ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dis wragtig Vikings aan die suidpunt van Afrika!

First published in Die Burger, February 2020

Die Midgard Heron van die Midgard-ekspedisie op anker in die hawe van Struisbaai

Die Midgard Heron van die Midgard-ekspedisie op anker in die hawe van Struisbaai

Bid jou aan! ‘n Viking-skip helder oordag in die vissershawe van Struisbaai! Dit blyk toe nie ‘n hallusinasie te gewees het nie, kom ek agter toe ek ondersoek gaan instel.

Op Sondag, 2 Februarie 2020, het ‘n houtseiljag langs die visserstjakkies (soos die visserbote in die Overbergse volksmond bekend staan) op anker gelê.

Vier van die bemanning span uit in Struisbaai - Andre van der Walt, John All, Rob Torkildson en Caroline Lander

Vier van die bemanning span uit in Struisbaai – Andre van der Walt, John All, Rob Torkildson en Caroline Lander

By die Catch Cook Restaurant op die hawe het manne met wilde baarde waarin sommige silwer kraletjies gevleg het, aan vis-en-tjips gesmul. Voor en agter op die mans, en enkele vroue, se T-hemde was geskryf: “Viking Crew”. Ook “The Vikings Are Coming…” Wel, hierdie Vikings was nie op pad na die suidpunt van Afrika nie – hulle was reeds daar! En baie ingenome met waar hulle hulself bevind het ook nog.

Ek moes net meer uitvind! Gelukkig was dit net die manne se baarde wat wild en woes was; dié pseudo-Vikings – vier van die 12 bemanningslede (lees meer van die bemanning wat Suid-Afrikaners insluit by www.midgardexpedition.com/vikings/) – het entoesiasties vir my vertel van die projek waarmee hulle besig is.

Die Wikings is reg vir aksie in Struisbaai!

Die Vikings is reg vir aksie in Struisbaai!

Die projek staan bekend as die Midgard-ekspedisie en word gelei deur Bjorn Heyerdahl, kleinseun van Thor Heyerdahl.

Thor Heyerdahl was ‘n avonturier en ontdekkingsreisiger van Noorweë wat beroemdheid verwerf het na hy in 1947 die Kontiki-ekspedisie gelei het. Tydens die Kon-Tiki-ekspedisie het hy 8 000 km ver met ‘n handgeboude vlot oor die Stille Oseaan geseil.

Met Heyerdahl se uitgebreide reise, insluitende die Kon-Tiki-ekspedisie, wou hy probeer illustreer dat dit wel moontlik was vir kommunikasie tussen mense van verskillende vastelande, lank gelede, nog voor Marco Polo of Columbus by hierdie vastelande aangedoen het. Soos hy kon hulle die oseane met rudimentêre vaartuie oorsteek, het hy geglo.

Thor Heyerdahl se kleinseun, Bjorn Heyerdahl, blyk van dieselfde stoffasie as sy oupa te wees!

Vier van die bemanningslede van die Midgard-ekspedisie - Andre van der Walt, John All, Rob Torkildson en Caroline Lander

Vier van die bemanningslede van die Midgard-ekspedisie – Andre van der Walt, John All, Rob Torkildson en Caroline Lander

Bjorn Heyerdahl is die leier van die Midgard-ekspedisie wat met ‘n navorsingsboot, die Midgard Herron, deur die wêreld reis. Saam met hom reis ‘n bemanning bestaande uit wetenskaplikes, ontdekkers en volhoubaarheidskundiges. Soos wat hulle reis, ondersoek hulle wêreldwyd hoe op ‘n intelligente en volhoubare manier geleef kan word. Dit wat hulle leer, pas hulle op hul eie lewens, beroepe en gemeenskappe tuis toe en dra ook die kennis oor aan ander wat dit dan op hul beurt kan toepas.

Die Midgard-reisigers is geïnspireer deur die doeltreffende manier waarop die Vikings se smal, vinnige langbote (longboats) ontwerp is asook deur hulle waagmoed en hoe hulle daarin geslaag het om geen afval tydens hul reise te genereer nie.

Waarom juis ‘n Viking-boot? Dis ongetwyfeld die vraag op baie mense se lippe.

Op hul webtuiste (www.midgardexpedition.com) begin die verduideliking met ‘n passievolle uitroep: “Daar is niks wat naby (‘n Viking-boot) kom nie!” Volgens die Midgard-reisigers versinnebeeld ‘n Viking-boot moed, avontuur, vakmanskap, vindingrykheid, eenvoud, die simbiose tussen die mens, die vaartuig en die oseaan.

As ek aan my gesprek met vier van die bemanningslede terugdink, is ek dus nie verbaas dat hulle dadelik vir mý gevra het of ek nie jaloers op hulle – en die ervarings wat hulle beleef – is nie.

Die antwoord was wel nee; in diepwater begeef ek my nie sommer nie, maar ek was wel uiters gefassineer met húl ekspedisie.

'n Ongewone gesig by Struisbaai-hawe

‘n Ongewone gesig by Struisbaai-hawe

In die volgende asem wou hulle weet of ek weet dat daar ook klimaatsverandering in die tyd wat die Vikings geleef het, was.

Die kennis wat die Midgard-reisigers opdoen, word toegepas in klimaatparke in Myanmar en Costa Rica; op plase, in gastehuise en privaatwonings in die Vrystaat in Suid-Afrika en in Minnesota in Amerika; in dorpies in Italië; in hernuwingsprojekte in Johannesburg in Suid-Afrika,  op eilande aan die kus van Mosambiek en in Dubai, word op hul webtuiste verduidelik.

Die Midgard-span se leuse kom op die volgende neer: die Wetenskap van Wéét, die Towerkrag van Doen en die Mistiek van Wéés (of Leef). Hulle streef daarna om te verken, leer, reis, skep en om sáám met die natuur te werk, nie daarteen nie. Deur hul reise met hul Viking-boot wil hul “méér word, eerder as meer hê of meer besit”. Hulle wil terselfdertyd mense wat hulle teëkom, inspireer om dieselfde na te streef.

Op hul webtuiste verduidelik hulle verder dat die wêreld ‘n nuwe soort leierskap nodig het. Die mensdom moet anders leer dink. As hierdie verandering van denke nie teweeggebring word nie, kan die mensdom binne die volgende 100 jaar uitsterf. Aldus die Midgard Expedition.

Hulle beklemtoon verder dat hul Viking-ekspedisie nie ‘n nostalgiese herlewing van dit wat was, is nie. Dit gaan ook nie oor hul eie ego’s nie.

Hulle wil – en ons moet – hedendaagse Vikings word; ons moet sorg dat ons lewens relevant is en bly, ons moet bydra tot wat om ons gebeur en ons moet ‘n goeie invloed op mekaar hê. ‘n Mondvol uit die mond van ‘n groepie Vikings, as jy my vra.

‘n Dag na ons ontmoeting was ek opgewonde om op hul Facebook-bladsy te sien dat hulle om 12h00 op 3 Februarie 2020 om die suidpunt van Afrika geseil het. As ek na een ontmoeting opgewonde namens hulle is, dink net hoe moes hulle gevoel het!

Hul video-inskrywing op 1 Februarie 2020 wys hoe die Midgard Heron by Struisbaai-hawe die water ingly met een van die pylsterte wat in die hawe woon, wat rustig langsaan in die vlak water swem.

Kyk na die foto’s van die bemanningslede, toe die boot gebou is en waarheen hulle al gevaar het: http://www.instagram.com/midgardexpedition/

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 9, 2020 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .