ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Zirts uit die stad

First published in Die Burger, March 2013

Ons raak so gou vasgevang in ons roetine; in spitsverkeer en alledaagse slommernisse. Dis nie nodig om sak en pak vir ‘n naweek weg te gaan nie – binne ‘n radius van 45 minute vanaf Kaapstad is daar verskeie plekkies van verskillende aard wat jou sal laat voel asof jou batterye herlaai is en jy weer kans sien om die komende week aan te pak.

Mooie Majeka

By Majeka word jou siel gevoed en jou innerlike versterk. Om deur soveel móóí omring te word, laat die komende week se sleurgang wat wag, soos mis voor die son verdwyn. Hier heers styl – met ‘n hoofletter gespel – en onverwagte speelse detail wat skalkse glimlagte ontlok.

Die ultra-sjiek kroeg is gebaai in blou lig; op ‘n sytafeltjie staan ‘n goue vark; een muur is geklee in boeke en ‘n vleuelklavier nooi jou uit om die klawers te streel. ‘n Blomvaas sit met uitgestrekte popbeentjies op ‘n ronde, blou tafeltjie; vanaf die muur loer ‘n Sweedse takbok met blommetjie-horings na ‘n seilskip.

By Makaron Restaurant word gaste op die hande gedra. Hier spog hulle met ‘n verbeeldingryke spyskaart – dis dus geen wonder dat Makaron as een van die top twintig restaurante in Suid-Afrika gereken word nie.

So gelukkig soos 'n vark in Palestina

So gelukkig soos ‘n vark in Palestina

Met die uitstap kon dit my verbeelding gewees het, maar ek kon sweer die goue vark het vorentoe geskuifel om aan die agapantusse te ruik.

 Kronkelend langs die see

Soms bied die reis na êrens, meer as die eindbestemming – so lui ‘n ou spreekwoord. Of jy nou in Rooi-Els, Hangklip of Pringlebaai opeindig, is nie van belang nie. Die steil kuspad vanaf Gordonsbaai na hierdie drie kusdorpe is ‘n belewenis opsigself.

Kuier saam met die bobbejane by die Hangklip Hotel

Kuier saam met die bobbejane by die Hangklip Hotel

Volg die R44 uit Gordonsbaai teen ‘n stadige pas sodat jou oë kan feesvier – aan die linkerkant is verskeie pilaarhuise vir diegene wat nie aan hoogtevrees lei nie. Aan die regterkant kyk jy oor die hele Valsbaai tot doer ver na Simonstad en Kaappunt.

Loer weerskante oor die bruggie na die Steenbrasrivier – aan die een kant breek die branders; aan die ander kant herinner dit meer aan ‘n rotspoel. Kyk of jy ‘n kaalbaaier by Kogelbaai raaksien of beskou die manewales van die branderplankryers. By Manganees dobber die kreefduikers se boeie in die water. By Klippertjies is daar swemplek vir Jan Alleman.

As jy mooi kyk, sien jy robbe hang onderstebo in die water sodat net hul vinnetjies uitsteek; walvisse baljaar in seisoentyd.

  • Die afstand van Gordonsbaai na Rooi-Els is 21.2 kilometer. Dit neem 25 minute as jy nie draal nie; maar dit is juis wat jy moet doen om die natuurskoon en uitsig te waardeer. Daar is verskeie aftrekplekkies van waar jy oor die baai kan uitkyk.

Maak kennis met ‘n kameel

A camel shouting

Kameel se kind

Op ‘n mooiweersdag is dit altyd lekker om sommer net buite te wees, te voel hoe die son jou vel streel en iets geurigs te nuttig.

By Imhoff Farm naby Kommetjie is drie langwimperkamele, krapwinkeltjies, kuns, ‘n plaasstal wat jou laat voel of jy aan als wil smul, ‘n kruiekwekery en ‘n gesigsverfkunstenaar. By die Higgeldy Piggeldy Plaaswerf kan jy (of jou spruite) varke-met-kolle, skape, ganse, hoenders en malmokke  troetel. Langsaan sit hordes stadsjafels graag aan by die Blue Water Cafe.

Perderitte op Noordhoek-strand kan ook by Imhoff georganiseer word.

Eet vis en tjips terwyl jy jou vingers aflek

DSC_1240

As jy nog nie by Kalky’s was nie, is jy nie ‘n Kapenaar nie

Die geroesemoes van ‘n hawe skep keer op keer ‘n sekere opwinding. Om vis en tjips sommer so met jou vingers te eet, dan vingers af te lek voor jy die res aanpak, laat jou jou jeug herleef.

DSC_1279

Om op Kalkbaai-hawe te eet, beteken jy kan die atmosfeer van die hawe beleef

Sit aan by Kalkbaai se hawetjie met die bote wat neffens jou wieg, druk af en toe vingers in die ore vir die gekruide taal op die kaai en dink terug aan kusvakansies uit jou kinderdae.

Na jy jou “visgraatbolle” (soos Peter Snyders dit so gepas in “Ek is oek important”, sy gedig oor die straatveër, gestel het) weggegooi het, verkas na die kleurvolle aantrekhokkies op Kalkbaai se strand met sy eie getypoel. Daar is seker nie ‘n Kapenaar wat nog nie ‘n poskaart van hierdie ikoniese houthokkies met hul spits dakkies vasgehou het nie. Loop kaalvoet in die sand terwyl jy na die geel, groen, rooi en blou van naderby kyk.

Braai is koning in Suid-Afrika

Mzoli’s se deure – by wyse van spreke aangesien jy eintlik so half buite sit – het in 2003 oopgemaak en sedertdien het derduisende mense al hier kom proe hoe braaivleis nou eintlik moet smaak.

As jy nog nie hier was nie, is dit dalk net die ding om jou saai voorstedelike lewe op te kikker. En te laat voel dat jy pens en pootjies deel van Suid-Afrika is.

There is no shortage of enthusiasm amongst the Mzoli braaiers

Nou gaat ons braai!

Pak ‘n bord, messegoed, jou eie wyn as jy ‘n spesifieke voorkeur het (of koop sommer daar bier) en dalk ‘n slaaidingetjie in en begeef jouself na Gugulethu. Sorg dat jy vroeg daar is sodat jy verseker van sitplek by ‘n tafel kan wees. Kies jou eie snit vleis by die slagterstoonbank en word deel van die skare.

Three whities from Paarl having a ball at Mzoli's

Groot pret en ‘n nuwe ondervinding by Mzoli’s

Teen laatmiddag word daar gedans dat die sinkplate rittel. Hier word gelééf, want môre- of oormôre-oggend moet daar – soos deur ons almal – vroeg opgestaan word om verder te swoeg.

 

2 comments on “Zirts uit die stad

  1. Toortsie
    June 14, 2019

    Baie oulik.

  2. ilsez
    June 26, 2021

    Dankie, Toortsie! Hier kom ek nou eers op jou opmerking af op ‘n admindag.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 14, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .