ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SO MAK SOOS ‘N LAM(METJIE)

First published in Die Burger, July 2014

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Die oumense het gesê jy skei die skape van die bokke. Boerbok se kind blyk nie so gewild te wees as hanslammetjies en wollerige merino’s en dorpers nie.

‘n Wolf in skaapsklere

Selfs as jy nie sardyne eet nie, sal jy hier daaraan smul

Elke keer as ek by Bar Bar Black Sheep in die hart van Riebeek-Kasteel instap, laat die naam my skaapagtig grinnik. ‘n Plek wat so heet, moet jou mos laat blêr van lekkerkry.

So ongewoon as wat hierdie oorspronklike naam is, so eklekties is die restaurant self.

Sit aan onder ‘n prieel langs ‘n sinkplaathuisie, in ‘n amperse binnehof met stoepplante van ouds, by ‘n lang tafel waarop die Britse vlag geverf is, of voor ‘n kaggel neffens teatrale purper gordyne.

'n Vlagtafel, rooi rakkies en 'n poespas van stoele

Hier’s ‘n wenk: bespreek en kom met ‘n rede vir die samesyn vorendag. Bar Bar Black Sheep dek die allermooiste tafels met tonne inisiatief. Selfs VLV-tannies sal beïndruk wees en heimelik ‘n paar idees hul eie maak.

'n Knus hoekie in Bar Bar Black Sheep

Vir ontbyt is daar boerebrekfis of warm Turkse eiers met Griekse jogurt. Die seisoenale spyskaart bied komkommersop met ‘n tzatziki-geur en skywe vars vye; sardientjies wat jou vingers laat aflek of Patagoniese kalamari met ‘n gesonde dosis knoffel. Onder die hoofgeregte is daar lamsburger, bokbredie of vark met meer as ‘n skeut rum.

Wonder of hul ooit daaraan gedink het dat hul andersins Bar Baa Black Sheep kon geheet het?

Swartskaap van Kloofstraat

The Black Sheep is allermins ‘n swartskaap in die gewone sin van die woord. Dis wel ‘n restaurant met ‘n swartbord-spyskaart. Wat hierop verskyn, hang af van die weer, seisoen en die sjef se bui.

Natuurlike kleure, koperlampe en plankietoonbank in The Black Sheep

Al die disse wat op die swartbord verskyn, kan jou soos ‘n verdwaalde skaap laat voel – die een is meer avontuurlik as die ander; dis juis hierdie opwindende kombinasies wat almal na The Black Sheep lok.

As die daaglikse twaalfuur-kanonskoot in Kaapstad afgevuur word, word die swartbord-disse vir die dag opgedateer. As dit op is, is dit óp, en word dit van die swartbord afgevee.

Baie mak skape kom hier in een kraal bymekaar – as jy nie honger is nie of tyd ontbreek, geniet ‘n skemerkelkie, glas wyn of bier van ‘n plaaslike mikrobrouery, terwyl jy op die roesemoes van Kloofstraat uitkyk.

Die kombuis teel aan en word ‘n eetkamer

As jy – soos Karen Dudley – jou eetplek(ke) pretensielose name soos The Kitchen en The Dining Room (langs mekaar in Sir Lowrystraat, Woodstock) gee, is dit ‘n aanduiding dat wat hier op die tafel gesit word, ook onpretensieus, tog innoverend, is.

Die muurpapier is verfrissend anders, die slaaie vars en vernuwend

By The Dining Room word slegs twee hoofgeregte en twee nageregte per dag voorberei. So een keer per week is skaap- of lamsvleis aan die beurt. As dit een van jou voorliefdes is, moet jy jou boude wikkel om hier uit te kom.

Karen en haar span laat hul soet Marokkaanse lamstagine met speserypruimedante ‘n geruime tyd prut. Haar personeel sweer niemand anders kan só ‘n bredie van Noord-Afrika optower nie.

Op ander dae word Argentynse skaapribbetjies uitgedra. Of gestoofde skaapvleis met die subtiele geur van donkersjokolade.

Karen verklaar onomwonde: “Ons maak nét fantastiese kos. Ons het nie tyd om te hum of haa nie.” En soos ‘n warrelwind met onuitputbare energie dartel sy terug na die kospotte.

The Dining Room is oop vir ontbyt, middagete of privaatpartytjies.

Die skaap se laaste mê

Watwou, hier’s Merweville en Koup lam op jou voorstoep.

By Douvoordag Slagtery (daar’s een tak in Somerset-Wes en een by Willowbridge behalwe as jy daarop aandring om die langpad na Merweville aan te pak) is daar van afval, niertjies en koupkieries, tot skaapstertjies, skilpadjies en skaapmaalvleis. Ook nog blad- en dikribtjops, piekelskaapribbetjies en potjiekos.

Streel die skapie oor die kop en koop tjops binne

Die lys is so lank dat jy kort voor lank so skeel soos ‘n skaap daarna kyk terwyl jy besluit wat om te vat en wat om te los.

Hul resep vir ribbetjies word so ingelei: Kry die ribbetjies voor kerk gereed sodat dit lekker kan marineer. Druk dit dan in die oond terwyl jy die ander kos aan die gang sit.

‘n Klomp skapies in een kraal

Karoo 1 Hoteldorp is in ‘n “envirronement magnifique” – op die N1, 61 km anderkant Worcester, 22 km van De Doorns – soos ‘n Franse besoeker dit so mooi op Tripadvisor stel. Die omgewing is ‘n besoek werd; so ook ‘n blik op die speelse skape wat rond en bont by Karoo 1 vir jou loer.

Die oorspronklike plaas, Karbonaatjieskraal, was in die 1860’s ‘n welkome halte vir reisigers oppad na Kimberley se myne. Sou hier toe soveel skape gewei het as wat daar nou om elke hoek en draai te sien is?

Ene Willy Woestyn van België het ‘n droom gehad om ‘n hoteldorp in die omgewing van die Hexriviervallei te vestig. So het Karoo 1 ontstaan.

DSC_1035

‘n Skaap met ‘n sin vir mode

Met die inry begroet skape jou, hoewel nie die soort wat kan blêr nie. ‘n Opgevulde plaasdam verskaf weiding aan kraletjie-skape; op die kroegtoonbank hurk ‘n buksie-skaap en om ‘n hoek wink ‘n skaap met ‘n pienk sonbril.

Drentel deur die geskenkwinkel; verkyk jou aan die kuns; sit aan by die restaurant of gaan groet die buksie-skaap by die kroeg.

  • karoo1.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 13, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .