ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Woodstock: Die wille kind word ordentlik

First published in Die Burger, September 2012

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

LANKAL NIE MEER (NET) WILLE WOODSTOCK

Tussen ‘n paar afgeleefde geboue in die buurt pryk ‘n boergonjerooi boetiek-inkopiesentrumpie. The Bromwell in Albertstraat dateer uit 1927.Toe was dit ‘n hotel, op ‘n stadium ‘n bordeel, en nog ‘n ruk later sommer net ‘n veiligheidsrisiko. Tot ‘n visioenêre familie ingetree het.

Dis hoe The Bromwell met sy baldadige kleur, sy rooi tapyt a lá Hollywood op die sypaadjie, en die glimmende leeu met sy geligte poot bokant die voordeur verrys het. Met veilige parkering, bygesê. Iets wat nog steeds nodig – hoewel minder as voorheen – in Woodstock is.

Skop jou onderrok uit

Eintlik is The Bromwell ‘n statige ou dame. Met ‘n frillerige onderrok wat uitklok en ‘n borsgleufie wat ietwat voorbarig gewys word. Asof een van die kwaadkatte uit haar bordeeldae nog af en toe naels wys. Net genoeg om jou na binne te lok en dan met gesotisfikeerdheid te verras.

Waar kan jy nog ‘n rooi tapyt betree? Al is dit sonder die flitsende kamera’s van die paparazzi. Net duskant die rooi tapyt is die hotel-ontvangstoonbank nog in gebruik. ‘n Sjarmante dametjie groet jou asof jy inderdaad van Hollywood-stoffasie is.

By Bread – ‘n koffiekafee, deli en boulangerie op straatvlak – word daagliks ‘n verskeidenheid vars brode in klei-oonde gebak. Rooi-fluweelkolwyntjies is (amper) te mooi om te eet. Skemerkelkies word sommer lank voor die son sak, bedien. Jy kan 89 van jou vriende vir jou volgende verjaardag nooi, want hier’s sitplek vir 90 skemerkelkie-drinkers. Moenie vergeet om vooraf aan te kondig dat elkeen vir sy eie rekening verantwoordelik is nie.

DSC_0253

Op met die ou hoteltrappe. Op die eerste verdieping is sestien klein, konseptuele winkeltjies soos wat daarna in die glansbrosjure verwys word. Hier kry jy iets unieks of skoene wat voet-fetijiste sal lam maak; artefakte en skilderye van Mandela en die Dalai Lama; gestoffeerde stoele en bonkige juweliersware; skaars boeke oor skeepswrakke en verskeie items wat jy sommer net vir die mooi in jou huis wil uitstal. Dan’s daar nog antiekmeubels, kleibeeldhouwerk, keramiek en handsakke wat die paparazzi sal laat wonder wie jy nou eintlik is.

‘n Kêffie oppie hoek

Van die Bromwell is dit net meer as ‘n paar treë na Superette. As ‘n groepie skarmunkels by die sjebien waar jy moet verbyloop, marakkas wil maak, kan jy oor jou skouer na die deurwag op die rooi tapyt roep.

Die konsep van Superette  is die konsep van ‘n hoekkafee soos waarmee baie van ons grootgeword het. Die hoekkafee-konsep word losweg toegepas, want hier is die vloere blink; hier kan jy aansit; hier is die rakke nie tot barstens toe vol nie, maar eerder stylvol gespasieer. Ethiopiese koffie word bedien en daar is vars heuningkoeke te koop.

‘n Franse negosiewinkel

Uit die balkonplafon hang die ou naambord van Albert Hall. Deesdae word Haute Antiques hier gehuisves. In die week moet jy maar tevrede wees om na die propvol negosiewinkelvensters te kyk, want Gilles de Moyencourt is slegs op Saterdae van 10 tot 2 hier.  Gaan snuffel tussen die rendierhorings, verniste seeskilpad, rusbank gestoffeer met ‘n hekelkombers, reddingsboei, en Coke-yskas.

DSC_0265

Gaan maar volgende Saterdag weer, want jy kan onmoontlik nie alles met een besoek raakgesien kry nie. Ongelukkig word Jou Ma se Comedy Club van Kurt Schoonraad  nie meer hier in die agterste kuierkamer met die potsierlike kroegstoeltjies aangebied nie.

n-grammofoonspeler-op-n-tafel-met-lang-slanke-bene.jpg

Wat koop jy vir iemand wat reeds alles het? Of vir die spesiale iemand in jou lewe wat jy graag met iets ongewoons wil bederf. By Leonard Crate is daar We-wood-houthorlosies (beskikbaar in groen, bruin, beige of swart) of houtsonbrille met Carl Zeiss-lense.

Muurpapier met ‘n verskil

n-rendier-vasgevang-in-n-bloeiseltak-by-wall-art.jpg

By die Wall Art-ateljee lok die vrolike blomme wat op die winkelvenster groei, jou na binne. Teen die muur hang Victoriaanse voëltjiekoue en ‘n swart kat loer oor ‘n muurrakkie na die vloer. Amper alles wat jy hier sien, is muurplakkers. Bestel ‘n renoster wat blom, ‘n wêreld van woorde in die vorm van ‘n kaart, ‘n tak bloeisels met skoenlappers, ‘n kremetartboom of Bob Marley se gesig. By Kitch Inc – wat vloerspasie met Wall Art deel – is die ergonomies-ontwerpte kombuise allesbehalwe kitsch.

In Woodstock hoor jy deesdae selde die geskreeu van “jou ma se dinges”. Ignoreer die paar lieplappers wat nog op die sypaadjies rondhang en ‘n petrolkop of twee, drie wat soms nog verbyjaag. Woodstock is nie meer net ‘n kief uithangplek onder studente en hippies nie; Woodstock is nie meer net die Kaapse wille kind nie; Woodstock  – en nie net in die omgewing van Dublinstraat  nie – is aan’t transformeer.

SOHETD~1

 

WAARVOOR JY IN WOODSTOCK MOET UITKYK:
·        Loop deur The Bromwell met die virtuele toer by www.thebromwell.co.za of doen dit met dapper en stapper by Albertstraat 250, Woodstock.
·        Kyk na Bread se spyskaart by www.breadcafe.co.za
·        Kyk veral na die foto’s – en snak na jou asem – by http://www.superette.co.za
·        Oor ‘n paar maande  – die webwerf is tans nog in wording – sal jy hout-sonbrille en -horlosies by www.leonardcrate.co.za kan bestel; tot dan moet jy by Albertstraat 208 gaan inloer.
·        Bestel muurkuns by www.wallartstudios.co.za of besoek die toonkamer by Albertstraat 206.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 23, 2017 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged .