ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Bosjes is bobaas

First published in Die Burger, January 2018

Bosjes Kapel se golwende dak maak 'n onuitwisbare indruk

Bosjes Kapel se golwende dak maak ‘n onuitwisbare indruk

Is dit ‘n voël? Is dit ‘n vliegtuig? Nee, dis die golwende wit dak van Bosjes Plaas se nuwerige kapel. Dit het my dadelik aan die ontwerp van die Guggenheim Kunsmuseum in Bilbao, Spanje laat dink.

Iemand langs my fluister die inspirasie vir die vloeiende dak kom uit Psalm 63 – “U het, o God, U vleuels uitgesprei om met beskerming my te dek…” Ek hoop dis waar, want dis net so móói en so gepas.

Bosjes Kapel se 'vleuels van God' en 'n kruis by die ingang

Bosjes Kapel se ‘vleuels van God’ en ‘n kruis by die ingang

By Bosjes se kapel voel dit of jy die poorte van die hemel betree as jy oor die water na binne loop

By Bosjes se kapel voel dit of jy die poorte van die hemel betree as jy oor die water na binne loop

Bosjes Kapel laat die berge, lug en lig na binne

Bosjes Kapel laat die berge, lug en lig na binne

Bosjes Plaas lê in die Slanghoekvallei tussen Worcester en Ceres. Hulle naam is alreeds op almal se lippe as ‘n mens so luister na wat om eettafels en braaivleisvure bespreek word.

Deels oor die ontwerp van die kapel wat op die Witzen- en Slanghoekberge uitkyk en deels oor Bosjes Kombuis, die plaas se restaurant wat binne stapafstand van Bosjes Kapel geleë is.

Bosjes Kombuis is argitektonies eenvoudig dog kompleks

Bosjes Kombuis is argitektonies eenvoudig dog kompleks

Op die spyskaart – loer op hul webwerf vir ander tipiese disse wat voorgesit word – was al trooskos soos forelviskoekies (met avokadoslaai en suurlemoenmayo) en haloumi-slaai (met tuintamaties, piekelkomkommer, olywe en feta) as voorgeregte, ‘n biefburger wat met camembert, spek en gekarameliseerde uie bedien word sowel as sampioenquiche met ‘n geposjeerde eier en gruyere-kaas as hoofgeregte, en nageregte soos amandel-panna-cotta en almal se gunsteling, malvapoeding met vanieljeroomys.

Pete Goffe-Wood het as konsultantsjef vir Bosjes Kombuis opgetree.

Die blou-en-wit teelmuur op die buiteterras by Bosjes se restaurant laat almal kyk, en kyk, en kyk

Die blou-en-wit teelmuur op die buiteterras by Bosjes se restaurant laat almal kyk, en kyk, en kyk

Bosjes Kombuis bied sitplek buite – op ‘n terras met ‘n uitsig oor die berg – of binne, vanwaar jy steeds deur groot glasvensters – dis die ene lig rondom jou – na buite kan sien. Op een buitenste symuur is ‘n Delft-geïnspireerde – so lyk dit – kunswerk van 366 blou en wit teëls wat die fauna en flora van Bosjes Plaas uitbeeld. Die Boom van die Lewe spog met seekatsuiers as ‘n mens jou verbeelding laat loop en varings rank van hoek tot kant.

Bosjes Kombuis is van Woensdae tot Sondae oop vir middagetes.

Vind Bosjes Kombuis op die R43 in die rigting van Ceres. Dis sowat 90 minute se ry vanaf Kaapstad.

Bespreek by: eat@bosjes.co.za  of stay@bosjes.co.za of 023 004 0496

www.bosjes.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 25, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .