ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Waar voëlverskrikkers jou verwelkom

 First published in Die Burger, November 2019

(Since this article has been published some details have changed)

Tradisioneel word voëlverskrikkers of strooipoppe gemaak om ongenooide gaste soos kraaie en ander voëls in landerye te verwilder of af te skrik.

Daar is egter twee dorpe in die Wes-Kaap wat voëlverskrikkers inspan om besoekers nader te lok en te verwelkom, eerder as weg te jaag.

In Darling in die Swartland word die Darling Voëlverskrikkerfees (#DarlingScarecrowFestival) hierdie jaar vanaf Vrydag, 22 November tot Sondag, 1 Desember, gevier.

In Napier in die Overberg word daar elke wintervakansie ‘n wyn-en-patatfees gehou. Voëlverskrikkers is huidjie en muidjie deel van dié fees.

Nie Napier of Darling se vrolike voëlverskrikkers het noodwendig uitgespreide arms soos strooipoppe wat voëls verdryf nie. Nee, die skeppers van die poppe span hul verbeelding en ‘n goeie dosis humor in om met die onverwagte vorendag te kom. Die meeste, maar verreweg nie almal nie, is wel menslike figure, maar dit lyk of ‘n mens ‘n storie oor elke karakter wat uitgebeeld word, kan skryf.

Hallo, my skat, ek is ‘n voëlverskrikker van Darling

Die Darling Voëlverskrikkerfees vier oestyd in die Swartland. Die feesembleem is nie net die gelukbringer van die dorp nie; dié voëlverskrikker met sy rooi hemp, swart hoed waarop ‘n pienk blommetjie pryk en ‘n parmantige voëltjie op sy skouer verteenwoordig ook die plattelandse lewe.

Soos Darling se leuse lui: Net ‘n uur vanaf Kaapstad, maar miljoene myle weg! Dis ook soos dit voel in Darling; jy vergeet skoon van werkspanning en onvereffende rekeninge sodra jy die dorp binnery.

In 2018 is die Darling Voëlverskrikkerfees vir die tweede keer gehou. Daar was amper 70 voëlverskrikkers regdeur die dorp. Besoekers aan die fees het lustig deelgeneem om te kyk hoeveel van dié strooipoppe hulle kon raaksien. Jy kon ook stem van watter voëlverskrikker jy die meeste hou.

In ‘n systraatjie het ‘n ouma met ‘n hekelkombers op haar skoot en ‘n oupa met ‘n emaljebeker in sy hand op ‘n stoep gesit, daar was ‘n sokkerspeler wat aan ‘n stellasie gehang het sodat hy ‘n bal kon skop en ‘n mop is as ‘n ruggraat ingespan sodat ‘n koeldrankblikkiepop staande kon bly terwyl die blikkies in die briesie rintinkel.

In 2019 is die tema van die Darling Voëlverskrikkerfees (#DarlingScarecrowFestival) ‘Ons is Suid-Afrikaans!’. ‘n Mens sou sweer die organiseerders het vooraf geweet dat die Springbokke die Rugbywêreldbeker gaan huis toe bring om ons almal saam te snoer en trots op ons land te maak!

Neigings van Napier se voëlverskrikkers

‘n Lewensgetroue verkeerskonstabel met ‘n spoedkamera is al aan Bredasdorp se kant van Napier gewaar. Jy lag half verleë as jy vervaard rem aanslaan voor jy besef dis nie die ware Jakob nie.

Wees gerus, die tuinier wat aan Caledon se kant van die dorp onkruid uitspit is ook nie uitgelewer aan ‘n hartelose werkgewer nie.

By die Vindigo wyn- en kunswinkel het ‘n middeljarige paartjie mekaar al in ‘n wurggreep beetgehad; die vroutjie se hare was ingerygde kurkproppe en die mannetjie met haarkamtande het ‘n tennisraket vasgeklem. Hul kat het gedwee langs hulle gesit. As die kurkpropharedos jou nie met die eerste oogopslag laat besef het dat dit nie die ware eienaars van die winkel is nie, sou die kniehoogte kat jou laat nadink het.

Vindigo se eienaars blyk ‘n voorliefde vir voëlverskrikkers te hê. Op ‘n stapel wynvate langs die deur lê soms ‘n rooilipdolla met haar enkels kuis oormekaar gevou; dit lyk of sy vroegdag al te veel wingerdsappies in haar glas gehad het.

Langsaan by Napier Padstal is ook meer as een voëlverskrikker wanneer dié dorp Wyn-en-Patatfees teen die middel van die jaar se kant hou. Dis ook nie net dan nie; ‘n voëlverskrikker met goue strooihare sit gereeld op ‘n rooi poskantoorfiets op die stoep en ‘n ander staan met bene stewig in kleurvolle waterstewels geplant.

Napier Padstal het, soos Vindigo Wyn- en Kunswinkel meer as een voelverskrikker

Napier Padstal het, soos Vindigo Wyn- en Kunswinkel meer as een voëlverskrikker

Die oorspronklike Patatfees se naam is daaraan te danke dat daar lank gelede met patats in die distrik geboer is. Die fees word sowat drie dekades lank gehou.

Voelverskrikkers kan ook modieus wees!

Voëlverskrikkers kan ook modieus wees!

By The Victorian Cow is ‘n fleurige voëlverskrikker met ‘n pienk sonhoed en ‘n skouersak oor haar arm soms te bespeur; ‘n ent verder af in die straat hang partykeer ‘n ou met laslappies op sy broekknieë aan ‘n posbus.

My gunsteling is by verre ‘n lang, skraal pop met ‘n gehekelde uitrusting in al die kleure van die reënboog. Deesdae roep sy jou nader voor Masala Mischief Fragrant Food Café wat in die skoenmaker van ouds se huis gesetel is.

At the Oscar's se voëlverskrikkers het die meeste aandag getrek, maar ongelukkig het die haarsalon in Napier sedertdien sy deure gesluit

At the Oscar’s se voëlverskrikkers het die meeste aandag getrek, maar ongelukkig het die haarsalon in Napier sedertdien sy deure gesluit

In 2020 gaan die oorspronklike skeppings van die haarkapper van At the Oscar’s ‘n leemte laat, want dié haarsalon het sy deure gesluit. Een van sy poppe het vantevore ‘n Chinese papierlantern waaruit talle Suid-Afrikaanse vlaggies gesteek het, as hooftooisel gehad; haar oorbelle was Kersliggies en sy het óf ‘n fakkel óf ‘n rooi roomyshorinkie in haar hand vasgehou. Langs haar was ‘n onkuise goue kaal man! Dié gewaagde voëlverskrikkers was ‘n eerste vir Napier.

Baie van die voëlverskrikkers hang sommer regdeur die jaar in die dorp rond. Dit voel of jy hulle lateraan leer ken!

Gelukkig het daar nog nie voëls in een van die permanente voëlverskrikkers nes gemaak nie; dis wat baie keer gebeur as die voëls agterkom dis ‘n dooie ding, eerder as iets wat gevaar inhou, wat daar staan.

 

                                  * * * Doenighede by die Darling Voëlverskrikkerfees * * * 

Wanneer: Vrydag, 22 November – Sondag, 1 Desember 2019.

Wat om te verwag: Al die voëlverskrikkers in 2019 beeld ‘n aspek van die Suid-Afrikaanse kultuur uit. Op Saterdagaand, 30 November, word die tradisionele voëlverskrikkerparty en ‘n veiling by The Old Forge 1910 Kroeg & Restaurant gehou. Daar is spesiale aanbiedinge by plaaslike winkels en restaurante vir die duur van die Voëlverskrikkerfees.

Lees meer: www.hellodarling.org.za/upcoming-events/ of op Darling Scarecrow Festival se Facebook-bladsy.

Leave a comment

Information

This entry was posted on July 11, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .