ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Elke winter in Alaska is grendeltyd

First published in Rapport, June 2020

Dit kos hare op jou tande om in Alaska te woon

Dit kos hare op jou tande om in Alaska te woon

Alaska is ‘n deelstaat van die Verenigde State van Amerika en lê reg noord.

20200824_132833

Elke winter in Alaska, is inderdaad grendeltyd

Alaska is die grootste deelstaat met ‘n oppervlakte van 1 530 693 vierkante kilometer, maar is een van die ylste bevolkte wêrelddele (1.2 inwoners per halfkilometer) op ons planeet. Boonop woon omtrent die helfte van alle Alaskiërs in die grootste stad, Anchorage, en sy buitewyke.

Anchorage mag die grootste stad wees, maar dit is nie die hoofstad van Alaska nie; dié eer kom Juneau toe. Juneau en Ketchikan, ‘n veerbootrit van 18 uur vanaf Juneau, val binne die enigste streek waar die hoogste gemiddelde dagtemperatuur bó vriespunt in die winter is. Ketchikan is die eerste ‘groot’ stad (dit voel en lyk soos ‘n dorp) wat jy in Alaska teëkom as jy vanaf Seattle in die deelstaat Washington noord reis.

Winters in Alaska is lank en bitterlik koud; die somers is kort en koel (hoewel dit soms warm kan raak; in 2019 het Alaska die warmste somer in menseheugenis beleef). Behalwe vir die klimaat wat die lewenstyl in Alaska bemoeilik, kan baie van die dorpe slegs per boot of vliegtuig bereik word.

Om in Alaska te woon, beteken om op verskeie maniere ingeperk te wees. Alaska het sy eie jaarlikse grendeltyd in die wintermaande.

In Valdez, ses uur se noord vlieg vanaf Juneau, raak dit in die winter eers teen laatoggend lig en teen vroegmiddag is dit reeds skemer. Dus geskied baie van die inwoners se daaglikse roetine in die donker.

Baie Alaskiërs verlaat egter hul dorpe in die winter en keer eers terug as die weer meer gematig is. In ‘If You Lived Here, I’d Know Your Name – News from Small-Town Alaska’ skryf Heather Lende, ‘n inwoner en streeksjoernalis van Haines, dat sowat 2400 inwoners in en om Haines in die Chilkat-vallei woon. Sy reken egter dat sowat een derde êrens anders oorwinter.

Dit neem tussen twee en ‘n half – met ‘n nuwe veerboot – en vier en ‘n half uur – met ‘n oue – van Haines na Juneau.

Haines het nie ‘n hospitaal, inkopiesentrum, fliek, McDonalds of verkeersligte nie. Ook nie ‘n dokter wat regdeur die jaar beskikbaar is nie. In die hoërskool is minder as 100 leerlinge. Sommmige wintersdae kom die nasionale koerante nooit in hulle dorp uit nie.

Om êrens anders te kom, moet jy “honderde wildernismyle ry”, skryf Heather Lende, maar desnieteenstaande wil baie min Haines-inwoners dit enigsins anders hê. Dis juis waarom dorpe in Alaska vir lang tydperke sover moontlik selfstandig moet wees.

Selfs om te vlieg, is nie altyd ‘n opsie nie. Nie vir Alaskiërs of hul besoekers nie.

Lende se skoonsuster was een Kersfees vir twee dae in Seattle gestrand omdat Alaska Airlines nie kon vlieg nie; hulle moes wag tot die sneeu op die Juneau-lughawe geskraap kon word om landing moontlik te maak. In Juneau aangekom was daar geen vlugte nie; sy moes op die veerboot klim om tot by haar eindbestemming te kom. Met haar aankoms in Haines het sy verklaar: “Julle moet trek. Híér kan julle nie langer woon nie.”

Sy het dalk ‘n punt beetgehad!

'n Gedenktuintjie langs die see by Seward herinner besoekers dat die dood 'n groot deel van die lewe in Alaska uitmaak

‘n Gedenktuintjie langs die see by Seward herinner besoekers dat die dood ‘n groot deel van die lewe in Alaska uitmaak

Heather Lende verklaar in haar boek dat “die dood ‘n groot deel van die lewe in Haines is”. Ja, mense sterf aan hartaanvalle en kanker soos op enige ander plek. Alaska is egter gevaarlik om in te woon.

Iemand wat Lende ken het by ‘n krans afgeval toe hy bokke gaan jag het; iemand anders het in die see verdwyn toe hy seekomkommers gaan uitduik het. Daar is gereeld visserbootjies wat in die ysige water omslaan of privaatvliegtuigies wat in berge vasvlieg of eenvoudig verdwyn.

Skagway, wat soos Juneau net per boot of vliegtuig bereik kan word, het vyf kerke, een biblioteek en een bank.

In die somer is die hotelkamers in Skagway volbespreek en wemel die restaurante, koffiewinkels en kroeë van derduisende toeriste. In die winter is dit ‘n perd van ‘n ander kleur.

In Skagway is daar minder as 1000 mense in die dorpie; in die somer wemel dit van toeriste

In Skagway is daar minder as 1000 mense in die dorpie; in die somer wemel dit van toeriste

Volgens Skagway se toerismebrosjure is hier net oor 1000 permanente inwoners wat regdeur die winter in hul tuisdorp aanbly.

Baie plekke in Alaska is net per boot of per vliegtuig bereikbaar; die veerbote laai jou motor ook op as jy jou eie vervoer wil gebruik

Baie plekke in Alaska is net per boot of per vliegtuig bereikbaar; die veerbote laai jou motor ook op as jy jou eie vervoer wil gebruik

Tydens ‘n besoek in die Amerikaanse somer van 2019 het ‘n kelnerin sowel as ‘n kroegman egter hierdie syfer in twyfel getrek toe ek hulle uitvra oor wat hulle doen om in die winter besig te bly. Volgens dié twee, sowel as ander inwoners, skat hulle dat slegs sowat 600 mense in Skagway die ysige temperatuur van tot -18° C en dik sneeu trotseer.

In die wintermaande kyk hulle die meeste van die tyd televisie, of speel speletjies as hulle dit wel waag om vriende te besoek, het die twee jongmense vertel. Soms maak een kroeg oop waar hulle af en toe gaan uithang.

Dis nie ongewoon om 'n beer in jou agterplaas te sien ronddwaal as jy in Alaska woon nie

Dis nie ongewoon om ‘n beer in jou agterplaas te sien ronddwaal as jy in Alaska woon nie

Dis nog erger om in Utqiaġvik te woon, lees ek na ons terugkoms. In Utqiaġvik, die mees noordelike dorp in Alaska, kom die son vir omtrent twee maande, vanaf November tot Januarie, nooit op nie. Dus is die hele dorp gedurende hierdie poolnagtydperk in permanente donkerheid gehul.

Boonop is Utqiaġvik ‘n “klam” dorp. Dit beteken dat drank volgens wet nie in die dorp verkoop mag word nie. Jy mag egter jou eie drankies, binne perke, saambring en geniet.

Alaska is oor die algemeen dúúr, juis omdat omtrent alle produkte ingevlieg of per veerboot ingebring moet word. Utqiaġvik is nóg duurder wat baie inwoners noop om op verskillende maniere self dit wat hul nodig het, in te voer, eerder as om opgeblase pryse by die drie plaaslike kruidenierswarewinkels te betaal.

In dorpe soos Utqiaġvik en Haines ken almal vir almal, maar met die ergste winterkoue kuier selfs bure min oor en weer.

Winternaweke is basketbalwedstryde by die hoërskool in Haines ‘n gewilde bymekaarkomplek. Sondae is die kerk voller as dit bibberkoud is.

Om jou pos by die poskantoor te gaan haal – daar bestaan nie iets soos posaflewering nie – word beskou as ‘n geleentheid om op te vang met wie jy ook al daar raakloop.

‘n Vrouebusbestuurder in Seward (as jy nie vlieg nie, neem dit 43 uur 45 min per bus en veerboot na Juneau) het aan my beaam wat Heather Lende geskryf het: “In baie dorpe in Alaska het die inwoners nie beroepe nie. Hulle werk so hard en soveel ure as moontlik tydens die somer wanneer die toeriste hierheen stroom. In die winter rus hulle en spandeer kosbare tyd binnenshuis saam met hulle gesinne.”

Dit klink na ‘n lewenstyl wat kan werk!

Bykomende bronne: Wikipedia, Google Maps, ‘If You Lived Here, I’d Know Your Name – News from Small-Town Alaska’ deur Heather Lende en ‘Alaska – A Photographic Journey’ deur Stevens Dana Bunker.

2 comments on “Elke winter in Alaska is grendeltyd

  1. selmaohlsson
    August 24, 2020

    So interesting and such spectacular scenery!

  2. ilsez
    August 25, 2020

    It was one of the best trips I’ve ever done! For Pieter too. Alaska is BEYOND FASCINATING.

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 24, 2020 by in Noord-Amerika and tagged .