ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oepse daisy, sy kroeg is vir twak praat

First published in Die Burger, May 2013

‘N KROEG WAAR VAN DER HUNK SOU TUIS VOEL

n-hoed-gee-karakter-aan-johan-bakkes-en-n-vlakvark-in-sy-tabakskuurkroeg.jpg

Johan Bakkes – skrywer van ‘n paar boeke met stouterige titels en deesdae ook “show man” soos hy self erken – is ‘n man wat al op die koudste én warmste plek ter wêreld gekuier het. En van kuier hóú hy. Soos wat dit so ‘n man (wat sy slag kan slaan) betaam, het hy ‘n properse kroeg.

Waar ‘n rokie trek…

In hierdie ou tabakskuur op sy werf onthaal Johan Bakkes sy vriende

Agter in Johan Bakkes se werf is ‘n ou snuiftabakskuur wat uit die begindae van die Paarl dateer. Dis omskep in ‘n kroeg, maar nie sommer enige kroeg nie. Dis Johan se domein waaroor net hy (en Pop, maar later meer van haar) seggenskap het.

die-ou-advertensiebord-van-die-oorspronklike-eienaar-staan-nog-skeefweg-op-die-vloer.jpg

Ene S.F. Marais het van hier sake gedoen – die oorspronklike uithangbord pryk nog binne-in die kroeg. Op die bord staan: S.F. Marais en Kie, Vars Produkte, Snuif en Tabakhandelaar, Telefoon 4075. Ek kan nie glo daar was ‘n tyd wat telefoonnommers so kort was nie.

Elke sentimeter is gevul met reismemorabilia van regoor die wêreld hoewel Afrika duidelik ‘n ereplek beklee. Hier’s meer Afrika-maskers as wat die Duitsers elke jaar huis toe dra; ek sien ook ‘n houtskaakstel en geraamde foto’s van al Johan se avonture. Johan se “samoe(r)sareis(e)” het hom al van die Ivoorkus tot Timboektoe in Mali, van Senegal tot Morokko met ‘n draai in Mauritanië gevat. G’n wonder daar hang ‘n lap bedruk met ‘n woestynkameel teen die een sinkplaatmuur nie.

Net die plek om twak te praat

johan-en-pop-is-geesgenote-sy-het-al-saam-met-hom-gaan-reis-en-het-haar-eie-paspoort-so-vertel-hy.jpg

Digby die kroegtoonbank waar Johan op sy elmboë leun staan Pop – in haar kamoefleer-uniform met ‘n piepothelm op haar kop -sodat sy altyd naby Johan kan wees. “’n Man moet papiere hê”, glo Johan, en dit geld vir Pop ook. Dus het Pop haar eie paspoort.

Johan beweer dat die lewensgrootte Pop al op vele van sy reise saam met hom was. Pop sprak nie ‘n sprook om die teendeel te bewys nie. Haar paspoort hou sy ook goed weggesteek sodat die stempels nie geïnspekteer kan word nie. “Gee daar vir Pop ‘n soen op die wang,” versoek ek kamera-gereed. Oepse daisy, hier vang ek sowaar vir Johan onkant.

As Johan nie “moer toe die vreemde in” (soos die titel van sy eerste boek wat aan al sy reisgenote opgedra is, aandui) is nie, is dit hier in die tabakskuur waar hy sy sit sit en waar hy mildelik skink. En maklik praat – terwyl sy armbande klingel – en daar tot hanekraai gekuier word. Jy staan perdalks die volgende oggend op met so ietwat van ‘n nou’s-ons-in-ons-donner-in gevoel. Hier word ‘n ding boonop op sy naam genoem, kragwoorde gebesig – Norrevok, dit was nou vir jou ‘n bliksemse plek! – as die vertelling daarna vra en geen wenkbroue word gelig nie.

… is daar ‘n vuurtjie

dit-vat-n-bietjie-oortuiging-om-vir-johan-sy-venesiese-masker-te-laat-opsit-wat-hy-aangeskaf-het-toe-hy-sy-vrou-na-n-lank-beloofde-reis-soontoe-geneem-het.jpg

Binne-in Johan se tuiskroeg geld geen rituele nie; al is Johan ‘n man wat “’n moerse sinnigheid” in rituele het. Buite die tabakkroeg in ‘n ruim agterplaas is daar sewe braaiplekke – so na aan mekaar dat jy ‘n tjop van die een na die ander kan gooi. ‘n Man is mos nie lus om elke keer op dieselfde plek te braai nie! By die een sit jy op Malawi-stoele in ‘n kring waar ‘n lantern van Outa Lappies herinneringe oproep; by die ander kan jy biljart speel of by ‘n lang tafel aansit. Op by die soldertrap bêre Johan sy boeke.

‘n Kroeg is ‘n dorp se siel, sê Johan

Op Litnet het Johan al die volgende kwytgeraak: “’n Man deurkruis die wêreld op soek na iets net om dit by sy aankoms by die huis te vind. Vir party is dit die studeerkamer met boek en rekenaar, vir ander ’n trofeekamer met bokkop en geweer. Vir my is dit ’n drinkplek – my kroeg.”

‘n Woeste baard, ongekamde hare en Mabalêl-armbande het Johan se seun al laat noop om ‘n kreet van “Daai tannie met die rok en die bêngels is my pa!” in ‘n supermark te gee. Hoe enigiemand die baard kan miskyk, weet nugter alleen. Dis seker Johan se gunsteling storie wat hy graag aan nuwelinge in die tabakskuur vertel. Dis so na aan ‘n “professioneel gekwalifiseerde boemelaar” as wat hy kom, want hierdie bebaarde tannie is van agt tot vyf ‘n geoktrooieerde rekenmeester wat by die Universiteit van die Wes-Kaap klasgee.

Al wat ek nie hier – terwyl ons glasies verfrissende rosé in die snikhete Paarl drink – gesien het nie, is Van Der Hunk se pyp. Ek sal maar weer moet gaan kuier ; al het ek reeds die besoekersboek met verskeie bekende name geteken. Ek het vergeet om te vra waarvandaan die vlakvark met die swart pet en die swetterjoel dasse kom. Dalk spoor ek hierdie keer Van Der Hunk se pyp op.

 

LEES NOU JOHAN BAKKES SE BOEKE
·        Moer toe die vreemde in – waaroor hy self sê: “Ek is nie slim genoeg om strontstorietjies uit te dink nie – alles wat hier staan is die reine waarheid.” Moer toe handel oor Johan se reise in Afrika – van die Visrivier tot Kilimandjaro en Timboektoe. Dis steeds vir hom “flippin ongelooflik” dat hy in Timboektoe was.

·        Nou’s ons in ons donner in – en dis vir Johan Bakkes die lekkerste van alles – die onbepland reis en onbepland verdwaal.

·        Norrevok – Johan raak ietwat filosofies in Siberië en ‘n paar ander plekke terwyl “strontstories hom steeds ontwyk” en hy nie sy boeke “vir sensitiewe lesers” aanbeveel nie.
·        Samoe(r)sareis – Johan reis na Indië en in ons eie land rond, want “die donner weet” hy sukkel om alles ingepas te kry wat hy nog wil doen.
·        Oepse daisy – Nieteenstaande die titel is dit nie ‘n sawwe Johan Bakkes waarmee ons hier te make het nie. Johan raak die sielsdinge van reis – en van die lewe gevul met madeliefies en dorings- aan.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 31, 2018 by in 'n Titseltjie dekor / A touch of decor and tagged .