ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Trek jou stoute skoene aan

First published in Joernaal, Summer 2022/2023

Eendag was daar ‘n pragtige meisie. Haar naam was Aspoestertjie.

Sy het saam met haar stiefma en twee stiefsusters gebly, maar sy moes al die werk in die huis doen. Op ‘n dag sou die prins van hul land ‘n koninklike bal hou. Aspoestertjie se susters is na die dans by die paleis, maar sy moes tuis bly.

Skielik het ‘n fee verskyn; sy het ‘n pampoen in ‘n koets en twee muise in perde omtower en vir Aspoestertjie in ‘n balrok en glasskoentjies geklee. Die enigste voorwaarde was dat Aspoestertjie om middernag tuis moes wees, want dan sou alles weer na normaal terugkeer.

Net voor middernag, terwyl sy nog met die prins dans, kom Aspoestertjie agter dat sy moet laat spaander. In haar haas om weg te kom, verloor sy een glasskoentjie op die trap.

Aspoestertjie se glaspolvy

Om ‘n lang storie kort te maak, het die prins die glasskoentjie gebruik om vir Aspoestertjie op te spoor. Toe die glaspolvy vir haar pas, het hy haar gevra om te trou.

Met dié feeverhaal het ons almal grootgeword. Perdalks het die meeste van ons oor so ‘n fyn skoentjie gedroom.

Stel die skoenmaker aan die kleremaker voor

Maar, waar kom skoene vandaan? Wie het die eerste skoene gedra? Waar was dit en hoe het dit gelyk?

Niemand is eintlik seker hoe en waar skoene ontstaan het nie.

Die eerste skoene was heel moontlik leer of pels wat deur antieke mense om hul voete gebind is, soos wat rotstekeninge in Spanje uitbeeld. Ook boombas, blare en grasse is as beskerming teen veral koue en growwe oppervlaktes ingespan.

Primitiewe skoenoorblyfsels is al in verskillende dele van die wêreld gevind. Die oudste skoen wat nog ooit gevind is, is die Areni-1-skoen, vernoem na die grot waar dit in 2008 in Armenië ontdek is. Dié skoen is ‘n volle 5 500 jaar oud!

Daar word geglo dat sandale die eerste skoene is wat volgens ‘n patroon gemaak is. Sandale is toentertyd veral in Egipte, Grieke en die Romeinse Ryk gedra. Volgens Encyclopedia Britannica was die Romeine die eerstes om skoene te maak wat spesifiek vir jou regter- of linkervoet pas.

Gooi jou ou skoene agterna

Destyds is skoene net deur welgesteldes en diegene met status en mag gedra.

Tydens die Middeleeue het veral die aristokrasie vrouens én mans – skoene met lang gekrulde punte gedra wat poulaines genoem is. Dit was egter nie net die adellikes wat hierdie skoeisel gedra het nie; dit was ook onder soldate gewoonte om sulke skoene te dra. Dit was egter moeilik om met die poulianes te hardloop of perd te ry!

Daar word bespiegel dat poulaine-liefhebbers soms die krulpunte van hul skoene met syveters of kettinkies van goud en silwer aan hul knieë of kuite vasgebind het, maar daar is geen klinkklare bewyse hiervoor nie. 

Krulpuntskoene – met of sonder klokkies – uit die voormalige Persië laat ‘n mens onwillekeurig aan Aladdin (en sy towerlamp) uit die sprokievertellinge van ‘1001 Nagte’ dink.

Ook in die liturgie word skoene met simbole en motiewe waaraan spesifieke betekenisse geheg word, versier. Selfs die pous besit spesiale ‘pouslike skoene’ wat van rooi, groen, pers of wit sy  ̶  soms met gouddraadborduursel  ̶  gemaak word. In Asië, veral in Indië, word padukas, houtsandale in die vorm van visse (of voete), al vir eeue lank deur Hindoes gedra.

Van die 15de tot die 17de eeu was chopines baie gewild onder vroue in Venesië. Dit was ‘n soort platformskoen wat oorspronklik gebruik is om bo-oor jou regte skoene aan te trek om hulle teen modder en straatgrond te beskerm.

Die hoogte van jou chopine was ‘n aanduiding van jou sosiale en kulturele stand in die samelewing. Hoe hoër die skoen, hoe hoër was jou status. Sommige was meer as 50 sentimeter hoog. Om bo ander uit te toring, het modieus geraak!

In 1430 is die hoogte van chopines met munisipale wetgewing tot drie duim (minder as 8 cm) beperk, maar min vrouens het hulle hieraan gesteur. 

Venesiese chopines is uit hout of kurk gemaak en dan kunstig getooi met fluweel, borduursel, brokaat, juwele, vergulde letters en stukkies leer. Soms is dit spesiaal versier om by ‘n rok te pas; ironies genoeg het hul tabberds gewoonlik die skoene bedek.

Dit was natuurlik glad nie maklik om op die toringhoë chopines te loop nie. Vrouens is somtyds deur twee diensmeisies vergesel sodat hulle aan elke kant ‘n skouer gehad het om op te leun. Klaarblyklik was sommige vroue so gekonfyt daarin om op dié platformskoene te balanseer dat hulle selfs grasieus daarmee kon dans.

Die Nederlanders – sowel as in ‘n paar ander lande  ̶  het vanaf die Middeleeue klompe gedra; dit was ideaal om hul voete droog en warm te hou. Saam met hul klompe is dik sokkies aangetrek; soms is strooi voor in die klompe gestop om nog warmte te verleen. Klompe is van wilger-, populier- en beukehout gemaak. Die eerste Gilde vir Klompe het al in 1570 ontstaan.

As jou klompe hul tyd uitgedien het, is dit vir brandhout gebruik.

Deesdae kry jy by party toeristebestemmings, soos Keukenhof-tulptuine, allemintige klompe waarbinne jy kan klim om ‘n prettige foto te neem.

Te groot vir jou skoene

As jy al ‘n dokumentêre program oor voetbinding in China gesien het, vergeet jy dit nooit nie.

Daar is nie sekerheid oor presies wanneer voetbinding in China begin het nie. Volgens worldhistory.org het die gebruik waarskynlik begin, toe in onbruik verval en daarna weer hervat.

Volgens oorlewering het voetbinding mode geword na keiser Li Yu sy konsort Yao Niang aangesê het om haar voete só te bind dat dit soos ‘n sekelmaan sou lyk. Sy moes ‘n dans vir gaste uitvoer tydens ‘n onthulling van ‘n goue standbeeld van ‘n lotusblom (‘n tipe waterlelie) by een van sy partytjies.

Sy het só mooi gedans dat die vroue wat teenwoordig was, begeer het dat hulle voete ook so fyntjies en sierlik moet wees. In later jare is die ‘mooiste’ oftewel kleinste, voetjies goue lotusse genoem.

Dit het daartoe gelei dat selfs kleuters se voete styf in materiaalbande vasgebind is. Dit het hulle toonbeentjies gebreek en sodoende is die beentjies onder die voet ingevou.

Ouer Chinese vroue wat hieraan onderwerp is, vertel van die fisieke pyn wat hulle ervaar het en hoe moeilik dit was om rond te beweeg en hul werk te verrig.

In 1912 is voetbinding in China onwettig verklaar, hoewel baie vroue steeds die gebruik voortgesit het.

Skoenmakers se kinders loop altyd kaalvoet

Die ou gesegde lui: As die skoen jou pas, trek dit aan. Maar hoe kies ‘n mens nou tussen al die soorte skoene wat op winkelrakke pryk: polvye, stewels, mokassins, pantoffels, balletskoene, sandale, veterskoene en nog vele meer.

Dis nou behalwe as jy, soos ek, versot op stewels is en nie genoeg pare in jou kas kan hê nie. Of dit nou deur die knie-hoogte skoeisel met omslaanvoue van die Gestewelde Kat of die gespe-versierde stewels van die Drie Musketiers aangevuur is, maak nie ‘n duit saak nie. (Luister op Youtube na Nancy Sinatra se weergawe van These Boots Are Made For Walkin’.)

Gepraat van gespes, dit was op ‘n manier die voorganger van skoenveters. Toe die Amerikaanse president Thomas Jefferson die eerste keer begin skoenveters in plaas van gespes dra, is hy beskuldig daarvan dat hy ‘n belaglike Franse gier aanhang.

‘n Tipe skoenveter was reeds duisende jare gelede in gebruik, maar skoenveters soos wat ons dit vandag ken, is in 1790 deur ene Harvey Kennedy gepatenteer, volgens sommige navorsers.

Skoenveters is ‘n praktiese toevoeging tot skoene, maar skoenbykomstighede soos knope, linte, strike en edelgesteentes is bloot vir versiering.

Waar die skoen druk

As jy mooi daaroor nadink, is daar skoene wat hul eie roem verwerf het!

Dink aan Elvis Presley se blou sweedseleerskoene, Elton John se blinkertjie-platformskoene, die rooi skoene waarin Judy Garland as Dorothy in die 1939-fliek The Wizard of Oz getrippel het, Prinses Diana se kenmerkende hofskoene met plat hakkies én haar trouskoene, en Lady Gaga se versameling eienaardige skoene waarvan sommige hoër as 15 cm is. Dit sluit in ‘n eenmalige verskyning van dié dame in skoene – én ‘n rok én ‘n handsak – wat van repe rou vleis gemaak is.

Die skoene wat Diana op haar troudag gedra het, was van donkerroomkleurige sweedseleer waarop 542 blinkerkraletjies (sequins) en 132 pêrels vasgewerk is. Op die skoensole was ‘n sierlike blommotief met die letters D en C geverf. Die trouskoenmaker was nie bereid om te verklap wat die prys van dié beroemde skoene was nie, maar het wel vertel dat dit ses maande geneem het om te maak.

Skoenmaker, hou jou by jou lees

As jy op Google ‘beroemde skoenontwerpers’ intik, kom twee name dadelik navore: Christian Louboutin en Manolo Blahnik.

Christian Louboutin is bekend daarvoor dat sy skoene met rooi lakleersole spog.

Louboutin het self vertel hoe sy assistent besig was om haar naels te verf toe hy die helderrooi skakering van haar naellak opmerk. As ‘n eksperiment het hy die onderkant van die naaste paar skoene rooi geverf. Van toe af het ‘n reeks van sy skoene flambojante rooi sole gekry.

Louboutin motiveer sy ontwerpbesluit so: “Rooi is meer as ‘n kleur. Dit is ‘n simbool van liefde, van bloed, van passie.”

Nodeloos om te sê is Louboutin-rooisoolskoene uiters gesog onder diegene wat dit kan bekostig.

In sekere kringe word daar gefluister dat die Amerikaanse novelleskrywer Danielle Steel meer as 6 000 pare Louboutin-skoene besit.

Die ontwerper Manolo Blahnik is tydens die Tweede Wêreldoorlog in Spanje gebore. Sy ma het ‘n voorliefde vir ontwerperskoene gehad, maar soiets was natuurlik haas onbekombaar gedurende die oorlogsjare. Sy het dus ‘n plaaslike skoenmaker genader om haar te leer hoe om haar eie skoene uit hout, leer, lint en kant te maak. Met dié blootstelling op ‘n jong ouderdom het Blahnik se belangstelling in skoenontwerp al as ‘n kleuter begin. Hy het al vertel hoe hy kleintyd vir sy troeteldiere skoentjies uit moeselien en katoenlinte gemaak het.

Een van Blahnik se eerste ontwerpe as volwaardige skoenontwerper was stiletto’s met nagemaakte kersies wat vanaf groen bandjies wat die skoen vasmaak, hang.

Dan is daar natuurlik Jimmy Choo (uitgespreek tsjoe-oe, nie ‘shoe’ nie). Baie bekendes sweer by sy skoene. In Sex and the City dra Carrie Bradshaw Jimmy Choo’s. In ‘n episode in die derde reeks val haar skoen uit soos wat sy na die veerboot in New York hardloop. Dit noop haar om te gil: “I lost my Choo!”

Jimmy Choo het reeds meer as 20 jaar gelede sy aandeel in die Jimmy Choo-handelsmerk verkoop hoewel Jimmy Choo-winkels in baie van die grootste wêreldstede nog flink sake doen.

Staan vas in jou (armadillo-)skoene

Alexander McQueen, Britse couturier en die ‘koning’ van skoene, se bekendste  ̶  of dalk berugste  ̶  skoenontwerp is sekerlik sy armadillo-skoene.

McQueen se kontroversiële armadillo-ontwerp het ‘n unieke vorm wat ook aan ‘n kreefklou of dierehoef herinner. Die skoen is 30 cm hoog; die spykerhak maak 23 cm hiervan uit. Die skoenvorm kamoefleer die hele voet, van jou toon tot jou enkel.

Armadillo’s is nooit kommersieel vervaardig nie; oorspronklik is slegs 21 pare gemaak om as pronkstukke by ‘n opkomende modeparade te dien.

Omdat dit so moeilik is om hiermee te loop, het verskeie modelle al geweier om op die loopplank te verskyn as daar van hulle vereis word om armadillo’s te dra.

Dit het Lady Gaga egter nie afgesit nie! In 2015 (McQueen is in 2010 oorlede) het sy meer as R3.5 miljoen op drie pare armadillo-skoene gebie. Die opbrengs is aan die nie-winsgewende organisasie UNICEF geskenk.

Lady Gaga sal darem nie te veel moet oefen om op haar armadillo’s te balanseer nie; sy het ‘n paar in haar Bad Romance-video (kyk op Youtube) gedra… sonder om te val.

Skoene en sopblikkies

Almal ken popkunstenaar Andy Warhol se kleurvolle uitbeeldings van blikkies tamatiesop en Marilyn Monroe se gesig, maar minder mense weet dat dié avant-garde postmodernis ook skoene ontwerp het.

Warhol se eerste werk was by die tydskrif Glamour waar hy in 1950 gevra is om vir ‘n artikel getiteld ‘Climbing the Ladder of Success’ kommersiële illustrasies van skoene te teken. Die redaksie was só beíndruk met sy skoensketse dat hulle vir hom gevra het om ses ekstra bladsye vol te teken.

Terloops, sy van was eintlik Warhola, maar Glamour het dit per ongeluk in die onderskrifte verkeerd gespel. Só het Andy Warhola Andy Warhol geword.

Enkele jare later word Warhol, wat steeds as illustreerder gewerk het, deur ‘n skoenmaatskappy, I. Miller, genader om vol- en halfblad-advertensies vir publikasie in die New York Times te teken.

Warhol se verbeelding werk oortyd en hy skep opwindende, kleurvolle visuele fantasieë met miniskule detail en collage-tegnieke. Die sketse is opsigself kuns, eerder as illustrasies, en gee Warhol se kunstenaarsloopbaan ‘n groot hupstoot.

Skaars ‘n jaar later pak Warhol nog ‘n reeks sketse aan wat skoeisel uitbeeld. Hy maak mildelik van goue aksente, geëmbosseerde foelie en uitsnytegnieke gebruik.

Juis omdat hy gefassineer deur roem was, teken hy sowat 40 fantasieskoene vir bekendes soos aktrises Mae West, Julie Andrews en Zsa Zsa Gabor, moderedaktrise Diana Vreeland, skrywer-dramaturg Truman Capote en die koning van rock, Elvis Presley.

Die Julie-skoen lyk asof Aspoestertjie dit kon gedra het, die Zsa-Zsa-skoen drup van barokversierings om by haar oordadige klerekas te pas en die Truman-skoen is die ene goud en blomme.

Andy Warhol se liefde vir skoene het nooit getaan nie. In die 1980’s (hy is in 1987 oorlede) het hy as advertensieplakkaat vir een van sy tentoonstellings ‘n smaraggroen skoen, besprinkel met diamantstof, swewend in ‘n sterbeligte hemelruim, geteken.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 1, 2024 by in Iemand - of iets - wat my fassineer.