ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Een, twee drie, dis Knysna, dié

First published in Rapport, January 2019

Onthou tog om die kerkie se deur toe te maak; anders maak die voeltjies nes in die kerk

Onthou tog om die kerkie se deur toe te maak; anders maak die gevogeltes nes in die kerk

Knysna is ‘n skare-gunsteling, Knysna is ‘n uiteet-mekka, Knysna hou jaarliks Oesterfees, Knysna het swemstrande en daar is, so word daar gesê, nog olifante in Knysnabos. Dit is dus geen wonder dat Knysna een van die gewildste toeristebestemmings in die land is nie.

As jy egter reeds al die moetsien-dinge in Knysna en die distrik afgetiek het, wag daar ander verrassende belewenisse in die kleine op jou.

Twee keer heilig

In die besige hoofstraat van Knysna is daar ‘n plek waar jou voete en jou siel rus kan vind.

As jy met die hoofstraat langs stap, let jy eerste die opstandingshek (resurrection gate of lychgate in Engels) by Hoofstraat 10 op.

‘n Opstandingshek is ‘n hek wat ‘n dakkie bo-oor het; dié tipe hek kom tradisioneel by die ingang van kerkpersele in die Verenigde Koninkryk en Swede voor. Die benaming spruit daaruit dat ‘n doodskis volgens ‘n ou gebruik op ‘n doodskistrollie tot by die opstandingshek gedra is waarna die trollie daar gelos is en die doodskis vir die begrafnisdiens die kerk binne gedra is.

Die opstandingshek by die ingang van die tuin van die St George Anglikaanse Kerk – eintlik is daar twee kerke  –  is uit kiaat en rooiysterklip gebou. Dit is in 1935 deur die Thesen-familie geskenk om hul ma, Bessie Thesen, se lewe te huldig. Bessie was die dogter van Kaptein Christopher Harison wat Knysna – en die Suid-Kaap – se eerste Bewaarder van die Woud was.

Op die kerkgronde is twee klipkerke:  ‘n groot en ‘n klein St George Anglikaanse Kerk.

In 1848 het die eerste Anglikaanse biskop van Kaapstad, Eerwaarde Robert Gray, uit Engeland in die Kaap aangekom. Die mense van Knysna het amper dadelik met hom kontak gemaak en versoek dat daar vir hulle ‘n kerk gebou moet word. ‘n Paar maande later het die biskop sy eerste diens vir die mense van Knysna in ‘n klaskamer gehou.

In die daaropvolgende jaar is die Klein Kerk gebou wat eers sewe jaar later ingewy is. Die hoeksteen van die Klein Kerk is deur John Rex, seun van George Rex, die grondlegger van Knysna, gelê. Die grond waarop die kerk staan is deur George Rex geskenk.

Die oorspronklike planne vir die Klein Kerk is deur Sophy Gray, die vrou van die eerste Anglikaanse biskop (die einste biskop wat in Knysna kom preek het) opgetrek.

Reeds in 1919 is daar besluit om ‘n groter kerk te bou. In 1926 is die hoeksteen van die Groot Kerk gelê; elf jaar later is die Groot Kerk ingewy.

Op weeksdae is die Anglikaanse kerk tussen 8h00 en 15h00 oop vir besoekers. Party kom hou ‘n paar minute stiltetyd, ander verkyk hulle aan die loodglasvensters, gewelfde houtdak en houtkansel.

Onthou net om die kerk se deur agter jou toe te maak. Anders maak die voëltjies nes in die kerk! Só waarsku ‘n kennisgewing teen die deur.

Vanaf die Klein Kerk loop jy langs ‘n tuinpaadjie omsoom deur reinwit agapantusse na die Groot Kerk.

Die Groot Kerk se binnekant is nog meer imposant. Die Jesus-uitbeelding op die glaspaneel van die ‘voordeur’ noop jou om ‘n oomblik stil te staan en onwillekeurig ‘n gebedjie op te sê. Dit voel amper of jy binne in Sy uitgestrekte arms kan inloop.

 ‘n Kas soos jou ouma s’n

Dis moeilik om in Knysna parkering te kry; jou volgende plekkie om aan te doen is in elk geval net ‘n paar minute se stap terug in die rigting van die Kaap tot by Herdenkingsplein (Memorial Square).

Grandma’s Cupboard op dié plein is so klein dat jy amper aan die mure weerskante kan raak as jy jou arms uitsteek. Tog is hierdie boekwinkeltjie propvol interessante boeke waaronder ‘n goeie dosis versamelaarsitems. Dié winkeltjie is eintlik tipies van die spreekwoordelike gaatjie-in-die-muur-winkel.

By Grandma's Cupboard is daar boeke vir ieder en elk

By Grandma’s Cupboard is daar boeke vir ieder en elk

Die boekonderwerpe dek fassinerende en obskure temas soos ikebana (Japanese blommerangskikking), handwapens, tapisserieë, hoe om te verslank, hoe om jou eie werk te publiseer, rugby en visvang, politiek, hoe om die uitleg van jou tuin te beplan, hoe om indringerplante uit te ken en hoe om kerse te maak. Dan is daar ook goeie fiksie, lekkerleesboeke, atlasse, kinder- en kookboeke.

Hier is so baie om deur te snuffel dat ‘n mens sommer luskry om op die sypaadjie – langs die houtkruik met ‘n versameling kieries – by Grandma’s Cupboard neer te syg en aan die blaai en lees te gaan.

Nie van brood – of lees – alleen leef nie

Waar kan ‘n mens nog met jou voete in die sand by ‘n tafeltjie aansit en vis en tjips eet? Weliswaar sonder ‘n see-uitsig, maar met oorgenoeg atmosfeer om jou binne ‘n oogwink van jou eie en die wêreld se sorge te laat vergeet.

Freshline Fisheries is ‘n onpretensieuse eetplek op ‘n plek waar jy dit die minste sou verwag. Die adres lui so: Spoorwegskeepswerf, hoek van Lang- en Waterfrontweg.

Die gedrapeerde visnette, die boeie, die groen lower en die wit seesand verklap nie ‘n oomblik dat jy nie êrens op ‘n eiland vir middagete aansit nie.  Messe en vurke staan, heel gepas, op aandag in rooi-en-wit sardynblikkies.

Ons het aan die linkerkant van Freshline Fisheries gesit; die restaurantspasie is kleiner en meer intiem wat dit aanbevole maak om hier plek, eerder as aan die regterkant, te probeer kry.

By Freshline Fisheries sit jy nie net met jou voete in die sand nie; hier slurp jy sappige oesters uit hul skulpe, die vis is vars en die tjips heerlik en die kalamaritentakels is met reg gewild.

Jy kan vis volgens spesie bestel; dis nie net die gewone vis-van-die-dag wat nie jy of die kelner kan eien nie, soos wat by baie seekosrestaurante wel die geval is. Die avokado-ritz met garnale sal jou aan die sewentigerjare laat terugdink en daar is selfs gerookte snoek op die spyskaart.

As hongerpyne erg knaag, kan jy kies tussen suiwerseekospaella met Saldanha-mossels, twee ekstragroot Mosambiekse garnale, lynvis en kalamari of tien Mosambiekse garnale met peri-peri of suurlemoen en knoffel.

Ek sou net nie die kammossels aanbeveel nie; dié gereg was ‘n groot teleurstelling.

Freshline Fisheries is ongelisensieerd. Maak dus ‘n knoop in jou oor om koue witwyn in die dorp te koop of voor jy vertrek in ‘n koelerboks in jou ryding te plaas. Geen kurkfooi word gehef nie.

Freshline Fisheries is van Maandae tot Saterdae vanaf 11h30 soggens oop. Die kombuis maak om 20h00 toe; die restaurant om 22h00. Sondae is hulle toe.

 

One comment on “Een, twee drie, dis Knysna, dié

  1. Pingback: Een, twee drie, dis Knysna, dié — ilsezietsmanblog – Hasie Fantasties

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 22, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .