First published in Die Burger, October 2013
Katte het personeel in diens; honde het ’n baas. Katliefhebbers ken ’n magdom spreekwoorde wat kattekaskenades sowel as kieterkaters en hul kenmerkende kruidjie-roer-my-nie gedrag beskryf. En voel of hul wil spin as hulle ’n kuierplek ontdek waar ’n kattekind op ’n stil plekkie opgekrul lê of wat ’n kat-tema of –naam het.
Felix het sy eie kafee (gehad)
Café Felix in Riebeeck-Kasteel is na ’n gitswart kat vernoem. Hoewel Felix se ‘personeel’ intussen die eetplek verkoop het en Felix terug na die stad verhuis het, is díé swart kat steeds alomteenwoordig.
Die restaurantnaam het onveranderd gebly – ek vermoed Felix het daarop aangedring of dit dalk in die kontrak laat inskryf. Dis nogal voorbarig as jy inreken dat Felix ’n optelkat was voor sy nuwe status as bedorwe brok by ’n liefdevolle familie.
Op een muur pryk ’n allemintige foto – van die vloerlysie tot teen die plafon – van Felix wat oor ’n handvol tafels uitkyk. Dit voel of groen katogies elke vurkhappie volg.
Op die restaurant se visitekaartjie is ’n dun, swart kat met ’n pluimstert wat luilekker uitstrek. Dalk na ’n porsie haaspastei uit die kombuis. Hmm, Felix is effens meer geset as hierdie slanke kat.
Net ’n kat kan so miaau
The Cat’s Meow is net die plek vir kwaadkatte. Of (kwaai) katte met kwaai styl.
Neffens die Biscuit Mill in Woodstock hang kitsch kraletjiegordyne in ’n vrolike roomyspienk klerewinkel tjok en blok vol Crimplene-tabbers, lang stringe pêrels, ondeunde korsette, hemelhoë polvye, kantrompe en ’n enkele riffelrooi aandrok. Alles op kleurgekoördineerde rakke en hangers.
Op ’n oumagrootjie-spieëltafel staan ’n ry katbeeldjies – van ’n Siamees tot ’n vet, gestewelde kat. Net ’n week of ses gelede het hierdie troppie katte vanuit die vertoonvenster die sypaadjie betrag. So asof hulle op die uitkyk is vir sakkerollers wat probeer insluip om die siersteenborsspelde of knypbrilletjies te gaps. En wil miaau dat daar nie ’n kat se kans daarvoor is nie.
By The Cat’s Meow koop jy jou allesbehalwe ’n kat in die sak.
’n Kerk(straat) met baie katte
In Kerkstraat, Tulbagh sal kat-aanhangers perdalks voel soos ’n kat wat ’n piering room present gekry het.
Voor Readers Restaurant staan twee katstandbeelde – soms met pienk strik om die nek – wag. Binne-in is daar – behalwe die restaurant – ’n geskenkwinkel, Curious Cats Gifts gesetel.
Nie te ver daarvandaan nie is Marmalade Angel – die ateljee en winkel van kunstenares Susan Smuts met haar eie wispelturige jêmroul-kat genaamd Soemak. As Susan vir Soemak skilder, is die uitbeelding speels met ’n stralekrans en twee engele-vlerke. Ietwat misleidend, want Soemak is ’n jagter van formaat wat die paddatjies in die agtertuin terroriseer.
’n Fynproewer kat
Dis ’n slim kat wat haar intrek by ’n deli-kat-esse neem. ’n Kat wat van kinders en goeie kathappies hou. Tokara DeliCATessen is ’n kindervriendelike dagrestaurant met ’n klimraam (vir katte en kinders), ’n glyplank en ’n ontwerpersboomhuis.
As die kat weg is, is die muis – of in hierdie geval die mamma’s en hul kinders – baas, want hier woon nie regtig ’n kat nie. Sou daar wel ’n kat die plek toe-eien, sal dit dalk wees as gevolg van die belofte van ’n warm kaggelvuur in die winter.
Behalwe die plaas se olyfolie, Belgiese sjokolades en charcuterie is hier ook ‘katterige’ T-hemde met spreuke soos Katjiepiering, Catfish en Catscan tesame met speelse lyntekeninge te koop. En ek’t nie nou die kat aan die stert beet as ek dit sê nie.
‘n Kat se kans
Jan Cats was die oorspronklike eienaar van die grond waarop die Stellenbosch Hotel in die laat tagtigerjare sy deure oopgemaak het. Simon van der Stel het in die laat 1600’s en vroeë 1700’s grond hier rond toegeken. Jan Cats was die dorp se dokter, tandarts en barbier. Nie ‘n katjie om sonder handskoene aan te pak nie, so lyk dit.
Jan Cats Restaurant se eerste spyskaart was uiters oorspronklik en het gewemel van kat-woordspel. Helaas, dit is nie meer die geval nie. Jy kan egter nog steeds heerlik op die sypaadjie uitspan terwyl jy die eekhorings en die studente dophou; of jy kan op koelerige dae binne ontspan. In plaas van vermaaklike spyskaarte, lig die tafeldoeke jou nou in oor Stellenbosch se geskiedenis én leer die toeriste Afrikaanse woorde.
’n Olyfgroen kat
’n Mens verwag ten minste ’n grysstrepie by Olive Green Cat. Met die instap bespeur ek egter ’n kroekspul. Twee blonde honde lê uitgestrek onder die voete van Ida-Elsje Olivier (die ‘olyf’ in die naam) en Philippa Green (die ‘groen’ in die naam), die twee juweliers van Olive Green Cat, se voete. Die ‘kat’ is eintlik ’n Katz – vernoem na hul argitek-medewerker Gregory Katz.
Nie net is hier nie ’n ramkat nie, maar die drie talentvolle ontwerpers se Sticks & Stones-versameling word nie uit stokkies en klippies gemaak nie. Die stokkies is edelmetaallinte en die klippies is blink ‘klippies’ of diamante. Die driemanskap is ook bekend, en gewild, vir hul gebruik van hars in hul juweliersware.
Kostelik – mag ek dit asseblief herblog?
Hi Tannie Frannie – Jy kan ENIGE TYD herblog! Dankie dat jy wil! Ek neem aan… van een katliefhebber aan ‘n ander….
Jou aanname is 100% in die kol 🙂
Reblogged this on Tannie Frannie and commented:
Lees net hierdie feestelike Afrikaans!
Dis pragtig geskryf, met soveel detail en goeie foto’s! Heerlike lees, dankie!
Baie dankie! Jy maak sommer my dag.
Ek’t bedoel JULLE maak my dag! Sommer 2 keer.
Sal definitief by Cafe Felix aandoen as ek in Reibeeck-Kasteel kom
Daar’s nog ‘n paar plekke in Riebeek-Kasteel waar jy moet aandoen, Abrie. Van my gunstelinge is Eve’s en gins op die hotelstoep en Mama Cucina. Daar is egter nog!
Ek was nog nooit op die dorp nie! Tyd dat ek my kamera inpak