ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

VERLOOR JOU HART, BELÊ IN ‘N ERFSTUK

First published in Die Burger, April 2013

Verloor jou hart

Twee handgekerfde Malawi-stoele, ‘n blourooigroengeel kindertuinbankie en rottanggemakstoele begroet jou voor Piér Rabe Antiques & Art by Bosman’s Crossing in Stellenbosch.

‘n Bloedrooi Strijdom van der Merwe-installasie gooi skadu’s teen die loodgrys muur. Van buite modern, van binne volgepak en opgestapel met riempiestoele, ‘n hemelbed, ‘n geborduurde alfabet in ‘n raam, ‘n kunstenaarsesel, blink koperware, swaar hangkaste – die lys gaan aan en aan.

Die Kaap is weer Hollands

Piér en Jo-Marie Rabe dryf al vir 25 jaar handel in veral Kaapse meubels.  Behalwe vir Kaapse meubels, is die egpaar spesialiste in koperware, Boere-Oorlog memorabilia, Kaapse kombuis-implemente en 20-eeuse Suid-Afrikaanse keramiek van die Linnware- en Kalahari-ateljees.

Piér is al van kleins af ‘n kranige versamelaar, vertel Jo-Marie. Hul eerste winkeltjie was in Andringastraat, Stellenbosch. Sy het die piepklein winkeltjie beman, terwyl Piér in die platteland op soek na oudhede rondgery het. Net soms was iets dadelik te koop, maar meestal moes hy wag vir wat hy graag wou koop.

Aan geduld ontbreek dit Piér glad nie. Vir n pragtige ou sederhout Bybel-lessenaar het hy amper 25 jaar gewag. Jo-Marie vertel lustig verder: “So vyf jaar gelede kry ons ‘n oproep van die ou tannetjie wat sê: Meneer Rabe, jy kan nou maar daai ou Bybelkassie kom koopl. Ek gaan ouetehuis toe en die kinders stel nie belang nie.”

Sewe jaar gelede was die Rabes op soek na stoorplek om te huur. Toevallig wys die agent vir Jo-Marie ‘n ou brandewynverouderingskelder wat te koop was. Terstond koop Jo-Marie die gebou wat huidiglik hul perseel is; en bel toe vir Piér om hom te laat weet wat sy gedoen het.

Sy onthou asof dit gister was: “Ek sal nooit die oomblik vergeet toe hy die swaar industriële deure met moeite oopbeur en die lig van agter af die skemer effe steur nie. Dit was n katedraal. ‘n Duisend duiwe het ‘n mantra gechant en op die ou sagte sementvloer was ‘n 30 cm laag duiwestront. Die geheue van die plek het deur my neus gekom.”

Elke besoek aan hierdie ou kelder verg drie of vier keer se deurloop, weer kyk, iets nuuts sien.  Hoepelbeslaande vaatjies, mooi ou lere, ‘n hangwiegie van rottang, ‘n skeepsklok. ‘n Mens raak sommer lus om nog ‘n huis te koop net sodat jy van vooraf kan meubileer.

Ontwerperstoele met skoenlappers

Tussen al die Kaapse meubels en oudhede word Janri Bruwer, Jo-Marie se kreatiewe suster, se herwinde stoele uitgestal. Janri is ‘n groot voorstander van herwin en hergebruik – sy het selfs al lawwe hoede met stukkende eierdoppe, plastiekvrugte en pouvere gemaak. Negentig persent van die lap waarmee sy die stoele stoffeer, is ook herwin. Sy applikeer inspirerende motiewe soos skoenlappers, blomme, harte en die son op die stoffeermateriaal.

Elke stoel is volkome individueel. Janri het met die projek begin toe sy betrokke was by ‘n kunsuitstalling waar verskeie kunstenaars gevra is om funksionele kunswerk uit herwinmateriaal te skep.

‘n Stoel met toonlere

Terwyl ek so by myselwers dink in watter hoekie in my huis ek een van Janré se stoele gaan neersit, val nog ‘n stoel my op. ‘n Harpstoel! Ek’t nog nooit so-iets gesien nie. Hoe funksioneel dit is, weet ek ook nie. Ek gee nie regtig om nie. Vandag koop ek so wrintie twee stoele!

Jo-Marie vertel my so bietjie meer van die Harp-Stoel – soos die stoel toe wel offisieel heet. Dit is oorspronklik handgemaak deur Jorgen Hovelskov in Kopenhagen. Hovelskov het die stoel Wiking-skip genoem – die media het dit na Harp-Stoel herdoop.

Hovelskov het ook ‘n eetkamertafel, eetkamerstoele en ‘n koffietafel wat aan harpe herinner, ontwerp. Ongelukkig is hierdie ontwerpe nooit kommersieel vervaardig nie. Niemand weet waar hy die inspirasie vir hierdie unieke ontwerpe vandaan gekry het nie.

Kekkelend van lekkerte

Jare gelede het ek in ‘n glanstydskrif van Fanozi Chickenman Mkhize (1959 -1995)  se kuns gelees. Dit was ‘n mengsel van padtekens, beeldhouwerk en skilderye  waarmee hy die wêreld om hom wou uitbeeld. Hier staan wraggies een van Mkhize se padtekens: Beware of the Dogs. Ek kyk skelmpies of my naam nie dalk agterop staan nie – ek wil al só lank so bitter graag een van hierdie hê.

Terstond pluk ek my kredietkaart uit en reël dat twee stoele by my afgelewer moet word. My padteken ry saam met my op die voorste sitplek.

·        Kies jou eie stoele (of ander meubelstukke/kunswerke) by www.pierrabe.co.za
·        Leer meer van die Harp-Stoel by http://www.arenskjold.com/itemdetails.php?id=159155
·        Lees oor Chickenman en sy werke by http://www.tatham.org.za/chickenman-mkhize.html

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 27, 2018 by in 'n Titseltjie dekor / A touch of decor and tagged .