ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die siel van ‘n frankofiel

First published in Rapport, September 2021

‘n Gedeelte van die tuine en langwerpige poel by Chateau du Tertre

Streng gesproke is ‘n chateau ‘n Middeleeuse kasteel, ‘n herehuis wat aan ‘n kasteel herinner en waarin die adel gewoon het, of ‘n groot wynlandgoed in Frankryk.

Die oorspronklike chateaus (in Frans is die enkelvoud château en die meervoud chateaux) is in die dertiende en veertiende eeu as fortifikasies vir verdediging gebou. Binne dié kastele of chateaus was grootgrondbesitters in beheer van feodale gemeenskappe wat daar gewoon het.

‘n Chateau wat ietwat verweer is, het ‘n ekstra sjarme en aantrekkingskrag

Dié kasteelforte is gewoonlik, ter wille van veiligheid, op heuwels, veral bokant riviervalleie, opgerig; die kasteelmure was dik, die vensters klein en daar was wagtorings op die kasteelmure (parapets). Baie chateaus het ook met ‘n grag en valbrug gespog.

Jy gaan dalk nie meer ‘n grag of valbrug by ‘n chateau sien nie, maar in die kelders is die nuutste tegnologie sigbaar

Teen die vyftiende eeu toe daar meer handel plaasgevind en meer geld in omloop was, is die ontwerp van chateaus steeds deur die Middeleeuse weergawes, maar ook deur Italiaanse villastyle geïnspireer.  

Gedurende die Renaissance-tydperk waartydens kuns en letterkunde in Europa ‘n herlewing ondergaan het, het chateaus soos paddastoele in Frankryk opgeskiet.

Die eerste aanblik van Chateau de Myrat

Dié chateaus was as luukse wonings bestem; die mure was nie meer so dik nie en gragte en valbrûe het al hoe minder voorgekom. Nuwe elegante bouneigings het kombuise in die kelderverdiepings, biblioteke en musiekkamers ingesluit.

Arbeid adel

‘n Vinnige Google-soektog lewer op dat daar meer as 40 000 chateaus – van wynlandgoedere tot privaatwonings – in Frankryk is; hulle wissel natuurlik in grootte en baie verg dringende restourasiewerk.

Chateau du Myrat word deur twee susters bestuur

‘n Verdere soektog na Franse chateaus wat op die mark is, kom met meer as 44 miljoen trefslae na minder as ‘n minuut op.

Veral die kleiner chateaus wat te koop is, blyk met die eerste oogopslag selfs vir Suid-Afrikaners bekostigbaar te wees.

Chateaus word gereeld aan buitelanders verkoop omdat die Franse oor die algemeen verkies om hul eie huise, veral in die platteland, te bou. Dit help dat dit nie moeilik is om toestemming van die owerhede te verkry om jou eie plekkie op te rig nie.

Drome loop op olie

Dis nie ongewoon nie om op ‘n chateau af te kom wat leeg staan – en boonop te koop is.

Voor die sterre egter in jou oë begin vonkel, moet jy bestekopname doen: Is die dak heel? Is daar elektrisiteit en lopende water? Hoe lyk die vloere? Is daar enige verhittingstelsel? Werk die toilette? Wat van die trappe?

Dis by verre nie al wat jy jouself moet afvra nie. Dink ook aan: Hoeveel Frans is jy magtig? Wie gaan ‘n ogie oor die restourasiewerk hou terwyl julle nie daar is nie?   

Laastens: Wat gaan dit jou kos om jou chateau te onderhou?!

Volgens www.thechateaudiaries.com is die grootste enkele uitgawe vir hul 40-kamer chateau hul elektrisiteitsrekening: 1210 euro per maand. Ander maandelikse uitgawes sluit in 376 euro vir huisversekering en twee tipes belasting, huiseienaarbelasting teen 270 euro en ‘n soort munisipale belasting teen 159 euro.

Die maandelikse uitgawes van ‘n chateau strek baie, BAIE verder as net kos en wyn

Hul totale uitgawes waar dit die Chateau de Lalande aangaan (algemene lewenskoste is nog nie bygereken nie) beloop 2303 euro per maand. Dit sluit egter nie onderhoud, personeelkoste of ‘n verbandlening in nie!

As jy soos Stephanie Jarvis van Chateau de Lalande ‘n droom koester om jou eie chateau te besit, sal hierdie bedrae jou heel moontlik twee keer of meer laat dink. Sy het egter deurgedruk en in 2004, op die ouderdom van 29, haar droom bewaarheid deur haar eie chateau in die hartjie van Frankryk te koop.

                                         ***

Chateaus in Bordeaux waar jy Je t’aime sal fluister

Maak liefs ‘n afspraak as jy ‘n chateau-wynkelder wil besoek

Om die meer bekende wynchateaus in Bordeaux te besoek, beteken meestal dat jy vooraf ‘n afspraak moet maak. Almal is egter nie oop vir besoekers nie en ander is net oop vir BBP (Baie Belangrike Persone).

Château Soutard

Château Soutard (www.chateau-soutard.com) is etlike honderd meter vanaf die kloktoring van die pragtige dorpie Saint-Emilion geleë. Dit is een van die grootste en mees imposante chateaus in die distrik.

Chateau Soutard dateer letterlik uit eeue en eeue gelede

Die eerste keer wat daar van Château Soutard melding gemaak is, was in 1513. Dit was vóór wingerd aangeplant is; toe is op die plaas geboer en daar was ook ‘n meul. 

In 1699 is die landgoed deur Jean Couture gekoop; sy dogter, Marie, het die kasteel in 1741 laat bou.

Vanaf 1890 tot 2006 was Château Soutard in die besit van dieselfde familie, die De Bogerons. In 2006 is dié wynlandgoed deur ‘n prominente Franse versekeringsmaatskappy oorgekoop.

Château Soutard is bekend as een van die eerste chateaus waar wingerde in rye geplant is.

Die uitgestrekte binnehof van Château Soutard is ontdaan van enigiets wat jou aandag kan aftrek van die growwe keistene en die reëlmaat van die vensters van die kasteel. In die kelder word daar onder die gloed van kristalkandelare aan vate getimmer. Hul wynproe word ewe dramaties in ‘n skemer vertrek aangebied; die kleur van die wyn in jou glas kontrasteer met ‘n enkele verligte tafel.

Château du Tertre

Die oorspronklike landgoed waar Château du Tertre (www.chateaudutertre.fr) vandag lê, dateer uit 1143.

Die eerste aanblik van Chateau du Tertre

Château du Tertre het al verskeie eienaars gehad waaronder Pierre Mitchell, ‘n glasblaser van Bordeaux, wat in die 1700’s die jeroboam-bottel geskep het.

‘n Wandeling deur die tuin van Chateau du Tertre is hoogs aanbevole

Benewens ‘n wandeling deur die wingerde kan jy ook die tuinlushof verken. In die tuin sowel as in die omliggende woud is beeldhouwerke lukraak geplaas. Moet ook nie nalaat nie om ‘n draai by die swembad – met ‘n beeld van ‘n naakte vrou wat haarself aan haar hande in die vlak kant opstoot – te gooi.

Een van die treffende beeldhouwerke in Chateau du Tertre se tuin

Château de Myrat

Château de Myrat (www.chateaudemyrat.fr) dateer uit die 1700’s. Die De Pontac-familie aan wie dit tans behoort, is egter al meer as 400 jaar in die wynbedryf in Bordeaux betrokke. Twee susters, Slanie en Elisabeth de Pontac, is aan beheer van sake by Château de Myrat.

Jy kan nie Frankryk besoek sonder om deur hul chateau-kelders te draal nie

Die naam van dié wynlandgoed is ontleen aan die naam van die Demerit-familie wat die huidige chateau in 1730 laat oprig het.

Chateau de Myrat is bekend vir Sauternes, ‘n absolute smaaksensasie

Château de Myrat is bekend vir Sauternes, die beroemde Franse dessertwyn uit Bordeaux.

 ‘n Besoek laat jou sommer onmiddellik tuis voel: die De Pontac-susters kom groet vriendelik by die hek, in die agtertuin skrop-skrop kalkoene en as dit by die proe kom, word daar ruimskoots geskink.

                                                     ***

Frankryk gooi hul poorte oop vir Suid-Afrikaners


Op 5 Augustus 2021 het Air France aangekondig dat die Franse regering reisbeperkings teen volledig ingeënte Suid-Afrikaners verslap het. Dit beteken dat Suid-Afrikaners nie ‘n Covid-toets met hul aankoms in of vertrek van Frankryk hoef te ondergaan nie; kwarantyn word ook nie vereis nie.

Hou egter die volgende in gedagte:

  • Jou oorspronklike inentingskaart moet ten alle tye byderhand wees. Voor jy aanboord gaan, moet jy dit wys sowel as by die meeste plekke wat jy in Frankryk gaan besoek.
  • Sedert 1 Augustus 2021 gebruik Frankryk die pass sanitaire (gesondheidspaspoort). Slegs Europeërs kwalifiseer hiervoor; dis deels waarom jy jou inentingskaart op jou moet dra.
  • Die volgende inentings word in Frankryk aanvaar: Pfizer/Comirnaty, Moderna, AstraZeneca/Vaxzevria/Covishield en Janssen.
  • Besoekergetalle by museums, restaurante en besienswaardighede word steeds beperk. Bespreek dus vooraf aanlyn; ook huurmotors en treinkaartjies.
  • Die dra van maskers binnenshuis insluitende op openbare vervoer is steeds verpligtend.
  • ‘n Negatiewe covidtoets, binne minder as 72 uur voor jy na SA terugvlieg, word steeds vereis, ongeag of jy ingeënt is of nie.

                                             ***

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 7, 2022 by in Europa.