ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Goeiste – dis granaatwêreld dié

First published in Die Burger, October 2018

DSC_1038

Die skoonheid van ‘n granaat

 Die Latynse naam vir ‘n granaat is Punica granatum. Jare gelede was daar in elke straat ‘n huis met ‘n granaatboom, maar dié vrug het eers skaarser geraak voor dit nou meer algemeen bekombaar is én al hoe gewilder op die kosfront raak.

Reeds in Eksodus in die Bybel word na granate verwys. Die hoëpriester, Aäron, het aan die soom van sy jurk ‘n goue klokkie en ‘n granaatjie as versiering gehad.

In Deutoromium 8 : 8 word verwys na “’n land met koring en gars, wingerde, vyebome en granate, ‘n land met volop olyfolie en heuning”.

Die eerste geskrewe verwysing na granate was volgens oorlewering in ‘n romantiese gedig wat om en by 1500 v.C. geskryf is. Dit lui so (vry vertaal): “Om jou stem te hoor is soos granaatwyn vir my; dit skenk lewe aan my om dit te hoor. As ek jou voortdurend kon sien, sou dit vir my meer plesier bring as om te eet of drink”.

Daar is selfs historici wat glo dat die verbode vrug in die Tuin van Eden ‘n granaat – en nie ‘n appel nie – was.

Hoe dit ook al sy, daar is amper iets magies aan ‘n granaatboom – en ‘n oopgebreekte granaat.

‘n Paar jaar gelede is daar selfs ‘n huisie in Suurbraak só geadverteer: Eenkamerkothuis met ‘n 100-jaar oue granaatboom. 24 m². Prys R195 000.

Die Rooi Granaat, Loxton

Die Rooi Granaat op Loxton is 'n drie-in-een bestemming

Die Rooi Granaat op Loxton is ‘n drie-in-een bestemming

As jy op ‘n Sondag by Die Rooi Granaat op Loxton wil aansit, moet jy sorg dat jy vóór die kerk uitkom jou plek by ‘n tafel gedêps het. Die dorpenaars kuier graag hier saam om nuus en skinderstories uit te ruil.

As jy in die hartjie van Loxton aankom, sit die Rooi Granaat net oorkant die kerk; vertoef eers hier voor jy na Carnavon of Victoria-Wes ry

As jy in die hartjie van Loxton aankom, sit die Rooi Granaat net oorkant die kerk; vertoef eers hier voor jy na Carnavon of Victoria-Wes ry

Voor jy jou kom kry, gesels jy lustig saam. Die vriendelike orrelis nooi selfs vir Reisgenoot Rachel saam met wie ek gereeld die langpad aanpak, om haar slag op die kerkorrel te wys ‘terwyl die kerk nog nie toegesluit is nie’.  Na aanvanklike teëstribbeling het Rachel ons aldrie – haarself inkluis – in trane met ‘n impromptu uitvoering.

Terug by Die Rooi Granaat slaan ons ‘n allemintige brekfis weg.

Oor ‘n tweede koppie koffie kyk ons wat op die rakke van Die Rooi Granaat staan. Die Rooi Granaat is ‘n deli, koffiewinkel én gastehuis. Hulle verkoop Karoo-bokmelkprodukte; die egte Karoo-gasvryheid is pasella.

Op die rakke staan ook robynrooi Oom Plaas se granaat- en koemkwatkonfyt, bloekom-en-lusern-heuning, ingelegte koejawels, balsemiekasyn met suurlemoen en gemmer of roosmaryn en speserymengsels vir ‘Mamma se braaibroodjie’ of Karoo-pansout met brandrissie.

Elke bottel Loxton Lager word met sy eie glas verpak en verkoop. Op T-hemde lees ek ‘Bokkapater’, maar ek ken nie iemand wat mans of hups genoeg sal wees om dit te dra nie.

  • Die Rooi Granaat, Joostestraat 20, Loxton

Lag soos ‘n oopgebreekte granaat

Na Lanzerac Hotel & Spa in Stellenbosch tydelik moes sluit na ‘n verwoestende brand in die middel van 2017 is hul deure weer op 1 Julie 2018 geopen. Tóé is die hotel se ontvangsvertrek en kantore, die Governors-restaurant, die Craven-onthaalsaal en die Taphuis-kroeg deur vlamme verswelg. Nóú pronk hierdie vertrekke van vooraf.

Na die restourasie na verlede jaar se brand het Lanzerac al sy swier behou; die Taphuis-kroeg sorg selfs vir 'n nog lekkerder kuier as vantevore

Na die restourasie na verlede jaar se brand het Lanzerac al sy swier behou; die Taphuis-kroeg sorg selfs vir ‘n nog lekkerder kuier as vantevore

Na ‘n onlangse besoek aan die Taphuis wil ek my amper verstout om te sê dat die voorportaal, ontvangsvertrek en die Taphuis-kroeg nou nóg mooier daar uitsien. Dis die ene elegansie, dis weelderig en dis o, so sjiek.

Dis nie ‘n geval van na lag kom huil, soos die oumense swartgallig gewaarsku het nie; dis ‘n geval van ‘n ramp waaroor ‘n mens net wóú huil, maar daaruit het baie móói gevloei. Lanzerac se nuwe voorkoms kan daarvan getuig.

Dis nie al rede om by die Taphuis te gaan inloer nie. Die ligte-happie-spyskaart het tot ‘n eenparige besluit gelei om terug te keer om die gourmet-kroeg-spyskaart te beproef.

'n Boepensbakkie slaai met robynrooi granaatpitte by die Taphuis-kroeg by Lanzerac Hotel & Spa

‘n Boepensbakkie slaai met robynrooi granaatpitte by die Taphuis-kroeg by Lanzerac Hotel & Spa

Die gunsteling ligte happie was ongetwyfeld die peer-granaat-en-bloukaas-slaai – waarin die granaatpitte soos robyne vir jou loer – wat in ‘n boepensbakkie bedien word.

  • Lanzerac Hotel & Spa, Lanzeracstraat 1, Stellenbosch

Net granate en granaatprodukte by Netgranaat

Antoinette Versveld van Darling is iemand wat granate kén. Sy’t selfs al na Israel gereis om haar kennis oor dié vrug op te skerp.

Antoinette Versveld van Netgranaat in Darling borrel oor van entoesiasme oor granate en die lewe

Antoinette Versveld van Netgranaat in Darling borrel oor van entoesiasme oor granate en die lewe

Dit sal maar sukkel om by Darling Pomegranates oftewel Netgranaat se reeks granaatprodukte kers vas te hou.

By Groote Post Wynlandgoed se gewilde mark beduie Antoinette met die een hand waar jy kan proe en met die ander gee sy yskoue granaatsap vir ‘n ander klant aan.

Tussendeur gesels sy lang stukke – oor hoe dit met so-en-so gaan, hoe bly sy is om ‘n ou kennis weer hier raak te loop, waar jy haar produkte in die hande kan kry, waar sy aflewer en hoe jy granate in jou kos kan gebruik. Haar entoesiasme – nie net oor granate nie – borrel oor.

Op haar marktafel pryk die enigste granaatnougat in die land, granaatmolasse, gedroogde granaatpitte, suiwer, granaatgegeurde Turkish Delight sowel as granaatseep.

Die granaatsap is die lekkerste sap wat ek nog ooit geproe het. Daar is twee soorte – die lekkerste een is ietwat vrank omdat die hele granaat, skil en al, gebruik word.

By ‘n naburige stalletjie staan die mense tou vir d’Cider. Lukas Wentzel, die wynmaker van Groote Post maak een van sy siderdrankies van Netgranaat se granaatsap.

Die volgende Groote Post-markdae is op 28 Oktober, 25 November en 16 Desember.

 Kolwyntjies en polfyntjies

As jy ‘n wynplaas van formaat is en jy is vir jou wyn én kolwyntjies bekend, moet jy kan bak en brou én gis en versny.

Delheim-wynlandgoed is al geruime tyd vir kolwyntjieproee saam met hul wyne bekend

Delheim-wynlandgoed is al geruime tyd vir kolwyntjieproe saam met hul wyne bekend

Delheim-wynlandgoed bied seisoenale kolwyntjieproe-ervarings saam met hul wyne aan. Dit leer jou op ‘n speelse manier om geure te identifiseer sowel as om te ontdek watter geur pas by watter ander een.

n-granaatkolwyntjie-met-as-pasmaat-delheim-pinotage-rose.jpg

‘n Granaatkolwyntjie met as pasmaat Delheim Pinotage Rose

Een voorbeeld hiervan is ‘n granaatkolwyntjie wat as deel van die proe-ervaring saam met die Delheim Pinotage Rosé voorgesit word.

Op 24 September is ‘n nuwe reeks fynbos-geïnspireerde kolwyntjies bekendgestel.

  • Delheim-wynlandgoed, Knorhoekweg, Stellenbosch

 ‘n Laning granate

In Granaatlaan in Baardskeerdersbos in die Overberg is weliswaar nie ‘n granaat te bespeur nie, maar die B’Bos Kunsgalery is ‘n klipgooi van die straatnaam af.

Granaatlaan in Baardskeerdersbos lei jou na B'Bos Kunsgalery

Granaatlaan in Baardskeerdersbos lei jou na B’Bos Kunsgalery

Jy kan nie B'Bos Kunsgalery in Granaatlaan in Baardskeerdersbos miskyk nie

Jy kan nie B’Bos Kunsgalery in Granaatlaan in Baardskeerdersbos miskyk nie

Die hele huis – wat ook as die woning van Ivan Trollip dien – wemel van Trollip se eie werk en ander kunstenaars se waterverf- en olieverfskilderye, houtskool- en potloodtekeninge, etse en beeldhouwerk.

In Granaatlaan in Baardskeerdersbos is 'n eende-oorgangsteken wat die spinnekoppe toespin

In Granaatlaan in Baardskeerdersbos is ‘n eende-oorgangsteken wat die spinnekoppe toespin

Kyk uit vir Liz van den Berg se kunswerke. Sy beoefen die Japanese kuns van Gyotaku-druk. Die visse wat sy op hierdie manier druk, is werklik besonders.

  • B’Bos Kunsgalery, skuins oorkant waar Granaatlaan doodloop (dis maar hoe adresse hier werk), Baardskeerdersbos

*  *  *

As jy nog ‘granaatrobyne’ soek:

  • Stellenbosch Vineyards op die Baden Powell-pad buite Stellenbosch maak ‘n wynmengeldrankie gegeur met granaat en rose, Arniston Bay Infusions Pomegranate & Rose.
  • As jy deur Laiingsburg ry, lê Granaat – Pure Karoo Café op jou regterkant as jy van die Kaap se kant af kom. Hulle nooi jou om in te loer vir plaaslike, tuisgemaakte lekkernye soos konfyt, blatjang, vrugtestrope, brosbrood en handwerk. Jy kan vir iets soets of ligte etes aansit. Daar is altyd ‘n juweel of twee onder die tweedehandse boeke te vind.
  • By Darling Brew in Darling in die Swartland maak hulle ‘n seisoenale Pomegranate Lager om Valentynsdag te vier.

*  *  *

Granate en Joodse tradisies

Volgens Joodse tradisie word geglo dat granate elk 613 pitte het. Elke pit verteenwoordig een van die 613 wette van die Tora (die eerste vyf boeke van die Bybel). Die aantal pitte verskil egter van granaat tot granaat.

Aan die einde van elke sjabbat word die ‘granaatgebed’ opgesê waarin God gevra word om hul so oorvloedig te seën soos die pitte van ‘n granaat.

*  *  *

Granate in ander dele van die wêreld

  • In Koning Toetankhamen van Antieke Egipte se graf is granate gevind wat saam met hom begrawe is.
  • In Turkye gooi bruide aan die einde van hul huwelikseremonie ‘n granaat op die grond. Die aantal granaatpitte wat uitval, is veronderstel om te voorspel hoeveel kinders die paartjie gaan hê.
  • In China word daar graag trougeskenke, wat met ‘n granaatembleem versier is, gegee om ‘n lang en gelukkige huwelik te bevorder.

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 2, 2019 by in Afrikaans foodies, Die res van Suid-Afrika and tagged .