ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Paaie in – en rondom – Pemba, Mosambiek

First published in Rapport, May 2016

'n Dau-vaart deur Anantara Dedjumbe gereel waarop jy kan leer om self die seile te hys of net oor die turkoois water kan uittuur

‘n Dau-vaart deur Anantara Medjumbe gereel waarop jy kan leer om self die seile te hys of net oor die turkoois water kan uittuur

Kodewoord: Kleurvol

Pemba, die hoofstad van Cabo Delgado-provinsie in Noord-Mosambiek, het eers as Porto Amelia – so gedoop in 1904 – bekend gestaan. Amelia (volle name: Maria Amélia de Orleães) was die laaste koningin van Portugal. Tydens die sluipmoord op haar man (uit ‘n gereëlde huwelik) terwyl hulle in ‘n kavalkade gery het, het sy haar jongste seun, en troonopvolger, met haar handruiker blomme verdedig.

Na Portugese heerskappy in 1975 beeïndig is, is die hawestad na Pemba herdoop.

pemba is die hoofstad van cabo delgado-provinsie in noord-mosambiek

Pemba is die hoofstad van Cabo Delgado-provinsie in Noord-Mosambiek

Nie dat ‘n mens aan die geskiedenis – hoe interessant ook al – van Pemba dink as jy aan pasteis de nata (Portugese vlatertjies) knibbel en die smaak jou jouself laat verbeel jy loop in die strate van Lissabon, Portugal nie of as jy jou tande in die sagste, sappigste prego-rolletjie  van jou lewe by Quirimbas by AVANI Pemba Hotel & Spa insink nie.

Die strate van Pemba lyk egter nie náástenby soos díé in Lissabon nie. Daar’s modderslote, daar’s slaggate, daar’s poele water waaroor jy ligvoet moet trap.

sommer met die invlieg sien jy al die ene lowergroen op land en skakerings van blou van die oseaan

Sommer met die invlieg sien jy al die ene lowergroen op land en skakerings van blou van die oseaan

Dis egter ‘n deel van die sjarme van ‘n funksionele, werkende Afrika-stad oftewel -dorp. Voeg daarby twee vuurtorings wat nie net faroloë sal fassineer nie; ‘n kleurvolle mark; ‘n vryheidsplein en standbeelde; en breë strate – waarin ‘n ossewa sou kon draai – met koloniale platdakgeboue. As jy jou strand reg kies, is die sand poeierwit en die water skakerings van turkoois; en boonop is kreef en vars vis, insluitende tuna, volop.

kreef is soos 'n stapelvoedsel in noord-mosambiek

Volop kreef

Dis nie net die strand – almal is nie ewe skoon nie – wat jy moet reg kies nie; daar’s nie talle verblyfopsies nie, maar dis allesbehalwe die enigste rede waarom jy jou kop by AVANI Pemba Hotel & Spa wil neerlê.

Dis ook nie sommer vir neerlênie. Klaasvakie sal eers moet opsy staan, want hier is veel om te sien en doen. En te eet en drink. Veral ‘n massering by die spa – my masseuse was trots Suid-Afrikaans – is hoogs aanbevole. Die volgende oggend was ek nog aangenaam bewus van die effek van die diepweefseltegniek van die vorige aand se masseersessie.

Dit lyk kompleet of AVANI Pemba Hotel & Spa ‘n gesonde dosis selfvertroue het deurdat die eerste deel van hul naam in hoofletters geskryf word. Hulle mag maar, soos ons as kinders gesê het. Onder nuwe bestuur is die diens flink en vriendelik.

dit lyk asof die swembad en die oseaan aaneen loop by avani pemba

Dit lyk asof die swembad en die oseaan aaneen loop by Avani Pemba

Vir hierdie geswore landdier was daar ‘n aangename verrassing by AVANI Pemba Hotel & Spa. Selfs ek kon nie die oorvloeiswembad weerstaan nie en dit was nie (net) omdat daar kelners was wat vir ‘n caipirinha of Laurentina-bier kon nadergewink word nie.

Pemba bied ook aan toeriste die geleentheid om te duik (snorkel en skuba) en ander watersporte te beoefen.

Vir my was die tweede bederf die Marokkaanse argitektuur waarop ek versot is. Dis die ene lanterns, gewelfde boë, swaar houtdeure met klinknaels en ‘n binnehof met palms.

pemba spog met twee vuurtorings - hierdie buksie en 'n langer elegante wit toring met 'n stel trappe langs die kant

Pemba spog met twee vuurtorings – hierdie buksie en ‘n langer elegante wit toring met ‘n stel trappe langs die kant

Die eerste vuurtoring is ‘n regte buksie wat jy amper met die verbyry kan miskyk. Oorkant die straat van die Ponta Romero-vuurtoring (die Portugese woord vir vuurtoring is farol) is die ruïnes van ‘n slawehandelfort waar in die ou dae op slawe gebie is. Dit laat jou so effens ril en hoendervleis kry – asof ‘n bietjie energie van die bose praktyke nog in die lug hang.

‘n Klipgooi hiervandaan is ‘n buitelugstalletjie waar plaaslike vissermanne hul vangs verkoop.

nou wat gebeur dan nou daar anderkant...

Nou wat gebeur nou daar anderkant…

Klim by die sytrappies van die tweede vuurtoring by Ponta Cufungu op om die uitsig oor Pemba en die baai te sien. Bewonder die elegante lyne hoewel die farol al ietwat windverweer daar uitsien.

By Baraca – soos die mark genoem word, maar wat eintlik ‘goedkoop winkel’ beteken – doen die Pembane inkopies. Matrasse versper paadjies; eiers staan skouerhoog gepak; naaimasjiene zirr soos wat die kleremakers stik; plastiekkomme, -emmers en –teepotte is om elke hoek en draai uitgepak; en in streepsakke meel of bone staan ‘n blikbeker vir die uitskep staangemaak.

Handelaars weet al vakansiegangers vrek oor die bont kapulana-lappe wat na jare steeds nie verbleik nie. Kleurvolle khikois en los strandbroeke is ook gewild. Die silwersmede van Noord-Mosambiek is ware vakmanne, maar die kanse is skraal dat jy silwer juweliersware op die mark gaan raakloop. Loer eerder in by AVANI Pemba Hotel & Spa se hotelwinkeltjie.

As die broodmandjie by jou tafel by Club Navale Restaurant aankom, besef sommer dadelik dat ‘n gastronomiese bederf gaan volg. Varser gaan jy nie sommer maklik raakloop nie – die kreef proe of dit netnou uit die see gehaal is. Die porsies is rojaal en die atmosfeer – met amper twee dosyn lanterns met wulpse kurwes bokant die kroegtoonbank – laat jou onwillekeurig jou aand uitrek. Sou jy nie in die bui vir seekos wees nie (as dit enigsins moontlik is), is pizzas en burgers ook beskikbaar.

Die aande is heerlik soel, want dit raak nooit werklik koud in Pemba nie. Die beste tyd om Pemba te besoek is van Mei – November, want dan is dit minder humied.

Loer na: www.avanihotels.com/pemba/

‘n Oord vir wittebrood of bederf jouself op ander man se eiland-erf

Vanaf Pemba is Anantara Medjumbe Island Resort ‘n 45-minute vlug ver. Ek daag jou uit om ‘n driekwartier te spandeer wat ‘n beter uitsig – in hierdie geval oor die Quirimbas-argipel met sy 27 eilande en skakerings van turkooisgroen  water wat jou asem wegslaan – bied.

vissermanne meer aan die een punt van medjumbe-eiland vas terwyl ons in 'n dau verbyvaar

Vissermanne meer aan die een punt van medjumbe-eiland vas terwyl ons in ‘n dau verbyvaar

tydens die dau-vaart is al wat jy sien, wit en blou

Tydens die dau-vaart is al wat jy sien, wit en blou

vanaf anantara medjumbe se terras sien jy elke aand die mees asemrowende sonsondergange soos wat net afrika kan oplewer

Uitsig met sonsondergang

Die oord is op ‘n privaateiland van 300 meter by een kilometer. Dit alleen maak die besoek ‘n groot bederf, of jy nou op wittebrood is, aldan nie.

Die see – vanaf die swembadterras of ‘n dau gesien – is in skakerings van blou, turkoois en indigo. Die sandstrand en die dauseile is witter as wit. Jy kan selfs leer om self ‘n dau te seil. Of as jy meer daarna voel om ‘n inwoner van luilekkerland te wees, kan jy per skiboot na Quissanga-eiland gaan waar ‘n piekniek – en vonkelwynmengeldrankies – jou sal inwag.

soveel aandag aan detail dat daar selfs 'n breerandsonhoed in jou strandvilla op jou wag

Binnein my villa

Daar is net 12 strandvilla’s wat onlangs  opgeknap is – elk met hul eie gemosaïekte jacuzzi kompleet met sjampanje-trappie asook ‘n bad wat op die strand en Indiese Oseaan uitkyk. Die dekor is deur ‘n Afrika-eiland geïnspireer soos geraamde kapulana-lappe waaraan goudblaar ‘n titseltjie blieng verleen. ‘n Strandsak met plakkies en ‘n breërand-sonhoed word op bruikleen aan elke gas verskaf.

Vir ontbyt krul ‘n kreefstert om jou geposjeerde eier; vir middagete kan jy weglê aan kokosneut-viskerrie; en vir aandete kan jy jou eie spyskaart (hulle noem dit Dining by Design) saamstel en vra om dit aan die voet van die vuurtoring wat uit die 1930’s dateer,  te nuttig. Hier sien jy meer sterre as in die middel van die Karoo. Boonop sal niemand jul steur nie!

Bedel of leen geld en sorg dat jy hier uitkom!

http://medjumbe.anantara.com/

Hoe kom ek daar?

 Airlink – Die streeksvoerderlugredery bied ‘n wye netwerk van streeks- en binnelandse vlugte in Suider-Afrika en tree op as ‘n franchisenemer van SAL.

Roete-spesifieke Inligting: Regstreekse, geskeduleerde vlugte tussen Johannesburg en Pemba, Noord-Mosambiek.

Koppeling: Deur hul alliansie met SAL kan reisigers gemaklik  aansluitingsvlugte deur SAL, hul vennote en ander lugrederye van Suider-Afrika en die res van die wêreld benut.

Gereelde Reisigersprogram: Airlink is ook ’n lid van SAL se lojaliteitsprogram, Voyager.

Webtuiste: www.flyairlink.com

Vlugbesprekings: Bespreek jou kaartjies aanlyn by http://www.flyairlink.com, deur ’n reisagent of die SAL se sentrale besprekings by 011 978 1111.

 

 

2 comments on “Paaie in – en rondom – Pemba, Mosambiek

  1. Toortsie
    January 27, 2019

    Dit klink salig.

  2. ilsez
    January 28, 2019

    Oe dit was.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 25, 2019 by in Afrika and tagged .