ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

SANTIAGO DE COMPOSTELA IS SALIG

First published in Die Burger: Reis, July 2019

Spanje betower met hart en siel

Ek’s te lui vir stap. Ek hoor daar is baie opdraande. ‘n Kierie pas nie by my nie. Toe kies ek maar ‘n paar sielsalige dae in Santiago de Compostela – Latyns vir ‘n veld met sterre – sonder dat ek ‘n pelgrimsertifikaat het om daarvoor te wys.

Ons sien darem Noord-Spanje se heuwelgroen platteland alhoewel ons teen dapper en stapper besluit het. Met die bus ry ons van Bilbao deur San Sebastian (die pretensieuse Knysna van Spanje) na Santiago de Compostela – deur dorpies, deur gehuggies, verby plaashuise en skure en orals bly dit groen.

In Santiago de Compostela aangekom,  oorweldig die Spanjaarde se vriendelikheid ons. Voor jou kaart nog reg omgedraai is, het iemand reeds nadergestap en aanwysings aangebied. Eintlik is dit waar van so baie plekke in die wêreld – dalk kom dit eenvoudig neer op die gesindheid waarmee ‘n mens deur die lewe gaan.

EENDAG WAS DAAR ‘N CAMINO

Genoeg gefilosofeer, hoewel Santiago de Compostela ‘n mens amper spontaan laat dink, na jou lewe kyk, laat ontleed – en dit sonder dat jy eers ‘n gedeelte van die Camino afgelê het. Eendag wil, nee, gáán, ek dit ook nog doen.

Volgens legende is die apostel Jakobus se oorskot hier begrawe en is dit in 813 n.C. weer gevind. Dit voel sommer oud en die atmosfeer dra daartoe by. Dis die ene wye én nou stegies of soportales, gewelfde boë, gegote yster-balkonne, ‘n magdom kerkies, klipgeboutjies en monotone ou-styl naamborde. Die hele dorp voel en lyk na ‘n besige sepia-toneel. Tog is dit nie eendimensioneel nie – kleur sou amper onvanpas voel. As dit reën, is die ou geboue nóg mooier.

Die Camino-pelgrimsroete eindig hier. Die pelgrims van ouds kon jy uitken aan hul kieries, ‘n groot kammosselskulp waarmee hul geëet het, en leersakkies (amper soos dié waaruit orige studente soms as party-truuk drink) waarin hul kos of water was. Baie hedendaagse pelgrims volg hierdie ou gebruike.

VERGEET VAN ALLES BY DIE HUIS

In Santiago de Compostela aangekom en ingeboek, plak ons onsself op ‘n terrassie op ‘n mini-plazatjie neer. Ons drink die atmosfeer in en selfs die (enigste) onbeskofte kelner, ‘n foutiewe bestelling en ‘n opgeplompte rekening demp nie ons serene entoesiasme oor waar ons is nie.

Daar's nie net seekos in Santiago di Compostela se restaurante nie

Daar’s nie net seekos in Santiago de Compostela se restaurante nie

Die meeste uithangborde is in dieselfde styl ontwerp

Die meeste uithangborde is in dieselfde styl ontwerp

Slegs ietwat verontwaardig begin ons ‘n verkenningstog deur die stegies. Ons probeer om nie ‘n straatjie te mis nie – dis net te mooi. Soos inkopie-slawe stap ons by elke toeristewinkeltjie in; al het amper almal presies dieselfde op hul glasrakke.

Om die ervaring vas te vang, koop ons die fynste etsies – van ‘n kerktoring, van die uitsig oor die dakke van die dorp, van ‘n hoekie en ‘n draaitjie in ‘n klipgangetjie.

Orals in die winkeltjies hang hekse – ek oorweeg ‘n pers heks. Hulle vertel ons dat daar in Galicië baie ou vroue was wat in vanmelewe se dae die toekoms voorspel het en wat klaarblyklik magiese magte gehad het.

Poskaarte berei ons voor op wat op ons vir aandete wag. Seekat, krappe, massiewe swarterige krewe, skulpvis en kalamari.

KOS EN KERKIES

Orals is kerkies! Soos Iglesia Salome Maria. By die ingang sit ‘n gids om ‘n verduideliking van alles te gee. Ons hang aan haar lippe. In twee klein kapelletjies is twee burgemeesters begrawe – burgemeester nommer twee wou burgemeester een oortref en sy kapelletjie is die ene goud. Burgemeester nommer een het geglo dat sy van ontstaan het na een van sy voorvaders akkedisse met ‘n klip doodgegooi het. Sy familie-skild beeld dit uit.

Dan’s daar ‘n standbeeld van ‘n swartgeklede Moeder Maria wat huil omdat Jesus nie meer by haar is nie. In ‘n ander hoekie van die kerk is ‘n tafereel teen die muur waarop al die engele bril dra – dis deur die kunstenaar bygeskilder omdat hy nooit vir sy werk betaal is nie. ‘n Tweede poets wat hy hulle gebak het, is deur seksuele simbole in die appels en pere te versteek. Gie gie, giggel ons hieroor.

Buite is daar ongewone beelde van ‘n swanger Maria en ‘n Maria wat Jesus borsvoed.

In verskeie kerke in Santiago de Compostela is dit asof daar ‘n sin vir humor te bespeur is. Regdeur Santiago de Compostela is baie van die uitbeeldings verweer, deur wind en weer verdof, maar keer op keer is daar iets wat ‘n glimlag ontlok. Wat ‘n verfrissende uitkyk is dit nie vir twee Protestantse Suid-Afrikaners met ‘n NG-agtergrond nie!

Eeue gelede was daar al ‘n meer lighartige uitkyk op godsdiens in hierdie deel van die wêreld. Niks van stywelip ouderlinge en oormatige erns nie. In die hoofkatedraal sien ons beelde van engele – op een plek is al die engele ernstig behalwe een wat lag. Sy oë is op die oorkant waar ‘n vrou se borste sigbaar is. Gie gie, giggel ons weer.

EN DAAR WAS ‘N KATEDRAAL

En dan’s daar Katedraal Santiago de Compostela. Die vier sykante van die kerk het elkeen sy eie plaza. Elkeen in ‘n ander styl – Goties, Renaissance, barok en neo-klassiek. As jy die eerste keer uit die stegie kom en jy sien die katedraal, staar jy in absolute verwondering na dit wat voor jou verrys. ‘n Verbyganger wat op daardie oomblik by ons verbystap, sê met trots: “Ja, dis ons s’n, dit is. Santiago.”

Die hoofkatedraal van Santiago di Compostela

Die hoofkatedraal van Santiago di Compostela

Binne-in hierdie katedraal is dit oordadiglik versier. Maar selfs dit kyk ‘n mens mis as jy sien hoe en waarom die ouer Katolieke hier ‘n besoek aflê. Dit laat my dink aan ‘n boek oor ou gebruike in Suid-Italië wat ek ‘n tyd terug gelees het. Die rituele grens aan paganisme. Dis amper ontstellend, ietwat grillerig, en hartseer.

Soos hulle die katedraal binnestap, lê hulle een hand met vyf vingers oopgesprei op ‘n pilaar, en prewel iets. By ‘n ander pilaar word vingers in nisse gedruk – dalk herinner dit aan Jesus se wonde, dalk nie. Sommige is uitermate emosioneel. Party staan in lang rye om kans te kry om die ritueel uit te voer.

Terug voor in die kerk laat hul hulle hande gly in ‘n beweging oor Johannes die Apostel se graf. By ‘n standbeeld van die apostel kyk hul deur sy oë om ‘n kortpad na die hemel te verseker. Of so-iets.

Hoewel dit alles ons verskriklik vreemd laat voel, doen niks, absoluut niks, afbreuk aan die ekstase om in Santiago de Compostela te wees nie. Na die geestelike belewenis in die katedraal, eet ons tarte di Santiago en ‘n tradisionele neutbeskuitjie. Aandete is baars en helaas, weer ‘n opgeplompte rekening en – hierdie keer – ‘n oorywerige kelner. Sela, ons het goed gevoel om in Santiago de Compostela te wees; nou voel ons beter oor hul kelners en hul diens.

 

TERWYL JY GAAN:
·         Lees: The Pilgrimage deur Paolo Coelho
                    The Camino deur Shirley Maclaine
·         Beplan die Camino self: A Pilgrim’s Guide to the Camino de Santiago deur John Brierley is onontbeerlik
·         Loop deur die mooiste straatjies: Rue Riana

Rue Vilar

Rue Franco

·        Ontdek meer van Paulo Coelho: www.warriorsoflight.com

 

DIE PELGRIMS SE UITKYK OP DIE LEWE
Om bekommerd te wees, is om te bid vir dít wat jy nie wil hê nie – uit die pelgrimsboek in Zubiri
Iets maak ons vlerke oop. Iets laat ons verveeldheid en seer verdwyn. Iemand maak ons beker vol. Ons proe net  heiligheid. – Rumi, ‘n Persiese digter uit die dertiende eeu
Die lewe van ‘n pelgrim het geen waarborge nie en jy sal jouself ‘n guns bewys as jy ‘n gevoel van dankbaarheid ontwikkel vir al die dinge wat jy op jou eie pelgrims- of lewens-roete leer. – John Brierley

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 24, 2020 by in Europa and tagged .