ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

OP DIE OEWERS VAN DIE NYL – In die spore van farao’s en vissers

First published in die Burger, late 2010

Egipte is een van die mees besoekte lande ter wêreld. In seker amper alle lande ter wêreld is daar Egiptologie-Verenigings, want orals is daar mense wat deur die Egiptiese geskiedenis en kultuur gefassineer is.

n-gesig-wat-al-geleef-het

Tot my skande is dit die enigste land waarheen ek ooit gereis het, waarvan ek bittermin vooraf geweet het en waarvoor ek nie ‘n uitgewerkte reisplan gehad het nie. Vanuit die oogpunt van besienswaardighede is Egipte maklik om te beplan; vanuit vervoer- en praktiese oorwegings is dit veel moeiliker. ‘n Gids is eintlik onontbeerlik, en dis komende van iemand wat ‘n natuurlike aversie in gidse het.

Kakofoniese Kaïro

Kaïro is ‘n malhuis. Punt. Die piramides moet gesien word. Punt. Wees voorbereid daarop dat die piramides kleiner is as wat ‘n mens verwag. Beweeg nou uit Kaïro, al langs die oewers van die Nyl af. Of wag – die Egiptiese Museum is ‘n dagbesoek indien nie langer nie, werd. Moenie Toetankamen se juweliersware en goue masker, en die Mummie-Kamer (‘n addisionele bedrag van sowat R70 is betaalbaar) misloop nie. Vergeet van Khan el Khalili Mark/Basaar – hul verkoop in elk geval meer Westerse as Egiptiese ware en die pryse is gelaai. Daarenteen het Luxor se Ou Stad lekker krapwinkeltjies.

Luxor is rustiger as Kaïro. Aswan is die rustigste. En in Esna (ook die naam van Sus Kwadraat wat saamgereis het) het tyd amper gaan stilstaan.

Dus: klim op ‘n boot, reël ‘n drywer of waag dit op die plaaslike trein en reis suidwaarts. Om met ‘n boot op die Bybelse Nyl op of af te vaar, klink romanties en na ‘n eenmaal-in-‘n-leeftyd ondervinding. Dit lyk minder romanties as jy daar kom, en as jy nie ‘n groepsdier is nie, en as tema-partytjies nie jou ding is nie, kan jy dalk besluit om die eenkeer-in-‘n-leeftyd mis te loop.

Hoe dit ook al sy, sorg dat jy in Luxor en Aswan én Esna kom.

Agatha was in Aswan

Aswan is Egipte se mees suidelike groterige dorp. Van hier strek die land van Nubia die woestyn in. Vir jare was Aswan die middelpunt van die kameel-karavaanroetes. Deesdae is Aswan by verre die mooiste Nyldorp.

Dis maklik om in Aswan self oor die weg te kom en alles is naby mekaar. Dis een van daardie plekke wat jy in elk geval alles wat jy wil sien, sommer vanself teëkom soos wat jy deur die strate dwaal. Indien jy wel vasval, is die toerisme-kantoor baie hulpvaardig en vriendelik.

Alle paaie in Aswan lei (amper) na Corniche-straat wat parallel langs die Nyl afloop. ‘n Blok weg van die Corniche begin die plaaslike mark. As jy verder agtertoe loop – wat toeriste gewoonlik nie doen nie – kom jy op die slagters en die groentemark af. Die Egiptenare hier is ongelooflik vriendelik en gee glad nie om as foto’s geneem word nie. Die lekkerste is dat jy rustig kan rondkyk sonder dat jy geboelie word om iets te koop. Dis definitief nie die geval in die res van Egipte nie en dis klaarblyklik báie erger in die winter (ons was hoogsomer daar) wat my ook laat dink het ek’t geen begeerte om dit só te ervaar nie.

Klein sypaadjie-stalletjies verkoop die helderste kobaltblou kleursel wat ek net moes hê hoewel ek nie ‘n idee gehad het wat om daarmee te doen nie. Deesdae gebruik ek dit sommer vir tafeldekor, gestrooi op ‘n silwer Egiptiese bord. Dieselfde stalletjies verkoop ook goedkoop, eksotiese speserye. Kyk uit vir saffraan. En vir vars, vet dadels. Soemak gee ‘n soetsuur smaak aan geregte. Za’atar is ‘n speserymengsel waarvan die bestanddele verskil afhangende van watter familie- resep die handelaar gebruik. Handgeblaasde Egiptiese glas is ook meestal verskillende skakerings van blou hoewel ons ook groen en af en toe purper sien.

Die kleremakers verkoop wit en neutrale kleur hemde met borduursel aan die voorkant vir spotgoedkoop. Die ou man en sy seun by wie ons inloop, is Koptiese Christene en hulle het nog die bloupers tattoe-kruis op hul polse – sodra babas vier maande oud is, word hulle getattoeëer.

Die agterstraatjies van Aswan is ‘n ware reis-belewenis – vroue halftoe in kopdoeke en jurke en mans in galabiyas in nou gangetjies met ‘n donkie wat af en toe verbyskuifel. Ons drink kharkade (hibiskustee) by ‘n plekkie met pienk houtvysels op die grond.

Ons stap in Agatha Christie se voetspore en gaan sit op die terras van die Old Cataract Hotel. Die skryfster het hier gebly toe sy Death on the Nile geskryf het; die hotel roem ook daarop dat prinses Diana hier gebly het. Dis in semi-Indiese styl gemeubileer en dis verskriklik mooi. Dit het ook die mooiste uitsig wat ‘n mens op die Nyl kan kry. Feluccas kom om die hoek geseil, Elephantine Eiland is groen, die water is blou en die plek het tipies koloniale diens. Ons drink lig verkoelde rooiwyn vernoem na die Persiese digter en filosoof, Omar Khayyam. Jy kan nie Aswan toe gaan en nié ‘n paar uur hier verwyl nie. Klim sommer op ‘n caleche vir ‘n ritjie soontoe.

Die lewe, en soms reis, gaan oor balans. In Aswan het ons vergeet van museums, obeliske en mausoleums en eerder die stegies verken, iets vir die huis gekoop en na die feluccas (Egiptiese dau’s of seilbote) gestaar.

Esna kuier in Esna

Esna is ‘n spoegie van ‘n plek. Niemand bly eintlik daar oor nie. Net sommige Nyl-bote stop vir ‘n besoek aan die Tempel van Khnum  – net die hoofsaal is oor, maar dis meer as indrukwekkend genoeg. Die plafon beeld sterretekens uit.

esna-was-in-esna

Esna is maklik om van Luxor te bereik. Ons ry met ‘n taxi in ‘n konvooi – na terroriste in 1997 toeriste afgemaai het, is sekuriteit erg verskerp. Die meeste toeriste stap direk na die tempel en dadelik terug na hul boot. Ons was die enigste mense, weliswaar in die somer, in die agterstraatjies. Die plaaslike mense kon nie vriendeliker gewees het nie. Ons kom op ‘n buurt-olyfpers af en sien ook die mooiste Koptiese kerkie.

Toe ek op ‘n stadium vir sus Esna uit die oog verloor, en ESNA! skree, het amper al die boerin-tannies naarstiglik probeer verduidelik dat ek nou ín Esna is en nie verder moes soek nie – tot ons groot vermaak natuurlik. Almal was kinderlik ingenome toe hulle besef haar naam is hulle dorp se naam.

Skuins oorkant die tempel is ‘n klein, ou karavanserai wat my dadelik fassineer hoewel min daarvan behoue gebly het. ‘n Vriendelike ou man wys ons dadelik wat binne-in is en waarvoor dit deesdae gebruik word, en hy verwag nie eers die gewone baksheesh nie.

Luxor bied baie om te sien

In Luxor is die Vallei van die Konings, die Vallei van die Koninginne, die Sfinks-Laan, die Colossi van Memnon, Koningin Hatshepsoet se amper-moderne Tempel, die Luxor Tempel en die Karnak Tempel. By die Vallei van die Konings kies jy vooraf drie graftombes as jy die ingangsfooi betaal, maar Toetankamen se Graf is apart en daar word ook ‘n aparte fooi gehef. Twee van die bestes is Seti se Graf en Ramses se Graf, maar beide was ongelukkig toe met ons besoek.

Die eerste graf wat ons sien, is dié van Toetmosis wat minder versier is as die res, maar wat uiters goed versteek is; sterre teen die dak het en uit verskeie vertrekke bestaan. Die klim na die graf is met steil trappe en ons wonder hoe die farao’s se werkers daar uitgekom het. Toetankamen se graf is in 1922 ontdek en hy dra ‘n soliede goue masker. In ‘n prins se graf sien ons die geraamtetjie van ‘n fetus in ‘n glaskas. Ons kry die indruk dat hier rond dalk nog honderde onontdekte grafte kan wees.

Teen hierdie tyd het ons al meer oor Egipte opgelees en ons herken van die hieroglief-simbole. Hathor is die koei-godin van kreatiwiteit en musikaliteit. Die sykante van die grafte het geverfde oë sodat die dooie steeds kan uitsien.  Die lotusblom en papyrus beeld die twee dele van die destydse Egiptiese Koninkryk uit.

Die deel waardeur jy ry voor jy die Vallei van die Konings bereik, word Goerna genoem. Van die mense se huise is letterlik op graftombes gebou en hulle klim deur die vloere van hul huise en loop in die ondergrondse gangetjies na die graftombes. Dis ook hoe baie skatte in die verlede verdwyn het.

Die Lig en Klank Vertoning by die Karnak Tempel is ietwat lank en uitgerek, maar tog leer jy baie en is dit ‘n aangename manier om die aand te spandeer. Elke koning het sy eie stempel op die Karnak Tempel probeer afdruk. So is die graniet-obeliske kenmerkend van  koningin Hatshepsoet se tydperk. Beide die Oos- en Wes-Bank is ‘n besoek werd.

Tussen al die geskiedenis en kultuur deur kan jy iets kouds op Ali Baba se dakterras gaan drink. Dis so warm dat ons gou weer na iets koels soek. Hierdie keer gaan ons na die Kings Head wat Brits voel, ‘n reggae-tema het en wat baie trots op hul Bob Marley-muur is.

Die volgende aand kan jy op met sonsondergang op ‘n felucca seil. Vanaf die felucca sien jy die kleinboere en hoe hulle lappies land bewerk asook hoe die vissermanne op die water slaan om visse in hul nette te jaag. Na die tyd drink ons iets op die terras van die Winter Palace, ‘n semi-verwaarloosde koloniale hotel waar rooi fluweel mildelik gebruik, en nou verbleik, is.

Die toeriste-souk vind ons oninspirerend en die mense redelik onbeskof. In stiller straatjies koop ons fyn parfuumbotteltjies in die vorm van teepotjies en bont materiaal wat eintlik gebruik word om bouwerk af te sper.

Ons staar verstom toe ‘n polisieman en ‘n krimineel  vasgeboei aan hul polse op dieselfde minibus-taxi as ons klim. Hulle is oppad tronk toe, die een so rustig soos die ander, en niemand anders in die taxi dink dis ongewoon nie. As ons dit nog nie agtergekom het nie, weet ons nou verseker ons is nie in ons eie land nie!

VOOR JY GAAN:

Lees Death on the Nile deur Agatha Christie

Lees meer oor die geskiedenis van Antieke Egipte

TERWYL JY DAAR IS:

ASWAN

Koop hemde by die plaaslike kleremakers; gekleurde glas; en as jy bereid is om vir oorgewig bagasie te betaal, swaar ornamentele katte

Ontdek ongewone speserye soos saffraan, soemak en za’atar

Moenie die Old Cataract Hotel misloop nie

ESNA

Verken die agterstraatjies

Loer hoe ‘n regte karavanserai gelyk het

LUXOR

Eet middagete by Toetankamen Restaurant op die Wes-Bank waar die argeoloë gewoonlik eet

Besoek élke geskiedkundige besienswaardigheid

 VOOR JY TERUGVLIEG

Bederf jouself met roomys of iets te drinke by die Mena Oberoi naby die piramides. Verkyk jouself aan die Indiese kandelare en die dekor in die algemeen.

NA JY TERUGGEKOM HET

Sluit by ‘n Egiptologie-Vereniging aan.

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 1, 2017 by in Afrika.