ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

KORINGBERG: SKEI DIE KORING VAN DIE KAF

First published in Die Burger, February 2014

Die ingang van Koringberg

‘n Toevallige deurrit op ‘n Sondagoggend deur Koringberg laat twee brunette besluit dié plek vrá vir ‘n besoek op ‘n Saterdagoggend.

Op die einste Sondagoggend is dit grafstil, maar móóí – die huise is in skakerings geverf en die tuine is prentjiemooi. ‘n Uithangbord teen ‘n heining maak beloftes van ‘n Vrydag- en Saterdagoggendmark en ‘n teetuin; ‘n klipgooi verder kan wyn geproe word.

Vol verwagting vir ‘n rekordoes

Met die saadjie van ‘n lekker plattelandse besoek geplant, suiker ons die daaropvolgende Saterdagoggend sak en pak af na Koringberg. Paraat sodat ons vroeg genoeg daar is om die roesemoes van die mark te beleef, die plaaseiers (hopelik dubbeldoor) nie uitverkoop is nie, en hopelik ‘n paar van die Koringbergers – of dalk noem hul hulself die burgers van Koringberg – te ontmoet.

Hierdie bootjie is bietjie ver van die see af

Ons het juis ‘n voëltjie hoor fluit dat hier heelwat swaeltjies (Europeërs wat vir ‘n paar maande van die jaar in Suid-Afrika bly) woon.

Op Moorreesburg – dis minder as 20 minute se ry van hier na Koringberg – klim ‘n blondine amper in die ry by ons in; só haastig is ons driestuks om Koringberg te gaan verken.

Wat jy saai, sal jy… nie maai nie

By die ingang van Koringberg is die naam van die dorp aangebring en aalwyne aangeplant.  Koringberg het sy ontstaan aan die skaap- en koringboere te danke. Vandaar die naam natuurlik.

Geen besigheid oor naweke

In die hoofstraat – hier is net ‘n handvol strate – lyk dit bra stillerig. En toe… is net mooi alles bottoe. Selfs die poskantoor én die drankwinkel! Net die netjies afgewitte spaza-winkel met sy vindingryke naambord is oop.

Net die Spaza Winkel is op 'n Saterdagoggend oop

Die enkele klant wil dadelik weet of ons van ‘n ander dam se ganse by name ‘n ander publikasie is, want hier is “stories op hierdie dorp wat al lankal vertel moes word”. Binne-in die netjiese spaza-winkel is ou koekblikke uitgestal en bokant die kasregister pakkies Spokies-tjips. Nog nooit gesien of geproe nie!

Koop Spokies tjips by Spaza

Drie pakkies word dadelik aangeskaf sowel as ‘n pakkie Wiky Party Pizza tjips aangesien ons ‘n amperse naamgenoot in ons midde het. Hier’s dan nie ‘n mark met potbrood, vetkoek of skons nie, en die hongerpyne begin al knaag.

Daar is nog koring in Egipte

'n Bruggie spesiaal vir geveerdes

Sou jy besluit om te gaan kyk hoe Koringberg nou eintlik lyk, is daar darem nog koring in Egipte oftewel besienswaardighede en kuierplekkies in Koringberg. Weliswaar is daar nie meer ‘n oggendmark of ‘n teetuin nie.

almal-stop-in-hierdie-straatjie-om-die-bruggie-vir-gevogeltes-af-te-neem.jpg

Ry kriskras deur die dorpie om die interessante huise, goedversorgde tuine en individuele stoepdekor (van gemaklike sitstoele tot eienaardige maskers) te bekyk. Moenie die spesiale bruggie vir eende en ganse miskyk nie.

Maak vooraf ‘n afspraak sodat jy Wildehurst se wyne kan kom proe. Voor die “grootste klein wynmakerytjie in Koringberg” – soos wat dit op die webtuiste beskryf word – lê ‘n potblou boot wat lyk of hy na die see verlang.  Ook die geraamte van ‘n ou houtwa wat aan vervloë dae herinner.

By Oppie Koffie is 'n tannie wat Hollandse gebak bak

Bestel vooraf by die tuisbedryf die heerlikste Hollandse gebak soos botterkoek deur 076 740 6395 te skakel.

Vat die langpad

Sou jy lus wees om sommer net jou motor se neus in ‘n rigting te draai en die distrik te bekyk, kan jy regdeur die dorp ry en al met ‘n grondpad langs tot jy net voor Hopefield weer in die grootpad indraai. Dis ‘n sinkplaatpad wat jou derms losskud, maar dis ongerep mooi en jy voel of jy honderde kilometers van die stad is.

Net voor jy weer amperse beskawing bereik, sien jy slanke wit windlaaiers weerskante van jou. Vertoef ‘n paar minute hier; draai die ruite af en luister na die gesjor sjoef sjoef van die windlemme soos hulle stadig draai. Dit het ‘n anderste bekoring.

Of vat die kortpad

Koringbergers is stoepversierders van formaat

Synde sonder Hollandse tertjies en ‘n glas wyn ry ons terug na die N7 waar Desert Rose, net mooi waar jy na Koringberg afdraai, op ons wag. Die symuur is van hoek tot kant met nommerplate beplak.  Die tuin is ‘n lushof. Die sement-engele wat vanuit die hoek vir ons loer, kan by Die Plaasmol, buitekant Hopefield in die rigting van Vredenburg, bestel word.

Die nommerplate sal jou nooit laat raai hoe nostalgies dit hierbinne is nie

Binne-in die Desert Rose is dit ‘n oase van koelte. Heeltemal onverwags is hier ‘n outydse teekamer met kant, lint en ouma se hoede; stringe pêrels, feetjieliggies, laprose, silwer raampies en oudoos-handsakke met blinkertjies en toeknypgespes.  Naby die deur in die deli-seksie staan ‘n outydse prêm met spanspekke te koop.

Desert Rose is gewild onder motorfietsers wat gereeld hier aandoen omdat hulle weet die porsies is rojaal, die smake eg Suid-Afrikaans (almal praat van die biltongskons) en die ontvangs gul.

Ook werd om te weet:
·        Bespreek vooraf ‘n wynproe by www.wildehurst.co.za

Hul wyne is ook by The Wine Kollective in Kortstraat, Riebeek Kasteel beskikbaar. www.thewinekollective.co.za

·        Beide Riebeek-Wes en Riebeek Kasteel is naby genoeg om vir middagete vanaf Koringberg soontoe te ry. Jy kan uit ‘n verskeidenheid van restaurante kies. www.riebeekvalley.info/riebeek-valley-restaurants.htm
·        Die Plaasmol is ‘n ongekunstelde plaasstal met iets van alles. www.plaasmol.co.za

 

.

One comment on “KORINGBERG: SKEI DIE KORING VAN DIE KAF

  1. kruger01
    March 2, 2018

    Hallo Ilse. Ek wil graag met jou in aanraking kom oor jou boeiende artikel “Besoek die wêreld van Pablo Neruda. My e-pos adres: dewaalv@gmail.com. Sel: 083 382 1632. Vriendelike groete. De Waal Venter.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 20, 2018 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .