ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘N MONGOLIESE SMILEY EN CHARDONNAY

First published in Die Burger, April 2016

Geen gril of geit in Mongolië

eating a sheep's eye in mongolia

‘n Skaapoog in Mongolie saam met chardonnay

Bid jou aan – ‘n Mongoliese smiley!

Dít met sakemanne by aangrensende tafels in ‘n deftige restaurant waarvan daar maar min in Ulaanbaatar, die hoofstad van Mongolië, is. Boonop spog die wynlys met wyne van Frankryk, Australië, Chile, Duitsland, Kalifornië, Italië, Spanje en Georgië.

 

By Modern Nomads Mongolian Restaurant word nie net skaapkoppe tafels toe gedra nie. Jy kan ook die volgende bestel: biefafval bedien op noedels; ‘n allegaartjie van bief, lam, vark en perdevleis met doopsous; “Die Kop van die Trop” (‘n tradisionele resep vir die wange, tong en snoet van die lam), “Wigwam van die Rendier” (lamsrib met kruie uit die Gobi-woestyn) en “Die Gees van die Mens” (perdepenis en –tjops).

Ek’s nie so seker of ek my reismaat, Vanessa, so ietwat geboelie het om ‘n Mongoliese skaapkop met my te deel nie. Ons het 18 jaar gelede ons eerste oorsese reis saam aangepak, daarna voor die era van sosiale media en selfone kontak verloor, mekaar weer raakgeloop en toe besluit om van Moskou na Beijing, met ‘n paar dae in Ulaanbaatar tussenin, te reis.

 

‘n Mens kom seker net een keer in jou lewe in Mongolië; dus moet jy die geleentheid aangryp om alles te beproef.

Selfs perdepenis. Nie vanaand beskikbaar nie, sê die kelner. Ek’s nie eers heimlik verlig nie, net teleurgesteld.

 

Nou kos dit kies uit steppesop (benesop met lamstert, kluitjies, noedels en groente), khorkhog-sop (lamsop waarbinne ‘n warm klip geplaas word), tunteg-sop (met frikkadelle en sampioene), sop met gedroogde vleis (dalk amper soos biltong, bespiegel ons), Ouma-se-Tee-met-Kluitjies, en Swart Hings-sop (ja, dit is van perdevleis).

In die Mongoliese steppe word die olierige klip uit die khorkhog-sop van een persoon na die ander aangegee nadat dit in die handpalm gerol is. Die bygeloof daaragter is dat dit jou van goeie gesondheid verseker.

dis tradisie om 'n dolosspeletjie te speel terwyl jy vir jou kos wag

Dis tradisie om ‘n dolosspeletjie te speel terwyl jy vir jou kos wag

‘n Ou Mongoliese spreekwoord lui juis: Sop maak jou vol; die vleis van jong diere sorg dat jy ryk word.

Ek besluit op perdesop, Vanessa op steppe-sop. Terwyl ons wag is daar beendolosse op die tafel om mee te speel, maar niemand wat genoeg Engels kan praat om vir ons te verduidelik hoe die speletjie werk nie.

‘n Glas of twee Badger’s Creek Chardonnay Semillon (van Australië) later is ons gevolgtrekking dat dieselfde sopaftreksel om mee te begin, gebruik word en dat dit meer geurig klink as wat dit proe.

nie almal sal kans sien vir mongoliese skaapkop nie

‘n Mongoliese smiley lyk toe glad nie soos ons s’n hier by die huis nie. Die skedel van die skaap word as opskepskottel gebruik. Elke deeltjie van die skaapkop is apart gaargemaak en versigtig  terug in die regte holtetjies geplaas waarvandaan jy dit op jou bord skep.

Die wangvleis is heerlik sappig, die verhemelte (of dis wat ons dink dit kan wees) is taai, en ek slaan ‘n los gelukkie los deurdat ek beide oë kan eet omdat Vanessa verseg om haar mond daaraan te sit. ‘n Groen doopsousie wat soos pesto lyk, word saam met die skaapkop bedien. Onder groot gelag besluit Vanessa dat hulle die skaap se herkousel vir ons bedien het. Ek moet bieg, dit smaak nogal grasserig.

Mongoliërs het nie baie om uit te kies as dit by bestanddele kom nie. Behalwe vleis en meel vir kluitjies kom dikmelk wat ook vir die maak van kaas gebruik word, baie voor. Niks word vermors nie – die hele dier word geëet.

een van die stalhouers by die mark se middagete

Een van die stalhouers by die mark se middagete

Daar word geglo as jy kluitjies met jou hand eet – maar sonder om dit in jou palm vas te hou – bring dit geluk. Dit gee nogal ‘n morserige gedoente af as jy nie daaraan gewoond is nie.

as jy graag gegiste merriemelk wil drink, word dit by die plaaslike naraan tuul mark sommer so uit 'n konka verkoop

Gegiste merriemelk word op die mark uit ‘n plastiekkonka bedien

Buite die stede word airag (gegiste merriemelk) oral gedrink. As jy nie gewoond is daaraan nie, is die kanse redelik dat dit nie met jou gaan akkordeer nie.

In Ulaanbaatar is dit soms by sekere restaurante verkrygbaar. Andersins skep hulle dit sommer vir jou uit ‘n konka by die Naran Tuul mark (waar toeriste maar versigtig moet wees) en drink jy dit uit ‘n gemeenskaplike bekertjie.

‘n Ou gewoonte wat nog nie uitgesterf het nie, is om lepelsvol melk in die rigting waarin reisigers vertrek, te spat. Dit seën die reis wat voorlê.

Mongoliërs is ook baie lief vir tee en wodka. Benewens tapbier, skemerkelkies en wyn, bedien die meeste restaurante ook verskeie soorte gegeurde tee.

As ‘n man nie van wodka (arkhi) hou nie, word hy summier as ‘n sissie bestempel.

As jou vleistand al langtand kou, kan jy heerlik Koreaans in Ulaanbaatar eet. Ons lekkerste Koreaanse maaltye was by Hanil Korean Restaurant. Hoofdisse (roerbraaivark, calamari met chilli, en Koreaanse biefbredie) word met sowat tien bakkies banchan (bykosse en doopsouse) bedien.

Vanessa wat al heelwat in Asië gereis het, maak my touwys. Ek verloor my hart op kimchi (gefermenteerde groente, veral kool en radys, met gemmer, knoffel, soutgarnale en chilli) en met my terugkeer huis toe het ek dadelik begin met ‘n soektog na die beste kimchi in die Kaap.

Ons drink Mongoliese Chinggis Bier, eet nóg kimchi en wens hierdie (kos)reis gaan nooit end kry nie.

een-van-talle-beelde-in-die-chaongling-tempel.jpg

In ‘n Mongoliese tempel

2 comments on “‘N MONGOLIESE SMILEY EN CHARDONNAY

  1. Vanessa
    January 15, 2019

    Loooooove it – so awesome!!! I can vouch for what a terrific experience it is to dine in Mongolia – not for the faint hearted!!

  2. ilsez
    January 15, 2019

    We’ll have to come up with the next challenging meal somewhere, Vanessa!

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 15, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged , .