ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Tikkie Asië in Bronkhorstspruit

First published in Rapport, January 2017

Vier die Chinese Nuwejaar

Krulletjies en draaitjies, puntjies en hoekies

Krulletjies en draaitjies, puntjies en hoekies

Die groepie Voortrekkers wat hulself in 1858 in die omgewing van Bronkhorstspruit, toe bekend as Kalkoenkransrivier, gevestig het, tol seker in hul grafte by die (nadoodse) gedagte aan die grootste Boeddhistiese tempel in die suidelike halfrond wat hier opgerig is.

Die Nan Hua Tempel met sy eie kweekskool – in Cultura Park, Bronkhorstspruit – huisves die Afrika-hoofkwartiere van die Humanistiese Boeddhistiese Orde genaamd Fo Guang Shan (dit beteken Boeddha se Berg van Lig).

Hulle glo in vyf gebooie wat onderhou moet word: jy moet jouself weerhou daarvan om enigiets dood te maak, om te steel, om jouself skuldig aan seksuele wangedrag te maak, om roekeloos te praat of om bedwelmende middels van enige aard te gebruik.

Dit voel asof 'n mens in die Verre Ooste is, maar dis in Bronkhorstspruit

Jou asem word keer op keer weggeslaan as jy die tempelkompleks verken

Jou asem word keer op keer weggeslaan as jy die tempelkompleks verken

In die vroeë negentigerjare het die stadsraad van Bronkhorstspruit grond geskenk waar die Nan Hua Tempel ontwikkel kon word.Na die planne opgetrek is, het konstruksiewerk in Oktober 1992 begin. 95% van die boumateriaal is plaaslik bekom.

Die rooi houtmeubels, geglasuurde kleidakteëls en ornamente is vanaf Taiwan ingevoer. Graniet en brons versieringe soos die groot bronsklok kom van China. Taiwanese kunstenaars is ingevlieg om die muurskilderye te kom doen.

Die tempelkompleks is sowat 50 kilometer vanaf Pretoria en 70 kilometer van Johannesburg. Dis na genoeg aan die O.R. Tambo-lughawe, maar ver genoeg van die gewoel van die stadslewe.

As jy voor die ingang parkeer, voel dit reeds of jou brein bollemakiesie slaan. Die dak van die ingangspagoda en tempelgeboue krul na bo, daar is reuse beelde wat na draakagtige leeus lyk en kleurvolle beskilderde houtpanele langs goue Chinese letters en in die middel van die tempelplein staan ‘n   boepenspot op ‘n staander met sy eie pagodadakkie.

Muurskilderye beeld sari-gedrapeerde vroue met tiara’s wat bid of offerandes bring en kaalkopmonnike in saffraanklede – een met vlegseltjiewenkbroue – uit.

Een-dag- of multi-dag meditasie-kursusse – wat hul retreat experiences noem – word vir beginners en vir diegene wat meer gevorderd is, aangebied. Meditasietegnieke wat jy hier leer, kan in die alledaagse lewe toegepas word.

Op Oujaarsaand – 31 Desember 2016 – is daar om middernag ‘n vuurwerk-en-lanternvertoning. Die lanterns is in die vorm van die twaalf diere van die Chinese Diereriem.

Die Chinese Nuwejaar word gevier met tromspel, draakdanse, tradisionele ‘leeu’-danse, Oosterse stalletjies, demonstrasies van akupunktuur, kalligrafie en origami, gevegskuns, tradisionele teeseremonies, Indiese (en ander) danse en selfs trompoppies. Om nie van die vuurwerke te praat nie.

Sjuut, dit herinner aan 'n teepot

Sjuut, dit herinner aan ‘n teepot

Tree vir tree bestyg jy die ingang van die tempel

Tree vir tree bestyg jy die ingang van die tempel

By die goue wensboom kan jy jou wense op ‘n lint skryf. Aan die lint is ‘n muntstuk vasgemaak. Volgens Chinese tradisie moet jy die lint met jou wens in die boom gooi sonder dat dit val om jou wens te laat waar word.

Op die Chinese Nuwejaar is dit tradisie om ‘n groot klok te lui. Dit bring goeie geluk en verjaag alle slegte geluk.

In 2017 val die Chinese Nuwejaar op 28 Januarie. Dit is die Jaar van die Hoenderhaan wat beteken dat baie van die versierings – soos lanterns, stringe vlaggies en uitgeknipte papierfiguurtjies – met prentjies van hoenderhane sal spog.

Die Nan Hua Tempel is ‘n nie-winsgewende organisasie. Alle tempeltoere is gratis. As jy in Oosterse argitektuur of fotografie belangstel, gaan jy jouself absoluut verlustig.

Die Nan Hua Tempel is toe op Maandae. Op Dinsdae tot Sondae is die tempel van 9h00 tot 17h00 oop. Toegang is gratis. Op Sondae word ‘n vegetariese middagete teen R30 per persoon tussen 12h00-12h30 bedien. Hulle is in Nan Huastraat 27, Cultura Park, Bronkhorstspruit geleë.

Skakel 013 931 0009 vir meer inligting, e-pos info@nanhua.co.za of besoek http://en.nanhuatemple.org/

Loer na hul Facebook-bladsy vir ‘n verskeidenheid verrigtinge wat regdeur die jaar aangebied word:

https://web.facebook.com/Nan-Hua-Temple-153505004742726/

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 22, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .