek; sy werk in die gemeente(1871-1917) het tot groot groei gelei.
Swellendam het hul kerkskoene deurgeloop
Die gemeente van Swellendam is in 1798 gestig. Voor die stigting was kerklike pligte – behalwe doop en nagmaal waarvoor lidmate Kaap toe moes reis – die verantwoordelikheid van sieketroosters.
Die huidige kerk, met ‘n eklektiese vermenging van boustyle insluitende barok, goties, Kaaps-Hollands en Oosters, is in 1911 voltooi.
Die kerk en die bar staan langs mekaar
Die storie loop dat die Overbergers doerie tyd nie kon ooreenkom presies waar hul kerk opgerig moes word nie. Toe eindig hulle met twéé lieflike kerke –in Napier én Bredasdorp.
Napier wen waar dit ligging aangaan; die kerk is reg langs die kroeg as jy die straatjie wat jy moet oorsteek buite rekening laat.
As dit op die predikant reën, drup dit op die koster
Op www.gemeentegeskiedenis.co.za waar die gemeenteskiedenis van NG Kerke ook uitgelê word, word vertel dat die gemeente Victoria-Wes in die Sentraal-Karoo in die ou taal 18 uur te perd lank en 13 uur breed was en 1 250 lede getel het. Dus was daar ‘n behoefte om die gemeente te verklein.
Só het Vosburg en Loxton ontstaan.
Loxton se kerkdienste is aanvanklik in ‘n kafhok op ‘n plaas gehou!
Die preekstoel – sekerlik een van die mooistes in die land – in die NG Kerk op Vosburg is in die vorm van ‘n skip. Die leraar, as stuurman van die gemeente, staan bo in die middel. Die ouderlinge en diakens sit, soos roeiers uit vanmelewe se dae, weerskante van die preekstoel in rye uitgesprei.
Sit jou begrafnisgesig op
In vroeër jare was die kerkhof, of begraafplaas, by of om die kerk. Vandaar die benaming kerkhof.
Duskant die Sederberge by die NG Kerk Clanwilliam of Blomkerk – sowel as by die Anglikaanse Bisdomkerkie van Saldanhabaai skuins agter in die volgende straat – is treffende voorbeelde van atmosferiese grafte rondom die kerkgebou.
Die dorpie Nuwerus, eens die halfweghalte tussen Vanrhynsdorp en Garies, se NG Kerk is deur Gerard Moerdijk ontwerp; Moerdijk het ook die Voortrekkermonument ontwerp.
‘n Interessante staaltjie lui dat die planne vir die plaaslike hoërskool toentertyd met die skoolbouplanne van ‘n veel groter dorp as Nuwerus omgeruil is. As ‘n mens die kerk beloer, kan jy jou verbeel dat dit met hul planne óók gebeur het.
Skuins oorkant die NG Kerk Nuwerus is ‘n piepklein begraafplasie waar aalwyne welig groei en waar twee bakoonde – of dis altans hoe dit lyk – ook pryk.
In die Noord-Kaap voor Pofadder se NG Kerk is ‘n netjiese, maar verwese graffie. Op die grafsteen staan: “In tedere gedagtenis aan ons dierbare dogterjie Aletta Johanna Marais, gebore 10 Sep 1919, gesterf 24 Okt 1920.” en “En hij stak zijne hand uit en nam haar in en bract tot zich in de ark. Gen. 8.9”
Klipkerke meer as ‘n klipgooi ver
Baie van Suid-Afrika se imposantste kerke is klipkerke.
Die Noord-Kaapse NG Kerk Nieuwoudtville – asook die pastorie – is uit Tafelberg-steenklip uit die distrik gebou. Die preekstoel is van Tafelberg-sandsteen; die kerkbanke is van eikehout.
Volgens Wikipedia is die NG Kerk Cradock in die Oos-Kaap met 356 000 stene gebou, “behalwe ‘n buitengewone hoeveelheid klip”.
Die dorpie Kamieskroon in Namakwaland het in 1924 ontstaan toe die hele dorpie Bowesdorp hierheen verskuif het. Die verskuiwing was 7 km ver en was broodnodig omdat daar ‘n gebrek aan water by Bowesdorp was.
‘n Gedenksteen by die NG Kerk Kamieskroon getuig: “Gebou met klip van die Ou Kerk te Bowesdorp. Ingewy 150 jaar gelede. 90 jaar terug vervang met die huidige kerkgebou. Onthul 2014.”
Die NG Kerk Williston is uit sandsteenblokke van ‘n nabye steengroef gebou. Die banke van eikehout, oorspronklike brandskilderglas en horlosie is uit Holland ingevoer.
Onder die eerste Willistonse predikant was strenge tug aan die orde van die dag. As lidmate versuim het om een pond tot die predikant se salaris by te dra, is hulle met geregtelike stappe gedreig.
In Sabie, Mpumalanga is St Peter’s Church in ‘n skaduryke tuin in die dorp genestel. Dié klipkerkie is al meer as ‘n eeu oud.
Praat uit die kerk
Van nuuskierigheid is die tronk vol… of eerder, laat jou weetgierigheid jou lei na kerkbesoeke regoor die land.
Besoek die “tweeling van Piketberg” – die NG Kerk Aurora en Redelinghuys, wat beide in 1906 van Piketberg afgestig het. Die oorspronklike NG Kerk Redelinghuys is egter tragies op 9 April 2019 tydens ‘n brand in puin gelê.
Ook die NG Kerk Porterville met sy sierlike stoep en balkon het van Piketberg afgestig.
Klipplaat, ‘n nedersetting in die Oos-Kaap, spog met drie pragtige, redelik verlate kerke – die NG Kerk, Anglikaanse Kerk en Metodistekerk. In die nabygeleë Mount Stewart, eens ‘n sylynstasie, is twee oulike kerkies wat blyk leeg te staan.
As jy jou perdalks in die omgewing van Kuboes, so ietwat tussen êrens en nêrens in die Noord-Kaap bevind, gaan loer na die VGK Kuboes. As die kerk oop is, kyk na die hout wat binne gebruik is; dit kom vanaf ‘n skeepswrak wat by Port Nolloth gestrand het.
Die NG Kerk Steytlerville het sitplek vir sowat 1500 kerkgangers!
Die Neo-Gotiese kerkgebou van die NG Kerk Vanwyksdorp in die Klein Karoo is ‘n moetsien!
Skuins oorkant Montagu se NG Kerk waarsku ‘n padteken dat katte graag hier die pad oorsteek; skuins voor die NG Kerk Prieska met sy unieke Hollandse geweltoring is ‘n kleinerige Ossewatrek-gedenkbeeld.
Die NG Kerk Philippolis in die Vrystaat is reeds in 1969 as nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
Jy sal jou verkneukel as jy sien hoe koeie soms in die straat verby die kerk drentel.
***
Nie meer so gereeld soos klokslag
In 2016 is die Toringkerk in die Paarl deur die Drakenstein-munisipaliteit opdrag gegee dat die historiese klokke nie meer mag lui nie na die inwoners van één huis oor die lui van die klokke gekla het.
Tot die ontsteltenis van die Paarl-gemeenskap lui die klokke stééds nie.
Volgens Drakenstein Munisipaliteit (skrywe ontvang op 28 Januarie 2021) wag hulle op kommunikasie van die Toringkerk voor met ‘n oplossing vorendag gekom kan word. Die Toringkerk het nie op navrae gereageer nie.
Wat ‘n tragedie dat die kerkklok van een van die prominentste kerke in Suid-Afrika reeds vir jare lank stil is!
Ek hou ook baie van ou kerke en was al in ‘n paar. As ons vreemde dorpe op ons toere besoek, gaan kyk ek altyd hoe lyk die kerke. Ons het al Aberdeen se kerk binne gaan kyk en in hulle saal hang die pragtigste lap kwiltwerke. Graaf-Reinet, Sutherland ens se kerke is pragtig. Williston en Uniondale se kerke kon ek net van buite afneem, maar net sulke mooi kerke. Joubertinia se kerk het ‘n klein klipsteen met ‘n kerk in verskillende kleure glas wat deurskyn.
Daisyopdiestoep, jy maak lus om dadelik in my motor te klim en nog kerke te gaan besoek! Ek is altyd so bly as ek by ‘n kerk kom en dis oop sodat ek binne kan sien. Ek maak mental notes om dit wat jy genoem het, te gaan opsoek. Lekker dag!
Pos jou foto’s as jy dit doen en tag my dan.
Ai, daisyopdiestoep, ek weet nie wanneer ek daarby gaan uitkom nie; die jaar hardloop met my weg.