ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Bloos soos ‘n roos

First published in Die Burger, January 2020

Strooi rose op jou pad

Orals waar jy kyk, is daar rose by Langkloof

Besaai jou pad met rose

Rose is al vir eeue en eeue met ons. Daar word geglo dat rose reeds in 2000 v.C. in Irak voorgekom het en in China is rose al vanaf 500 v.C. gekweek. Onder die Romeinse keisers was dit ‘n gebruik om hul swembaddens en fonteine met rooswater te vul; hulle het ook tydens feeste en orgies hulself op derduisende roosblare sitgemaak.

Ook in die Kompanjiestuin in die Kaap is rose, knap na Jan van Riebeeck hier aangekom het, geplant.

Die roos is sekerlik een van die mooiste blomme wat daar is. ‘n Roos versinnebeeld romanse. Hoewel roosblare wat as confetti gebruik word, gewild blý, glo niemand seker meer dat die kleur van ‘n roos ‘n boodskap inhou nie. Volgens dié gebruik is ‘n rooi roos ‘n teken van liefde, ‘n geel roos dui op vriendskap of beterskap wat toegewens word, ‘n pienk roos versinnebeeld liefde met die eerste oogopslag of waardering en ‘n oranje roos passie.

Langkloof Rose, Wellington

By Langkloof Roosplaas net buite Wellington verwelkom stadige ganse jou wat hul kanse verspeel om te sis en blaas; hulle waggel net stadig nader en bekyk jou langnek op en af. Weerhou jouself van die versoeking om die ou koperklok in sy klipboog te lui en stap eerder die koel kapelletjie – bokant die solderdeur staan dat die gebou reeds uit 1854 dateer – binne.

Die koffiewinkel by Langkloof Rose bedien roosgegeurde limonade en sjokolade- of wortelkoek

Die koffiewinkel by Langkloof Rose bedien roosgegeurde limonade en sjokolade- of wortelkoek

Die kerkie by Langkloof drup van atmosfeer; die geboutjie is reeds in 1854 opgerig en dit lyk soos 'n ou skuur van buite

Die kerkie by Langkloof drup van atmosfeer; die geboutjie is reeds in 1854 opgerig en dit lyk soos ‘n ou skuur van buite

'n Romantiese muurskildery buite die koffiewinkel op Langkloof

‘n Romantiese muurskildery buite die koffiewinkel op Langkloof

By Langkloof kan jy troues en funksies hou, en oorslaap

By Langkloof kan jy troues en funksies hou, en oorslaap

Langkloof Rose strooi, letterlik en figuurlik, rose op die pad van hul besoekers. Voor in die atmosferiese kapelletjie is ‘n loodglasvenster besaai met pienk rose. In die koffiewinkel is emaljekomme waaruit rose van alle kleure druip, nóg roosloodglasvensters en jy kan roosgegeurde limonade, en laventellimonade, drink.

Op hul webwerf getuig die mense van Langkloof dat hul besigheid – en hul harte – vir God, hul medemense en gesondheid oop is.

By Langkloof kan jy troues en funksies hou, rose pluk en koek en tee of gegeurde limonades by die koffiewinkel geniet.

Au’ de Hex Landgoed, Wellington

By Au' de Hex (of Au d'Hex) buite Wellington kan jy op rusbankie in die tuin tussen die rose sit

By Au’ de Hex (of Au d’Hex) buite Wellington kan jy op rusbankie in die tuin tussen die rose sit

Op pad terug van Langkloof lei ‘n spontane indraai tot die ontdekking van ‘n juweelbestemming wat toe óók ‘n tuin met rose insluit.

Au’ de Hex Landgoed lê, soos Langkloof, aan die buitewyke van Wellington.  Op dié pragtige landgoed is nie net ‘n trouvenue met ‘n herehuis waar gaste kan oorbly, ‘n dam met ‘n houtdek wat oor die water uitkyk, The G-restaurant (kyk op hul Facebook-bladsy, Kitchen at Au’ de Hex; daagliks oop van Woensdae tot Saterdae sowel as Woensdagaande) met innoverende dekor wat ‘n liginstallasie en swart-en-wit muurskildery insluit en ‘n wynproelokaal nie, maar ook ‘n tuin met roosbome waar jy op fluweelrusbanke buite in die skadu kan sit en die plattelandse lug inadem.

Abbey Rose Restaurant en Kapel, Greyton

Soos wat jy by die dorpie Greyton inry, sien jy sommer dadelik die naambord van Abbey Rose met twee bloedrooi roosknoppe wat lyk of hulle mekaar in die oë staar.  As jy voor Abbey Rose Restaurant in die hoofstraat van Greyton staan, verklap niks nie dat hierdie bestemming ‘n roos sónder enige dorings is.

By die ingang staan wel ‘n fiets met ‘n mandjie blomme, maar dis eers as jy deur die restaurant self gestap het en in die lushof van ‘n tuin daaragter ronddwaal, dat jy voel of jy jou skoene wil uitskop en nét hier bly.

Die loodglasvenster in die kapelletjie in die tuin by Abbey Rose

Die loodglasvenster in die kapelletjie in die tuin by Abbey Rose

Aan die agterkant van die tuin is ‘n kerkie wat vir troues gehuur kan word. Die kerkie spog met ‘n geboogde loodglasvenster waarop fyn groen blaartjies en bloedrooi rose rank. Die res van die kerkie is knus ingerig met kelims, kerse, skilderye, dennebolle in ‘n glaspot en kruise teen die muur.

By die Abbey Rose Restaurant smul jy aan lynvis, Maleise lamskerrie, calamari, lamskenkels, wildsvleispastei en ribbetjies.

Rose Corner Café, Bo-Kaap

Rose Corner Cafe is helderoranje geverf en orals pryk speelse, handgeverfde advertensies

Rose Corner Cafe is helderoranje geverf en orals pryk speelse, handgeverfde advertensies

Die Rose Corner Café op die hoek van Waal- en Rosestraat is nog ‘n regte buurtkafee. Met verloop van tyd het die meeste buurtkafees, waar jy ook al gaan, verdwyn, maar Rose Corner Café doen nog flink besigheid.

Die voor- en syaansig van Rose Corner Café is knaloranje geverf en die speelse handgeverfde advertensies nooi jou om ‘n selfie te neem. ‘n Langoorhaas wat paaseiers goël, maak jou lus vir sjokolade; koeksisters en saffraan word neffens mekaar geadverteer; en ‘n vrouefiguur met ‘n tulband en puntskoene kniel terwyl sy ‘n kolwyntjie in een hand vashou.

‘n Omie drentel in vir ‘n vars brood, twee tieners kom vra ‘n samoesa elk, en ‘n kopdoektannie maak sulke lang geselsies met ieder en elk dat dit lyk of sy skoon vergeet het wat sy kom koop het.

Moenie by die Rose Corner Café aandoen sonder om met ‘n botteltjie of drie blatjang – veral tamaryn en dhania (koljander) – en rooswierook uit te loop nie.

  • Rose Corner Café, Waalstraat 100, Bo-Kaap, Kaapstad

Oude Nektar-tuin, Stellenbosch

As jou ma, of ouma, lief vir tuinmaak is, kan jy maar op haar boekrak gaan loer. Jy gaan seer sekerlik ‘n boek van die tuinboukundige Una van der Spuy op haar rak aantref.

Die uitgestrekte tuin op die Oude Nektar-landgoed in Jonkershoek, Stellenbosch is die skepping van Una van der Spuy, wat vir meer as 70 jaar hier gewoel en werskaf het. Hiermee is sy onder meer deur Italiaanse krygsgevangenes van die Tweede Wêreldoorlog gehelp.

Die tuin bestaan uit verskeie dele waaronder ‘n ronde roostuin met paadjies wat na die middel lei. Vanuit die roostuin het jy ‘n lieflike blik op die Kaaps-Hollandse herehuis en die berge daaragter. Op pad na die roostuin stap jy met ‘n kronkelpaadjie verby ‘n dam waarin waterlelies groei.

Die Oude Nektar-tuin is weeksdae oop vir die publiek. ‘n Toegangsfooi van R50 word gehef. Voorafbespreking is noodsaaklik vir groepe besoekers.

  • Oude Nektar, Jonkershoekweg, Jonkershoekvallei, Stellenbosch
  • oldnectar.com

Rambling Rose Country Kitchen & Deli, Montagu

As jy by die Rambling Rose in Montagu aankom, sal jy vergewe word as jy probeer onthou watter presiese woorde Shakespeare oftewel Willem Wikkelspies vir Juliet in die mond gelê het. Iets wat klink soos “al noem jy ‘n roos nie ‘n roos nie, sal dit nog steeds net so ‘soet ruik”.

Op die stoep van die Rambling Rose groei malvas, nie rose nie. Langs die malvas staan ‘n houtwa met allemintige wiele. Buite lees ‘n mens dat ontbyt – en ligte middagetes – heeldag hier bedien word, dat jy goeie koffie kan verwag en dat die bier yskoud is. Stap jy egter na binne, kom jy agter dat ‘n uitgebreide spyskaart – van Portugese peri-peri hoender tot kasjoeneutkerrie — op jou wag sowel as ‘n propvol  deli- en geskenkwinkel.

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 30, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .